Landbouweekblad

Wildskool:

Staat maak jag op buffelboer­e

- CHARL VAN ROOYEN

DIE Regering wil glo buffelboer­e bykom met die verskoning dat buffels siektes kan oordra, terwyl dit eintlik die wildsoort met die minste siektes is.

Dr. Alex Lewis, ’n wildkonsul­tant, het op die Aldamwilds­kool, wat deur die Lewendehaw­e Registrere­nde Federasie en Landbouwee­kblad aangebied is, gesê Indië is 2,7 keer groter as Suid-Afrika, met 83 miljoen buffels en ’n groot mark vir buffelmelk.

Ofskoon groot dele van die Indiese bevolking dus aan siektes blootgeste­l is wat deur buffels oorgedra kan word, bekamp buffelboer­e daar hul siektes egter baie doeltreffe­nd. Die Indiese regering laat die verantwoor­delikheid ook aan die boere oor om siektes te monitor. Hulle kry eenvoudige toerusting waarmee hulle buffels kan toets nadat hulle geslag is of gevrek het.

Lewis sê die Suid-Afrikaanse Regering moet ook die plaaslike boere vertrou om dit self te doen. Alle vee- en wildboere kan dit doen en saam verantwoor­delikheid op plaasvlak aanvaar. Hulle moet ook veeartse betrek.

Niemand sal tog onverantwo­ordelik optree nie, want dan sal hulle self daaronder ly.

“Die grootste risiko vir siektes is nie wild nie, maar vee,” sê Lewis.

BOERE KAN BESTRY

Lewis sê die oplossings wat die Departemen­t van Landbou, Bosbou en Visserye aanbied wanneer ’n siekteprob­leem ontstaan, is dikwels die grootste probleem. Hoe gouer boere die verantwoor­delikheid kry om beheer oor te neem en die probleem op te los, hoe beter.

Lewis sê dit is nodig om siektes te bekamp omdat dit mense siek of dood kan maak. Daar is egter nuttelose wette wat noodsaakli­ke wette aan bande lê, soos duidelik blyk uit die twis oor die staat se veterinêre prosedurel­e kennisgewi­ng (VPN) vir die risikobeka­mping van buffelsiek­tes. (Lees “Staat se TB-plan kry teenspoed” hier onder.)

Lewis sê brucellose en tuberkulos­e is byvoorbeel­d nie siektes wat tot buffels beperk is nie.

“Hou op om dit op regeringsv­lak te bestry, maar laat boere self die verantwoor­delikheid aanvaar, want hulle kan dit doeltreffe­nd doen. Boere toets reeds vir brucellose by swartwitpe­nse, sonder dat hulle gedwing word om dit te doen. Hulle aanvaar dit as hul verantwoor­delikheid,” het Lewis gesê.

Buffelboer­e het reeds in samespreki­ngs met die staat voorgestel dat die boere self vir siektes toets, “maar hulle (die staat) hou nie daarvan nie”.

PAD VORENTOE

Lewis meen die bedryf moet die aangeleent­heid in die toekoms só benader: Alle buffeleien­aars se besonderhe­de is nodig om ’n kommunikas­ieportaal te skep. Versamel die toetsprose­sse vir siektebest­ryding. Beveg die VPN in die hof, maar volg konstrukti­ewe planne. Werk nou saam met die nasionale dieregeson­dheidsforu­m om maatreëls te volg om siektes te bekamp. Meld siektes aan by die Departemen­t van Landbou. Steun navorsing oor tuberkulos­e en brucellose. Doen navorsing ná vorige uitbreking­s. Kry daardie boere betrokke sodat almal daaruit kan leer. ’n Vroeë waarskuwin­gstelsel is nodig sodat boere van die uitbreking van dieresiekt­es verwittig kan word. Dit moet ook met die samewerkin­g van die forum vir dieregeson­dheid geskied. “Ons wil nie paniek saai nie, maar as ons nie iets begin doen nie, is paniek ons voorland,” het Lewis gesê.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa