DIE OPLOSSING IS OM TE BOER
Die landbou is die hoeksteen waarop ons beskawing gebou is. Dit was immers die landbou wat ons toegelaat het om van nomadiese jagters en versamelaars tot Beethoven en ruimtevaarders te vorder. Die landbou het ons toegelaat om gereeld genoeg kossurplusse te produseer om “onproduktiewe” mense, soos konings, soldate en later ook Nasa-wetenskaplikes en operasangers, te onderhou.
Boere het eeue lank die wolke dopgehou en op ’n goeie oes gehoop. Maar vandag, duisende jare nadat daardie eerste saad geplant is, moet ons amper onmoontlike uitdagings die hoof bied. Dit lyk of die klimaat teen ons gedraai het. ’n Mens wil nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, maar ons kan ook nie met ons koppe in die sand leef nie. Volgens die WNNR wys ’n gemiddelde van die bestaande klimaatsveranderingmodelle dat Suider-Afrika se klimaat in die volgende 20 jaar met tot 4 °C kan styg. Daardie ekstra paar grade is die verskil tussen ’n warm dag en ’n hittegolf.
Buiten die droogte en die vooruitsig van nóg warmer en droër weer, is ons platteland ook lankal aan die kwyn. Dit is egter nie net hier nie. In Amerika, wat voorgehou word as die toonbeeld van die moderne landbou en waar produktiwiteit en skaalekonomie tot elke prys nagejaag word, raak die platteland nou so gehawend dat Amerikaanse boere by ons kom besoek aflê om te sien hoe ons kleiner familieplase dit regkry om te oorleef!
Dink net as daar ’n oplossing was vir klimaatsverandering wat terselfdertyd ons grond se produktiwiteit dermate kon herstel dat familieplase weer kon blom en die platteland herleef. Verhoogde landbouproduktiwiteit sou ook daartoe lei dat grondhervorming beter en volhoubaarder kon geskied.
Landbouweekblad het verlede week saam met die dinamiese jong manne van die Riemland-studiegroep die herlewingslandboukonferensie op Reitz aangebied. Met die meer as 600 boere wat die konferensie bygewoon het, lyk dit of daar wel ‘n behoefte is om die oplossings wat herlewingslandbou bied, van nader te bekyk. Die natuur bied hierdie oplossings gratis aan ons – as ons dit net wil besef.
Die spilpunt waarom dit draai, is eenvoudig – kry meer koolstof in die grond. Namate die koolstof uit die atmosfeer in ’n verskeidenheid groen plante opgeberg en die grond minder versteur word, word klimaatsverandering hanteer. Grond word ook vrugbaarder namate die koolstof die grond reg deur die jaar deur plante se wortels voed, die waterhouvermoë toeneem en grondbiologie vermeerder. Daar is ook die opsie van ’n groter veefaktor, veral in ons saaigebiede wat gebuk gaan onder lae graanpyse. Die verhoogde hoefaksie van veekuddes wat in hoëdigtheidstroppe wei, kan die Hoëveld se banke bankrotbos stukkend trap en honderdduisende hektare ongebruikte grond in produksie bring.
Dit is uiteraad ingewikkelder as wat ’n mens in ’n paar sinne kan opsom. Elke distrik het sy eie, unieke probleme en een netjiese oplossing bestaan nie. Die punt is dat die oplossing vir baie van ons probleme – klimaat, landbou en sosiaal – in die bedryf gevind kan word waarop ons beskawing gebou is. Soos Danie Slabbert van die Riemland-studiegroep droogweg opgemerk het toe ons op sy lande na sy dekgewasse kyk: “Ja, miskien is die oplossing om onsself eenvoudig uit ons probleme te boer!” — CHRIS BURGESS