EU pak SA wéér oor hoender
DIE plaaslike hoenderbedryf kán sy produksie verhoog om ingevoerde hoender te vervang, maar hy het tyd en ’n gunstige omgewing daarvoor nodig.
Só sê mnr. Marthinus Stander, voorsitter van die SA Pluimveevereniging (SAPV) se braaihoenderorganisasie, in reaksie op stellings deur die Europese Unie-afvaardiging in Suid-Afrika.
Die afvaardiging sê in ’n dokument op sy webblad die invoer van Europese hoenderstukke aan die been het verlede jaar met 71,9% gedaal, maar dit is deur invoer uit Amerika en Brasilië vervang en nie Suid-Afrikaanse produkte nie.
Die afvaardiging sê daar is verskeie onwaar bewerings oor ingevoerde Europese hoender in Suid-Afrika.
“Daar is geen saak daarvoor uit te maak dat pluimveeprodusente van die EU die plaaslike mark ondergrawe of oorstroom nie,” luidens die dokument.
Stander sê die plaaslike bedryf produseer hoender goedkoper as EU-produsente, maar het tyd nodig om produksie te kan verhoog, omdat die voorsieningsketting leweringstyd van twee jaar lank nodig het om ouervoorraad (parent stock) te plaas.
Vir die plaaslike bedryf om verder met vertroue in uitbreiding te kan belê, is dit ook nodig dat die omgewing gunstig moet wees, iets wat weens “onbeheerde storting” nie nou die geval is nie.
HANDELSVERSPERRING
Die EU-afvaardiging se dokument is vrygestel kort nadat nadat amptenare van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye lande in die Europese Unie (EU) besoek het wat in 2016 en 2017 voëlgriepuitbrekings gehad het en wie se hoender sedertdien verbied is.
Invoerders was verlede jaar
gefrustreerd omdat die departement nie, soos in die verlede, die verbod onmiddellik opgehef het toe EU-lande hulself weer vry verklaar het nie. Die departement wou eers self amptenare stuur.
Ná dié besoeke word nou verwag dat Suid-Afrika binnekort die verbod kan ophef. Die EU-afvaardiging beskryf die verbod van langer as ’n jaar as “’n ongekende proteksionistiese veldtog”.
Boonop was hoenderstukke aan die been van Desember 2016 tot Julie 2017 aan ’n voorlopige beskermingsmaatreël onderworpe, terwyl ’n finale beskermingsmaatreël deur lande in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie oorweeg word.
’NIE GEMORS’
Die EU sê anders as wat beweer word, is die produk wat hierheen uitgevoer word, nie “gemors” nie, maar van hoë gehalte.
Stander sê plaaslik word daarna as “afval” verwys, bedoelende dat dit dele van die hoender is wat verbruikers in die EU nie wil eet nie en wat dan in Suid-Afrika “gestort” word.
Die EU pak in die dokument ook bewerings dat hul hoender “goedkoop” is, “gestort word” of “roofpryse” het, en sê hul braaihoenderpryse is deurlopend hoër as onder meer Amerika en Brasilië s’n.
Stander sê in reaksie EU-produsente produseer na raming teen R25/kg en tog “stort” hulle agterkwarte teen vanaf net R15/kg in Suid-Afrika.
EU-hoender is verder, kragtens die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms, nie onderhewig aan invoertariewe nie.
SUBSIDIES
Oor die EU se ontkenning dat hul hoenderprodusente gesubsidieer word, sê Stander daar is onregstreekse subsidiëring, soos dié van mielieboere.
“In die EU word ’n debat gevoer, veral deur opposiepartye, dat landbousubsidies EU-produsente van hoender en vark laat oorproduseer, wat slegte gevolge het vir markte in ander lande,” sê Stander.