Landbou. Dís die kwessie!
IS Suid-Afrika by sy Dag Zero vir grond? Dr. Braam Hanekom, direkteur van die NG Kerk en die Verenigde Gereformeerde Kerk se sentrum vir publieke getuienis, meen die antwoord is nee.
Hanekom, wat op verskeie terreine met die landbou te doen het en wat al as berader en bemiddelaar by plaaswerker-onluste opgetree het, sê Dag Zero het waarskynlik eerder reeds vir plaasveiligheid in Suid-Afrika aangebreek. Die waarskuwingsligte flikker vir die veiligheid op plase.
Hy meen die roete om die brandende grondkwessie in Suid-Afrika op te los, is ’n kollektiewe gesprek van álle sektore wat die landbou raak – iets soos ’n landbou- of grond-Kodesa waarvoor vantevore al voorspraak gemaak is.
“Grond is ’n emosionele saak vir Suid-Afrikaners. Die landbou is tans die kwessie waaroor niemand wil praat nie. Oplossings vir die grondkwessie kan nie nét tussen boere en politici gevind word nie. Restitusie is ’n baie groter saak as nét die landbou,” sê hy.
Manie verneem hy het in gesprekke met die landbougemeenskap onder meer deeglik bewus geword van die moedeloosheid en frustrasie by diegene wat ’n opbouende bydrae wil (en kán) lewer, maar dikwels vanweë politieke agendas gestuit word. Die onsekerheid lê die bedryf lam. Volgens hom is daar boere wat grond sal afstaan in ruil vir sekerheid.
Voedselsekerheid word tans as ’n buffer vir Dag Zero vir grond gesien. Slegs ’n paar elemente is egter nodig vir dié buffer om mee te gee en vir anargie om oor te neem.
Samewerking is nodig vanuit die openbare sektor, die finanswêreld, kerke, politici en die landbou – ’n verenigde en verteenwoordigende redelike stem wat ’n bolwerk kan vorm teen misplaaste emosie en anargie.
Ter verduideliking van die uitsluiting van mense van kleur van grond, verwys hy na die bordspel Monopoly. As een deelnemer vir drie rondes uitsit en in die vierde ronde weer probeer saamspeel, is die meeste eiendomme reeds gekoop en sal daardie speler die ander nie inhaal nie.
Hanekom verduidelik dit is wat met die 1913-wet gebeur het. Swart boere is basies van boerdery uitgesluit en die landboukultuur in swart gemeenskappe feitlik vernietig.
In 2008 was hy in Zimbabwe ter ondersteuning van kerke en vir berading aan kommersiële boere en hul gesinne wie se grond deur die regering van die destydse pres. Robert Mugabe gevat is. Hy onthou die hartverskeurende tonele van boere en hul gesinne wat bloot van hul plase verjaag is en álles binne ’n oogwink verloor het.
Deesdae is Hanekom deel van ’n gespreksforum van sowat 30 kerke wat gereeld oor restitusie gesels. Hy was ook al deel van kleiner gesprekke met pres. Cyril Ramaphosa. “As jy vra of die President môre boere se grond gaan vat, is my mening beslis nie. Die President is myns insiens ’n goeie onderhandelaar en ’n waardige staatsman wat nie in straatgevegte betrokke gaan raak nie. Hy moet egter daarteen waak om die indruk te wek dat hy arm om die lyf met die wit gemeenskap staan – al wil hy ons nie vervreem nie.”
Die pad na versoening is nou verweef met grond en die landbou. “Dit is egter net ’n deel van ’n groter, dringender gesprek oor versoening, die herstel van verhoudinge, van waardigheid, van respek.