Staat tas in donker oor ‘grondhonger’
SUID-AFRIKA het nie ’n register van hoeveel boere daar in die land is nie. Die laaste landbousensus was in 1993. Statistieke SA kan dus nie inligting saamstel en weergee oor wie landbougrond besit nie – en dus ook nie of daar ’n verband tussen grondgebrek en hongersnood is nie.
Dié beroerde stand van sake is onthul aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en ontwikkeling tydens ’n voorlegging deur me. Nthabiseng Makhatha, waarnemende statistikus-generaal.
Daar bestaan tans ook geen amptelike data oor hoeveel kleinboere daar in Suid-Afrika is nie. In 2007 is dié getal op sowat 200 000 geraam.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye probeer reeds sedert 2008 om só ’n register op te stel om die Regering se steunprojekte aan begunstigdes te kan monitor. Geld is in 2016 toegewys vir só ’n sensus en die telproses het in verskeie provinsies begin. Die inligting wat toe ingesamel is, was egter onbevredigend.
Tans word gepoog om ’n ooreenkoms met Statistieke SA te onderteken om volledige landboustatistiek te versamel.
SWAK BELEID
Makhatha sê daar word sedert verlede jaar met die departement vir ’n sensus van die kommersiële landbou onderhandel.
Statistieke SA het in 2002 en 2007 sensusse van die kommersiële landbou gedoen met data van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens oor inkomstebelasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW).
Sy sê die nalaat om gereelde sensusse van alle soorte boerderye te doen, lei tot swak beplanning en beleid.