Waar die reis begin (Uitspantyd)
Blou, veral ligblou, was Grootkoos, my pa, se gunstelingkleur. En dis die kleur waarin hy sy Chev-bakkies gekoop het – nóg ’n gunsteling in sy lewe.
lkeen van ons se onthoupad begin iewers. Myne het voor in die ou, ligblou 1963-model Chev-bakkie begin toe ek nog ’n voorskoolse kannetjie was.
Ek onthou die grondpad van Dordabis af Windhoek toe. Die digte kameeldorings waaronder ons al langs die Schaaprivier af gery het, oom Manie Joubert se huis skuins onder ons nadat ons die elmboogbult bo die opstal uitgery het. Hy was ’n Land Rover-man. Later het hy Datsun-bakkies gery en hy het met ’n 7 mm-Mauser geskiet.
By Kapp’s Farm het ons op die teerpad gedraai en dikwels bobbejane gekry, wat veral lief was om by een van die cuttings tyd te verwyl.
Net voor jy Klein-Windhoek binnery, gaan jy onder deur die treinbrug. Knap in Klein-Windhoek, ry jy verby die Mobil-garage op regterhand. Grootkoos het slegs dáár brandstof ingegooi. In daardie dae het jy Super- of Regular-petrol gekry. Die blou Chev is met Regular gevoer.
Dis hierdie onthou-dinge wat die ligblou Chev met sy registrasienommer, W 5879, in my siel laat kom vastrap het. Jare later, toe Grootkoos eendag weer wou bakkie koop, het ma Lenie gedreig om hom allerlei tipes leed aan te doen as hy wéér met ’n blou bakkie op die werf aankom.
Uit daardie groot Chev het ek my eerste koedoe gesien, my eerste springbokke ook. Daar was ’n groot, wit vlakte op pad na die plaas Doringpoort waar oom Douglas Miller en sy broer Clive geboer het. Dié vlakteplaas het aan ’n Duitser behoort en daar was altyd honderde springbokke.
Die Chev-bakkie was lank ons enigste ryding en al was hy groot, kon vyf kinders en twee grootmense nie so lekker voor in die kajuit pas nie. Daarom moes ek, ouboet Johan en selfs by geleentheid ousus Dalene (Outos, het ek haar genoem) agterop sit, op ’n geel houtbankie wat net mooi dwars agter die kap gepas het.
Die Kleintjies, soos ons na André en Deon verwys het, het voor by Pa-hulle gery. As Johan en Dalene in Windhoek op skool was, kon ek darem ook voor in die Chev ry.
LEE ENFIELD SE ENIGSTE BÊREPLEK
Een passasier het altyd ’n ereplek voor in die kajuit gehad. Voor die lang, breë sitplek by ons voete het Grootkoos se Lee Enfield-geweer, ’n .303, maar altyd gelê. Soms vir so lank, ek het gedink dis sy enigste bêreplek.
Bakkies het toe nog nie skietrame en geweerrusse gehad nie. Die blou Chev het houttralies gehad wat Grootkoos self gemaak het. Hulle was stewig en het baie vragte Boerbokke en Karakoelskape aangery sonder om te breek.
As Grootkoos van die bakkie af moes skiet, het hy uitgespring en sommer so skuins oor die bonnet aangelê. Dit het egter nie baie gebeur nie, want Dordabis se omgewing, veral Windhoek se kant toe, is bergwêreld. Daar moes jy stap om jou koedoe te gaan haal.
In my kleuterjare het ek dikwels op die sitplek tussen Grootkoos en ma Lenie gestaan as ons saans iewers heen ry. Daar was baie wild langs die pad. Ons het die talle blinkoë getel en ek het die diere se name geleer . . . steenbok, vlakhaas, duiker, bakoorjakkals, weerwolf, muishond, springhaas, rooijakkals en ystervark. Partykeer het ek kamma vreeslike vreemde, vreesaanjaende diere gesien waarvan ’n mens die name maar net kon raai. En natuurlik het die grootmense my nie reggehelp nie . . . ’n kind moes kon uiting gee aan sy verbeelding. Soms het ek gesien hoe hulle skelmpies vir my lag as ek die een of ander “wilde wese” geïdentifiseer het.
Uit daardie blou Chev se kajuit het ek die wonders van die wêreld rondom Dordabis leer ken en het nuwe horisonne vir my oopgegaan. Daar, op die sitplek tussen my ouers het ek veilig en geborge gevoel, want Grootkoos was aan die stuur. Wat meer kan ’n kind voor vra?
As Grootkoos van die bakkie af moes skiet, het hy uitgespring en sommer so skuins oor die aangelê.
Koos Barnard is redakteur van SA Jagter/ SA Hunter, susterstydskrif van Landbouweekblad.