ZOELOEKONING WIL SY BEURSIE VUL
DIE hoofrede waarom die Ingonyama-trust bestaande grondregte van bewoners na huurpag wil omskakel, is sodat hy die inkomste van die trust kan verhoog, het parlementêre navorsers bevind.
Verlede jaar het die trust die nagenoeg vyf miljoen inwoners deur middel van advertensies aangesê om hul wetlik erkende bewoningsreg (PTO) na huurooreenkomste om te skakel.
Die parlementêre komitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming het egter onlangs die omskakelings tydelik gekeer.
Die komitee en die trust sit gereeld vas omdat die trust soms weier om gehoor te gee aan aanbevelings van die ouditeur-generaal en ook nie vir munisipale dienste betaal nie.
Onder die redes wat die trust voorhou om PTO’s na huurooreenkomste te wil omskakel, is weens regskwessies, onderonsies tussen inwoners oor eienaarskap en grense en omdat die kontrakte aan inwoners meer beskerming bied. Die trust sê ook huurooreenkomsdokumente dien as bewys van woonadres wanneer inwoners wil stem, selfone koop, bankrekeninge oopmaak of stem.
Die portefeuljekomitee se navorsingseenheid stem egter nie saam met dié redenasie nie omdat die inwoners selfs van hul grond gesit kan word as hulle nie die huurgeld gereeld betaal nie.
HERROEP DIÉ WET
Die hoëvlakpaneel onder leiding van voormalige pres. Kgalema Motlanthe het verlede jaar aanbeveel dat die Ingonyama-trust herroep moet word sodat KwaZulu-Natal in pas met die res van die land se grondbeleid gebring word en om gemeenskappe en inwoners se besitreg te verseker. Koning Goodwill Zwelithini is die enigste trusteelid van die Ingonyama-trust en die grootste grondeienaar in KwaZulu-Natal.
Dr. Aninka Claassens, ’n senior navorser by die Departement van Openbare Reg aan die Universiteit van Kaapstad en lid van die paneel, het gesê die Regering se onvermoë om die Wet op die Tussentydse Beskerming van Inwil formele Grondregte (Wet 31 van 1996) toe te pas, het reeds daartoe gelei dat arm mense se grond oor die afgelope 15 jaar stelselmatig onteien is.
Die Ingonyama-trust is ook onderworpe aan dié wet, maar wanneer hy huurooreenkomste met derde partye aangaan, besluit die tradisionele leiers wat met die grond moet gebeur. Inwoners word ook nie vergoed vir die uitverhuur van hul grond nie.
“Die minister se mislukking om te verseker dat (die wet) gehandhaaf word, is ’n skending van die artikel 25 (6) van die Grondwet en die mislukking het bygedra tot die aftakeling van grondadministrasie,” sê sy.
Die paneel het aanbeveel dat die wet versterk word met wetgewing wat rekordhouding afdwing van gemeenskapseiendomsverenigings, tradisionele gemeenskappe en plaasbewoners se grondgebruiksregte.
‘Die mislukking het bygedra tot die aftakeling van grondadministrasie.’