Sósê’n sjokolademaker
Pieter de Villiers se onderneming DV Artisan Chocolate in die Paarl is een van net enkeles wat sjokolade maak met kakaobone wat hy regstreeks by kakaoboere in die res van Afrika aankoop. Die vasteland produseer meer as 70% van die wêreld se kakaobone, maar minder as 1% van die sjokolade.
Jul onderneming het ’n beskeie begin gehad – as ’n stokperdjie in die garage. Hoe het die idee ontstaan?
Ek het destyds op Hermanus gewoon, maar in Johannesburg gewerk en moes Maandae en Vrydae tussen die twee plekke pendel. In die week het ek gewerk, naweke het ek probeer wyn maak of brood bak, tot ek een dag op ’n vliegtuig ’n artikel oor sjokolade en wyn, en die raakpunte tussen die twee, gelees het. Albei kry hul geur uit die natuur — van die temperatuur, die grondtipe en die klimaat. Ek was glad nie bewus van die verbintenis met die landbou nie en dit het my regtig gefassineer. So het ek met verskillende kakaoboontjies van oor die wêreld heen en ’n speserymeul en koffieroostertjie in my garage begin speel. Elke streek se bone het sy eie geur gehad. Later het ek my eie tafel op ’n markie by Hermanuspietersfontein gehad om my sjokolade te verkoop.
DV was Suid-Afrika se eerste sjokoladeprodusent wat ’n “boon-tot-stafie”-benadering gevolg het. Hoekom?
Wat my sjokolade anders gemaak het, en wat my ook in sjokolade laat belang stel het, is dat jy saam met die boer werk en saam met hom die geur bepaal. Ek wou nie net iemand anders se sjokolade smelt en ’n paar neute en ander geurmiddels bygooi nie. Enigiemand kan dit doen. Ek wou juis ook nie Belgiese of Switserse sjokolade maak nie, want ek wou unieke geure hê. Al hoe ek dit kon regkry, is om by die boom, die oes en die prosesse op die plaas, soos die droging en fermentasie van die bone, en al die stappe daarna betrokke te wees. Dit bepaal die geur en tekstuur van die sjokolade.
Julle het sowat 18 maande lank kakaobone van 40 streke in die wêreld geproe. Dit klink na ’n heerlike werk! Maar watter probleme was daar?
Ons grootste probleem was die logistiek. Aangesien die besigheid in daardie stadium so klein was en in ’n wêreld van kommoditeite probeer werk het, het dit baie lank gevat om met die regte boere in die wêreld kontak te maak en hul logistieke kanale te vind. Ek kon aanvanklik nie eens regstreeks by die boere in Afrika bone koop nie omdat ek deur hul agente in Europa moes werk. Ek het sowat ses jaar gelede in Afrika begin reis en op ’n boeregemeenskap in die weste van Uganda afgekom. Ek kry nou sowat 95% van my bone by hulle.
Met so baie kakaobone wat op die vasteland geproduseer word, hoekom is hier so min sjokolademakers?
Die Britte, die Belge, Hollanders en Spanjaarde het Afrika, die Karibiese eilande en Suid-Amerika gekolonialiseer. Hulle het gou agtergekom dit verg baie finesse om kakao te maak, maar omdat dit ’n produk is wat maklik verskeep kan word as jy dit droog hou, het hulle dit dan eerder in hul eie lande gaan verwerk. Daar is nou nog groot depots in Nederland. My passie is Afrika en sy mense, en ek het besef dis soos minerale en van ons ander rykdomme waarmee baie min op die vasteland gedoen word, behalwe om dit uit te voer. Ek het toe besluit ek wil die Afrika-storie aan die wêreld verkoop. Internasionaal het daar baie markte vir ons oopgegaan danksy ons unieke geur en storie.