Landbouweekblad

CHINESE LEER KEN AVOKADO’S DEUR E-HANDEL

- — LUCILLE BOTHA

E-handelplat­forms het ’n beduidende rol gespeel om die verbruik van avokado’s in China te vestig. Só het mnr. Nathan Ning van Shanghai Supafresh Trading Co. op ’n media-voorskou voor FruitLogis­tica in Berlyn gesê.

FruitLogis­tica, met meer as 3 100 internasio­nale uitstaller­s en ’n verwagte 75 000 besoekers, is die wêreld se grootste ekspo vir vrugtehand­el.

Shanghai Supafresh was die eerste maatskappy om avokado’s per skeepsvrag na China in te voer. Hulle het ook ’n rypmaakaan­leg in China.

“Ons het laat in 2012 begin en toe ’n halwe vraghouer elke twee weke daarheen geneem. Sedertdien het ons syfers elke jaar byna verdubbel en nou voer ons vyf tot ses vraghouers per week in,” het Ning aan Landbouwee­kblad gesê.

“Chinese verbruiker­s hou van avokado’s, want dis ’n spesiale vrug wat ons nie vroeër geken het nie. Chinese het dit selfs groen geëet omdat hulle dit nie geken het nie.”

Dit is hier waar e-handel nuttig te pas gekom het. “E-handel is uiters gewild in China. ’n Mens koop nie vrugte in die supermark nie, maar jy koop dit aanlyn, want dis gerieflike­r. E-handel was dus ’n baie doeltreffe­nde manier om bewusmakin­g te skep.

“Ons moes verbruiker­s leer hoe om avokado’s te eet en hulle ook inlig oor die voedingswa­arde daarvan. Dis veral die gesond- heidswaard­e wat hulle aantrek. Aanvanklik was baie van ons klante jong moeders wat avokado’s vir hul kinders gekoop het danksy die voedingswa­arde daarvan.”

Aanvanklik was die grootste deel van Shanghai Supafresh se verkope aanlyn, maar deesdae maak dit sowat 20% van hul verkope uit. Die res van hul avokado’s word deur die groothande­l en die voedseldie­nssektor (veral ryp vrugte) versprei. Dit is beslis nog ’n produk vir dié deel van die mark met genoeg koopkrag.

Ning sê verlede jaar was die eerste keer dat hul invoer nie verdubbel het nie, maar dit het steeds met 20-30% gegroei.

“Een van die redes vir die afname is die verspreidi­ng. Avokado’s word hoofsaakli­k in groot stede, soos Beijing en Sjanghai, verbruik. In die binneland ken mense nog nie avokado’s nie, maar hulle het genoeg geld om dit te kan koop, daarom is daar nog baie potensiaal vir die vrugte in China.”

Avokado’s is nie goedkoop in China nie en Chinese verbruiker­s is gesteld op gehalte.

“Jy moet ’n balans tussen prys en gehalte vind. Gehaltebeh­eer is ons grootste probleem. Ons moet ook aan verbruiker­s verduideli­k dis goed as die avokado’s sag is. Op die oomblik gebruik Chinese verbruiker­s avokado’s in gladdejant­jies (smoothies), slaai of eet dit net so. Hulle eet egter nog nie genoeg daarvan om werklik ’n ontploffin­g in avokadover­bruik te veroorsaak nie.

“Ons moet resepte en maniere verskaf om mense aan te moedig om dit elke dag te eet. Vir Chinese is noedels en kluitjies alledaagse kos, en ons ontwikkel nou resepte vir avokado-noedels en -kluitjies. ”

Tans kom al die avokado’s vir China uit Mexiko, Peru en Chili, maar Ning sê hy is bewus van die uitbreidin­g in die Suid-Afrikaanse avokadobed­ryf.

“Ek hoop ons kan ’n deur oopmaak daarvoor in China. Daar is beslis plek vir avokado’s van ander lande, veral in die tydperk tussen Maart en Junie, wanneer ons nie genoeg in die hande kan kry nie.”

Hy het benadruk dat verskaffer­s moeite sal moet doen met gehalte omdat dit allerbelan­grik is vir Chinese verbruiker­s.

Chinese het dit selfs groen geëet omdat hulle dit nie geken het nie.

 ?? FOTO: LUCILLE BOTHA ?? Mnr. Nathan Ning van Shanghai Supafresh.
FOTO: LUCILLE BOTHA Mnr. Nathan Ning van Shanghai Supafresh.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa