SINCHRONISEER DEKGEWASSE EN KONTANT-OESTE
Met goeie tydsberekening kan ’n dekgewas ingespan word om soveel moontlik van ’n bepaalde voedingstof aan ’n daaropvolgende kontantgewas beskikbaar te stel presies wanneer dit dié element op sy nodigste het.
Prof. Rachel Cook van die Universiteit van Suid-Illinois in Amerika het in so ’n eksperiment sandwieke (Vicia villosa) en stoelrog
as dekgewasse gebruik, en mielies as daaropvolgende kontantgewas.
Sy wou vasstel hoe vinnig die onderskeie dekgewasse ontbind en in watter stadium elkeen die meeste stikstof uit die grond beskikbaar stel vir opname deur plante wat daaropvolgens geplant word. Rachel se bevindings is in die vaktydskrif Soil Science
gepubliseer. Rachel sê hierdie soort sinchronisasie kan ’n nuttige landbou-ekostelseldiens wees, maar is nie altyd so maklik om te bewerkstellig nie. “Dis soos om ’n ete só te probeer voorberei dat dit uit die oond kom presies wanneer jou honger gaste opdaag.”
Die sandwieke en stoelrog is met ’n onkruiddoder doodgespuit en hul ontbindingstempo’s bo- en ondergronds is vir 16 weke daarna gemeet, terwyl ’n opvolg-mielieoes op die proefpersele gegroei het.
Terselfdertyd is die stikstofvrystelling (die tempo én hoeveelhede) van die twee ontbindende dekgewasse in die grond gemeet.
Wieke en rog het heel verskillende stikstof-vrystellingspatrone, het Rachel bevind.
Die sandwieke het vinniger as die stoelrog ontbind, in totaal meer stikstof as die rog vrygestel (omtrent drie keer so veel) en vinniger met stikstofvrystelling begin.
Dit het bykans al die beskikbare stikstof vrygestel in die eerste vier weke nadat dit doodgespuit is. Net in die eerste twee weke nadat dit doodgespuit is, het dit sowat 70% van die beskikbare stikstof vrygestel.
Hierdie stikstofvrystellings was vóór die groeistadium wanneer mielies die meeste stikstof opneem – min of meer agt weke nadat dit geplant is. “Deur wieke té vroeg dood te spuit, kan stikstof dus verlore gaan voor die mielies dit kan opneem.”
Die stoelrog het weer stikstof stadig oor etlike weke heen vrygestel, waarvan bykans niks vrygestel is in die eerste vier weke nadat dit doodgespuit is nie. Hierdie dekgewas kan dus nuttig wees voor ’n kontantgewas wat nie ’n hoë stikstofbehoefte het nie.
“Ons verstaan nou die tempo en hoeveelheid van stikstofvrystelling uit hierdie twee gewilde dekgewasse beter.
“Hierdie inligting kan boere help om te bereken hoeveel stikstof hulle uit ’n ontbindende dekgewas kan verwag, en wanneer dit vir plantopname beskikbaar behoort te wees.”
Rachel sê meer sulke navorsing is nodig om boere te help om meer ingeligte besluite oor dekgewasse te neem sodat dié gewasse reg gebruik kan word om grondvrugbaarheid te verbeter en erosie te bekamp.