HOE LYK ’N GOEIE MENTOR?
Jy moet jouself emosioneel verbind. Dan kan jy nie wegstap nie. Só sê mnr. André Smith, wat as mentor vir mnr. Dirk Louw optree. “Die motief moet wees: Ek gaan saam met daardie ou. As hy duik, duik ek saam. As jy oor ander redes betrokke raak of as dit oor geld gaan, is jy mos net betrokke vir jou eie sak. My vrou, Heloise, sê dat Dirk soos ’n seun vir ons is.”
Hy sê boere word soms mentors om by ’n staatsprojek betrokke te raak om hul boerdery uit die moeilikheid te help. “Ouens se bedoelings moet eerlik wees en daar moet wedersydse vertroue wees.”
Hy sê mentorskap is ’n waagstuk en harde werk. “Jy moet bereid wees om jou nek en hand uit te steek.”
Hy sê dit raak byna soos ’n familiebesigheid. “Ek weet as ek in die moeilikheid is, sal Dirk my kom help. Die jaar waarin my boerdery die beste gevaar
het, was die jaar toe hy saam met die ander staatmakers op die plaas in beheer was van die tafeldruiwe omdat ek ’n familiekrisis moes bestuur. Dit is belangrik dat jul waardes ooreenstem. Ons gesinne leef in afhanklikheid van ons Hemelse Vader en ons bou dus op dieselfde fondasie.”
Aangesien die staat ’n rolspeler is, is dit belangrik dat die mentor die tersaaklike wette verstaan om dit vir die staat se verteenwoordiger maklik te maak om die nuwe boer te help, sê André. “As ek ’n aandeelhouer was, kon Tumi hom nie help nie. Ek moes op die kantlyn sit en só help.”
André sit nou net met een goeie probleem, en dit is dat sy besigheid se status rakende swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie aanvaarbaar is nie omdat sy SEB-vennoot ’n suksesvolle boer in eie reg is. “As ek dié pad met al my werknemers kan loop, sal ek dit weer doen met die volle ondersteuning van my gesin.” Dirk vir homself en sy gesin werk, is hy ook bereid om sy eie geld en tyd te gebruik om die boerdery te laat presteer. “Ek sê nie groepprojekte kan nie sukses behaal nie, maar daar is dikwels baie konflik waar baie mense is.”
Boer en mentor beskou Tumi se bydrae as deurslaggewend vir Dirk se boerderysukses. Dirk se boerdery het ’n wending ten goede geneem toe Tumi betrokke geraak het en met groot geduld jaar ná jaar voorstelle by die departement ingedien en uiteindelik in 2013-’14 geld gekry het om die 13 ha Merbein-rosyntjiedruiwe te vestig.
André sê sy navorsing en betrokkenheid by Boegoeberg het hom laat besef hoe sukkel verskillende staatsdepartemente om saam te werk. “Dis waar Tumi so belangrik is. Hy moet teen sy kollegas van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die Departement van Water en Sanitasie baklei vir elke sent.”
ONTSPAN TE MIN
Dirk se vrou, Reny, is ooglopend trots op wat hulle bereik het, maar wil hê hy moet darem bietjie ontspan en meer tyd maak vir sy gesin.
Sy besef hy moet hard werk en vir sy gesin sorg, maar meen hy moet nog leer om ’n balans tussen werk en rus te kry. “Ek wil hê ons moet net vir ’n naweek weggaan. Jou lewe is in ’n oogwink verby. ’n Mens moenie spyt wees as daar nou iets gebeur nie.”
Dirk sê sy vrou het hom aan die kraag beet, maar daar is goed wat hy eers wil klaarmaak. “Ek gooi my droom voor haar kop. As ek 45 is, wil ek nie weer ’n graaf vat soos ek nou doen of voordag opvlieg om water te loop kyk nie. Ek moet iemand kry wat ek kan vertrou om dit te doen.” yahoo.com; bthukubi@ncpg.gov.za; andresmith@lantic.net louwdirk44@