VEEDIEFSTAL BLY ’N PROBLEEM
SUID-AFRIKA het reeds een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld en die owerhede kan dit net nie regkry om dit te laat daal nie. Navorsers het bevind van die grootste oorsake vir veediefstal is werkloosheid en die droogte (bestaansboere wat byvoorbeeld nie ’n oes kan insamel nie).
Volgens ’n onlangse droogtestudie deur die Rooivleisprodusente-organisasie word daar geskat dat die nasionale beeskudde met sowat 15% verklein het en die skaapkudde met sowat 14%. Verlede Desember is reeds 30% minder vee as ’n jaar vantevore geslag, wat aandui dat boere hul kuddes opbou.
Die daling in die aanbod van vee het veroorsaak dat die waarde van vee verder styg. Dit beteken dit is ook nou winsgewender om ’n veedief te wees.
Veediefstalsyfers in 2016-’17 wys die grootste getal skape is in die Oos-Kaap (net minder as 40 000) gesteel. Dan volg die Vrystaat (sowat 20 000) en die NoordKaap (amper 7 500).
Beeste skets ’n effens ander prentjie met KwaZulu-Natal wat die hoogste diefstalsyfer (net meer as 14 000) toon, gevolg deur die Vrystaat (meer as 10 000) en Noordwes (effens minder as 10 000).
Die meeste bokke is in KwaZulu-Natal gesteel (sowat 13 000), gevolg deur die OosKaap (meer as 7 000) en Limpopo (meer as 4 000).
Met die oog op die onderskeie provinsies se neigings, is dit duidelik dat die diefstal van beeste in al die provinsies, met die uitsondering van die Oos-Kaap, in 2016-’17 gestyg het. Die diefstal van skape het in die Oos-Kaap, Noordwes en Gauteng gestyg. In die Wes- en die Noord-Kaap, die Vrystaat en Mpumalanga het dit gedaal. Die syfers het redelik konstant gebly in Limpopo en KwaZulu-Natal.
Die tempo waarteen beeste teruggevind is, het vanaf 2011-’12 tot 2016-’17 versleg ( TABEL ). Skape se terugvindkoers het meer wisseling getoon, maar het vanaf 2015-’16 tot 2016-’17 met 5% gedaal. In bokke se geval het die terugvindkoers redelik konstant gebly.
Verder wys die statistieke dat die getal sake wat aangemeld is, ook ’n afwaartse neiging toon ( GRAFIEK 1 ). Die gemiddelde getal vee wat per aangemelde saak gesteel is, het geleidelik gestyg. Dit kan moontlik een van twee verduidelikings hê. Dit kan wees dat veeboere dit nie meer nodig ag om kleiner verliese (een of twee skape) by die SA Polisiediens (SAPD) aan te meld nie, maar wel groter voorvalle aanmeld. Dit kan ook ’n aanduiding wees van veediefstalsindikate wat minder gereeld toeslaan, maar meer vee per voorval steel en suksesvoller is om van die vee ontslae te raak voor dit teruggevind kan word.
UIT ANDER BRONNE
Voor ’n mens net vaskyk teen die SAPD se amptelike syfers, moet daar in gedagte gehou word dat Statistieke SA bevind het dat 67,7% van veediefstalgevalle in 2015 nie aangemeld is nie. In 2016 is 70,1% van die veediefstalsake nie by die SAPD aangemeld nie.
In ’n studie deur die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat wat in die Vrystaat, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gedoen is, is bevind dat die terugvindkoers van gesteelde vee veel laer is as wat die SAPD se statistieke toon. Luidens die studie is in al drie die provinsies meer skape per jaar verloor (diere wat nie teruggevind is nie) as wat die SAPD se syfers toon ( GRAFIEK 2 ).
Die grootste verliese aan skape is aangeteken in die Vrystaat, waar amper 85 000 skape per jaar gesteel word. Dit is sowat 1,82% van die skape in kommersiële skaapboere se besit. Ook is die gesteelde beeste wat teruggevind word, heelwat minder in die studie as in die amptelike syfers.
Net die regstreekse koste van veediefstal in dié drie provinsies is op sowat R477 miljoen per jaar bereken. Boere bestee ’n bykomende R166 miljoen per jaar aan die voorkoming van veediefstal.