LANDBOU KAN DIÉ MODELLE OORWEEG
Ons almal weet dat grond as ’n politieke speelbal gebruik word. Die manne wat dit speel, weet hulle vertel leuens. Hulle weet ook wat die waarheid is. Dit gaan dus nie help om hulle van die waarheid te probeer oortuig nie. Ons moenie terugbaklei nie, ons het ’n strategie nodig. Daar is in elk geval nie genoeg grond om aan elkeen ’n stukkie te gee nie.
My strategie rus slegs op twee onveranderlike faktore. Eerstens, mense moet eet, en tweedens, mense het verhoudings met ander mense. Dit is nog deur al die eeue dieselfde. Veranderlike faktore sluit in die metodes van kosproduksie (van pik en graaf tot osse, perde, trekkers, organies, anorganies en tegnologie) en die eienaarskap van grond (privaat of staat).
My strategie behels ook dat jy die situasie met ’n oop gemoed moet evalueer en ’n bietjie verder in die toekoms moet dink.
Eerstens, plaas die grond in die hande van soveel mense moontlik. Deur ’n openbare maatskappy kan 49% aandele in ’n plaas verkoop word aan enigiemand wat ’n aandeel wil koop. Vir vanaf net byvoorbeeld R10 kan jy dus ’n aandeel besit. Voor jy my kruisig, dink nou verder: Jy kan nou 51% (beheer) van jou plaas besit en die 49% se kapitaal gebruik om te diversifiseer in ’n aandeel in ’n jagplaas, wynplaas, mielieplaas, ensovoorts.
Wat gebeur nou as die staat die grond wil nasionaliseer? Skielik het jy ’n 1 000 of meer aandeelhouers wat saam met jou staan. Landwyd kan daar natuurlik miljoene mense wees wat aandele in ander plase het.
Die tweede deel van my strategie is om boerderyvertakkings te vind wat by jou huidige boerdery inskakel. In my geval volg ek Angus McIntosh van Spier se model van stacking – ’n lêhoenderboerdery op weidings as uitbreiding van my weidinggebaseerde melkkudde. In dieselfde asem vestig ek 10 hoenderboere met ’n omset van R1 miljoen elk sonder ’n hektaar ekstra grond.
Dit kos my tans R400 000 per boer aan kapitaal, wat terugbetaal word. Ek lok aspirantboere vanaf landboukolleges. Terwyl hulle studeer, kan hulle vakansies kom werk. Ons het dus drie jaar tyd om te besluit of ons ’n pad saam kan loop. Dink net wat ’n verhoudingsbouer dit kan wees. Vir die suksesvolle hoenderboer is daar ook ongekende uitbreidingsmoontlikhede: Al my buurmanne is boere wat die hoendermis kan gebruik.
Hand aan hand daarmee sal baie nuwe bemarkings- en toerismegeleenthede ontwikkel. Laastens, maar nie die minste nie, kan ons dan begin om ons boerderypraktyke volgens Gen.1:31 te evalueer. HENNIE STRYDOM Humansdorp