VLOEDRAMP TREF VRYSTAAT, NOORD-KAAP
Die landbou in die Vrystaat en Noord-Kaap lek sy wonde ná die ergste vloedramp in menseheugenis in dele van dié gebied. Die vloed het ’n somber toneel van verwoesting agtergelaat — ’n verlies aan menselewens, verwoeste plaasgrond, vermiste vee en werktuie en verpletterde boere.
Volgens ’n woordvoerder van die departement van waterwese was die skade langs ten minste die Benede-Oranjerivier beslis groter as met die groot vloed in 1974. Die regering het die Noord-Kaapse landdrosdistrikte Barkly-Wes, Douglas, Gordonia, Kimberley, Warrenton en Prieska tot rampgebiede verklaar.
In die Suidwes-Vrystaat het besproeiingsboere langs die Riet- en Modderrivier erg deurgeloop. Tot sowat 90% van die mielies en aartappels wat daar geplant is, is tot niet, terwyl die prei-aanplantings ook grootliks verwoes is.
Die vloed volg op die voortslepende droogte die afgelope dekade wat boere op hul knieë gedwing het. Weens besproeiingskanale wat in die vloed verwoes is, sal baie boere nou weer droogte hê omdat hulle nie kan besproei nie. Dit sal sowat ses maande duur om die kanale te herstel.
Mnr. Greyling Wentzel, minister van landbou, het aangekondig dat plase wat deur die vloed getref is, elkeen besoek sal word om elke boer se skade te bepaal. Dit is die beste manier om vas te stel hoe die boere gehelp kan word.