BEESBOERE MOET DRIE KWESSIES OORKOM
POENA-EIENSKAPPE, groter voerdoeltreffendheid en beter vleisgehalte.
Dit is die drie kwessies waarvoor die vleisbeesbedryf staan om volgehoue winsgewende vleisproduksie te verseker, het mnr. Nick Serfontein, toonaangewende teler en nuutverkose ondervoorsitter van Bonsmara SA, op die genootskap se jaarlikse rasgeleentheid op Parys gesê.
Hy sê die klem val al hoe meer op die teel van beeste met poenaeienskappe. “Dit is arbeidsintensief om beeste te onthoring en die praktyk ontlok teenkanting onder diereliefhebbers.”
Dit is volgens hom een van die neigings in Bonsmarateling wat na vleisbeesteling sal oorspoel.
Hy het ook met die oorsese bevinding saamgestem dat voerdoeltreffendheid toenemend die winsgewendheid van vleisproduksie sal bepaal. “’n Verhoging van 10% in die gemiddelde daaglikse groei van beeste verhoog die wins met sowat 18%,” sê hy. “Maar ’n verhoging van 10% in die voeromsetting verhoog die wins in beesboerdery met 43%.”
Hy glo dat te min plaaslike bulle vir voeromsettingsdoeltreffendheid getoets word. “Slegs 8% van die bulle in Suid-Afrika deurloop fase C-toetsing. Meting is steeds koning en genomika kan dit nie vervang nie.”
EIE GRADERINGSTELSEL
Wat vleisgehalte betref, gaan hy ’n graderingstelsel vir die Sernick-groep laat ontwikkel wat ook na verwagting deur Bonsmara SA toegepas sal word. Die huidige vleisklassifikasie dui slegs die ouderdom van die karkas en die vetinhoud daarvan aan.
“Indien die produsent sy Bonsmaravleis aan die verbruiker wil voorsit, moet die vleissagtheid en eetervaring daarvan aangedui kan word.”
Hy sê die Sernick-groep het reeds vleisgehalte begin verbeter deur die slagproses van beeste te verbeter. Van die navorsingsprojekte wat hy vanjaar laat aanpak, is die vasstelling van die uitwerking van verskillende groeistimulante op voerkraalwins en vleisgehalte, en ’n voortsetting van die studie oor die optimale voertydperk van verskillende rasse.