Landbouweekblad

Wanneer God stilbly

-

Op my lessenaar lê ’n koerant met ’n berig en ’n foto wat my erg ontstel. ’n Ontydige en onverwagte koue het sy tol geëis en etlike veeboere diep in die moeilikhei­d laat beland. Dis skokkend hoeveel vee in die slag gebly het. Party boere het tot ’n duisend skape in een nag verloor. Die berig in die koerant is goed geskryf – saaklik, met die nodige feite, maar ook met groot deernis.

Vir my, wat op ’n plaas grootgewor­d het, was dit asof ’n stemmetjie my vra: “Veronderst­el jy het nou langs een van daardie boere by die klomp dooie skape gestaan. Wat sou jy vir hom sê?” My eerste gedagte was: “Ek sou niks sê nie, net saam met hom huil.” Ek dink God verstaan die taal van ons trane soms beter as ’n oorvloed van woorde.

In my eie lewe, wanneer iets slegs my oorkom, iets wat ek nie verstaan of kan verduideli­k nie, vra ek myself: “Wat wil die Here vir my sê?” Dinge gebeur mos nie sonder rede of bedoeling nie. Maar dan – wat die sleg nog slegter maak – is wanneer God eenvoudig stilbly. Ek onthou nog hoe ek reeds as kind die sleg van “stilbly” ervaar het. Wanneer ek verkeerd gedoen het, kon ek die straf wat daarop gevolg het, verdra omdat ek dit verstaan het. Dit was verdiende straf. Maar wanneer my ma eenvoudig stilgebly het, was die stilte eenvoudig ondraaglik. Hoekom sê Ma nie iets nie? Dit voel of my ma my verwerp het. En tog, ek het geweet en vir geen oomblik getwyfel dat sy my nooit sal verwerp nie. Ma is lief vir my!

En nou weet ek dat hierdie ervaring ook nie ’n parallel is vir wat met die boere gebeur het nie. As my ma se stilswye die straf was vir wat ek verdien het, kan dit nie sommer vir alle vorms van lyding en swaarkry geld nie. Daar is ’n groot verskil tussen straf en beproewing. Laasgenoem­de is dikwels die bemesting vir ons geestelike groei.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa