‘STADIGER MET DIE SPUIT’
BOERE gryp alte dikwels, te vinnig én onnodig na chemiese plaagdoders, waarsku prof. Johnnie van den Berg, insektekundige van die Noordwes-Universiteit.
Die bydrae wat roofinsekte gratis en natuurlik lewer, word heeltemal onderskat, het hy op Landbouweekblad se konferensie op Reitz gesê.
“Ons vergeet enige bevolking, of dit nou mense of insekte is, word groter en kleiner. Wanneer dit by plantbeskerming kom, wil ons keer dat ’n insekbevolking in plante ’n ekonomiese drempelwaarde oorsteek. Eers dán moet opgetree word.
“As biodiversiteit in plante en insekte met bewaringslandboupraktyke verhoog word, word plaagbevolkings gratis op ’n land onderdruk en beheer.
“Ons besef nie die groot hoeveelheid insekte op een hektaar mielies nie. Waar bewerking tot die minimum beperk word, leef daar tienduisende liewenheersbesies, waarvan een tot so veel as 70 plantluise per dag vreet, om nie eens te praat van hoeveel rooi spinmyte daar op besproeiingsmielies is nie,” sê hy.
ROOFINSEKTE
“Nog iets wat ons nie sien gebeur nie, is die voorkoms van parasitiese wespes wat byvoorbeeld op stamruspes parasiteer. Hierdie tyd van die jaar sukkel ek om stamruspes in ’n land te kry wat nie deur hierdie wespe ingeneem is nie.
“Daar waar stamruspes in mieliestoppels oorwinter, is die roofinsekte ook aktief. Stamruspe-getalle kan met biodiversiteit wat vir jou werk, soos kewers en oorkruipers, met tot 90% op ’n land verminder word.” Baie roofinsekte is ook ongesiens in die nag aktief, sê Van den Berg, soos oorkruipers wat snags kommandowurms vreet.
Bewerking maak vir al hierdie werkers die omgewing ongunstig, terwyl bewaringslandboupraktyke, soos wisselbou en interry-verbouing, vir hulle ’n gunstige omgewing help skep.