Grond: Ligte flikker helder rooi
DIE SA Inkomstediens het oor die jare aansien as ’n uiters doeltreffende staatsinstelling opgebou. Ongelukkig het sy naam baie skade gely ná die aanstelling van Tom Moyane as kommissaris en onder meer beskuldigings van miljoen rande se BTW-terugbetalings aan ’n Gupta-verwante maatskappy.
Manie kan net hoop dat Moyane se skorsing en die aanstelling van Mark Kingon as waarnemende kommissaris openbare vertroue in dié belangrike instelling sal help herstel. Kingon is ’n ou veteraan wat al sedert die ontstaan van die SAID daar betrokke is.
Dit laat Manie onwillekeurig dink aan ’n ander staatsinstelling wat feitlik nog nooit iets reg gedoen het nie en waar nuwe politieke leierskap nou ’n verandering teweeg moet bring. Dié verwysing is natuurlik na die Department van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming wat oor die jare klaaglik misluk het. Die Regering beroep hom nou op onteiening sonder vergoeding om grondhervorming deur te voer.
In 1996 het die landbou-ekonome drr. Johan van Zyl, Johann Kirsten en Hans P. Binswager die boek Agricultural Land Reform in South Africa – Policies, Markets and Mechanisms bekend gestel. Die werk vir die boek het reeds in 1994 begin.
In dié omvattende bundel van 621 bladsye het 25 medewerkers die pad vorentoe probeer uitspel vir doeltreffende grondhervorming. Die strewe was om binne vyf jaar 30% van landbougrond in wit hande deur ’n markgerigte proses te herverdeel.
In 1994 was die beskikbare landbougrond 97 miljoen ha. Die staat moes dus sowat 30 miljoen ha teen 2014 vir hervorming koop. Dit is nou jare ná die spertyd en die waarskuwingsligte flikker helder rooi. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) het later ’n mikpunt van 20% vir landbougrond in alle distrikte teen 2030 gestel.
Die departement kyk egter anderpad en beveel nou aan dat onteiening sonder vergoeding die nuwe gonswoord is. Hoekom? Want sedert 1994 het die Regering slegs 2,2 miljoen ha landbougrond gekoop, aldus Agri SA, ADS en Landbouweekblad se grondoudit. Terloops: Vanaf 1994 tot 2016 het swart mense 8,9 miljoen hektaar landbougrond teen R90,3 miljard op die ope mark gekoop – ook volgens die grondoudit.
Die departement het sedert 1994 meer as R46 miljard aan grondhervorming bestee, maar kan nie veel daarvoor wys nie. Van sy projekte om nuwe boere en gemeenskappe te vestig, is suksesvol, maar te veel projekte het nie die lakmoestoets geslaag nie. Van daardie begunstigdes sit nou werkloos op eens suksesvolle, kommersiële plase, hoofsaaklik omdat die staat hulle nie ondersteun het nie.
Boonop is mnr. Gugile Nkwinti, vorige minister, nou na die Departement van Water en Sanitasie ontplooi. Me. Maite Nkoana-Mashabane, nuwe Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, was Minister van Internasionale Betrekkinge toe Omar al-Bashir, president van Soedan, uit Suid-Afrika geglip het ondanks ’n hofbevel dat hy in hegtenis geneem moes word.
Nkoana-Mashabane sit nou in dié onbenydenswaardige portefeulje. Tyd sal leer hoe sy dit gaan hanteer, maar dat sy vorentoe ’n waarskynlike sleutelrol in grondhervorming sal speel, is gewis.
Sy was bykans nege jaar lank Minister van Internasionale Betrekkinge en ’n lid van die organiserende komitee van die Wêreldbekersokkertoernooi
in 2010. Sy was een van die sleutelspelers om Suid-Afrika by die Brics-vorming in te sluit.
As die departement oor die jare sy pligte uitgevoer het, soos die SAID oor jare gedoen het, was die huidige openbare debat oor die onteiening van grond glad nie nodig nie. Dan was Suid-Afrika se landbou al dóér in die pad af. Sommer met so ’n stofstreep. Die departement se nalatenskap is dalk nou op dieselfde vlak as dié van Eskom en die SAA.
VOEDSELVERWERKERS VERLOOR MILJOENE
Terwyl verliese van honderde miljoene rande die voedselmaatskappy Tiger Brands in die gesig staar nadat die ST6-stam van listeriose by ’n Enterprise-aanleg van die groep op Polokwane ontdek is, lyk dit of ander voedselverwerkers en die res van die vleisbedryf ook ernstig daaronder gaan ly.
Die verliese kan spruit uit hofsake, produksie wat beëindig moes word en produkte wat verdag gemaak is.
Manie onderskat nie vir een oomblik die erns van hierdie grootste uitbreking van die siekte nóg ter wêreld nie.
Gesondheidstandaarde en die toepassing daarvan is lewensbelangrik, soos wat almal uit hierdie listeriose-les kan leer. Nogtans verstaan Manie nie die nydigheid waarmee dr. Aaron Motsoaledi, Minister van Gesondheid, voedselmaatskappye hanteer nie. Dit is so asof hy hulle as die vyand van gewone mense wil voorhou en nie as verskaffers van kos nie.
Tydens sy aankondiging oor die oorsprong van die ST6-stam het hy ook genoem dat listeria-bakterieë by nog ’n Enterprise-aanleg in Germiston en by RCL se Wolwehoek-aanleg by Sasolburg gevind is.
Hoewel dit nie bevestig kon word dat dit die ST6-stam was nie, is die aanlegte as voorsorgmaatreël gesluit. RCL se Rainbow-produkte is aan die mark onttrek.
RCL het intussen deur toetse van ’n Franse laboratorium bewys dat sy Wolwehoek-aanleg skoon is van die ST6-stam, maar die koeël is waarskynlik deur die kerk.
Manie wil met Dave Ford van die Rooivleisbedryfsforum saamstem dat gebrekkige inligting gelei het tot listeria-histerie wat nadelig vir verbruikers en die hele vleisbedryf is. Soos Manie verstaan, kom die bakterieë vrylik in grond, water en plante in die natuur voor en teen lae vlakke hou dit nie ’n bedreiging in nie.
Dr. Lucia Anelich, ’n voedselveiligheidskenner, sê dit moet eerder ’n verrassing wees as die bakterie nié in ’n voedselverwerkingsaanleg teenwoordig is nie. Wat belangrik is, is die mate van besmetting. Suid-Afrika het boonop nie eens ’n afdwingbare regulasie oor die maksimum toelaatbare hoeveelheid bakterieë nie. Talle verwerkers probeer maar by die internasionale norme hou.
Daarom moet die minister miskien eers voor sy eie deur vee en toesien dat regulasies geld voor hy die lat te veel onder die verwerkers swaai.
Dieselfde geld dalk ook mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, wat verlede week die Polokwane-aanleg gaan “inspekteer” het.
Die Regering het 18 jaar lank versuim om ’n onafhanklike inspeksiediens vir die vleisbedryf te skep – soos deur die Wet op die Veiligheid van Vleis van 2000 vereis. Die bedryf moes die Regering met hofsake dwing om die diens ingestel te kry.
Voedselveiligheid is ’n spanpoging tussen die Regering, die bedryf en die verbruikers self en niemand is té verhewe bo die res nie.
ELEKTRONIESE LIEFDE
Meisie: “Pa ek is verlief op ’n ou wat ver weg van my af is. Ons het ontmoet op ’n afspraak-webblad, vriende geword op Facebook, lang gesprekke gehad op WhatsApp, verloof geraak op Skype en nou het ek Pa se seën nodig om te trou.”
Pa: “Geen probleem nie, my Meisiekind. Trou op Twitter, hê pret op face time, koop kinders deur e-Bay en stuur hulle per e-pos. En, wanneer jy moeg is vir jou man, verkoop hom op Gumtree!”