AFRINO BEREIK WASDOM
’n Gewaarborgde lam én ’n woltjek – in van die taaiste toestande. Dít is wat hul geharde ras in vandag se dikwels uitmergelende produksietoestande aanhou lewer, sê Afrino-telers.
Die Afrino is deesdae ’n volwaardige dubbeldoelskaapras, sê mnr. Bertus Visagie van die plaas Sandbult by Calvinia. In ’n era van hoë wolpryse lewer dié ras, wat die afgelope vier dekades veredel is, vir hom nie net ordentlike vleisproduksie deur een van die ergste droogtes in dekades nie, maar ook ’n stewige woltjek elke jaar.
Toe in 1969 met die ontwikkeling van die Afrino begin is, was die hoofdoel om ’n geharde ras te skep met witwol vir vetlamproduksie in Suid-Afrika se ekstensiewe skaapproduksiegebiede. Verder moes hy dien as kruismaat met die Merino, as teenvoeter vir wolbesoedeling wat kruisteling met nie-woldraende rasse, soos die Dorper, teweeggebring het.
Die klem destyds was eerder op ’n groter inkomste uit vleisproduksie as uit wol, sê Bertus, maar danksy jare lange seleksie vir wol van goeie gehalte staan die Afrino ook aan die wolfront vandag nie meer vir ander rasse terug nie. Die tipiese inkomste is 80% uit vleis en 20% uit wol.
Die ramme word ook lankal nie meer net in terminale kruisings gebruik nie.
Vir die kleiner hoeveelheid wol wat sy kudde per dier lewer, vergoed hulle gehaltegewys met prys; en wanneer dit by gehardheid en vrugbaarheid kom, stel hulle nooit teleur nie, sê Bertus, wat saam met sy seun, Dirkie, aan die somerreënkant van die distrik Calvinia boer.
Hy is een van vyf telers wat op vanjaar se nasionale Afrino-veiling ramme uit die genootskap se veldramprojek verkoop het. Dit was die ras se negentiende jaarlikse veldramtoets. Benewens Afrino-telers was daar ook heelwat belangstelling van Merino- en vleisskaapboere.
Die land se hand vol Afrino-telers glimlag breed oor die gewildheid van hul ras onder kommersiële skaapboere. Veral die mark vir ooie is tans onversadigbaar omdat daar ’n sterk aanvraag onder kuddeboere is na diere wat gehard en hoogs vrugbaar op die veld is, sê mnr. Martiens le Roux, jare lange teler van Bethulie.
Vanjaar se gemiddelde ramprys op die nasionale veiling was R10 203, ’n stewige verbetering op verlede jaar se R8 000.
Telers vaar ook goed met stewige ramverkope uit die hand uit van die plaas af, sê Martiens.
GEHARDHEID VOORVEREISTE
Dit was juis lae wolpryse en hoë vleispryse in die laat 1960’s wat tot die ontwikkeling van die Afrino as ’n nuwe Suid-Afrikaanse skaapras aanleiding gegee het, sê dr. Gretha Snyman van die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein buite Middelburg. Sy is in beheer van die staat se Afrino-kudde, die Klerefontein-stoetery op die proefplaas buite Carnarvon in die Noordwes-Karoo.
Dié kudde is een van twee stigterskuddes van die ras wat nog bedryf word. Dit
is ook waar die ras destyds op versoek van boere deur kleinveekundiges van die staat ontwikkel is.
Vanweë die tydperk se hoë vleispryse was daar ’n geneigdheid onder Merino-boere om hul Merino-ooie met vleisrasse te kruis. Al hierdie rasse het egter ’n steekhaar- en/of kleurprobleem gehad, wat die Suid-Afrikaanse skeersel besoedel het.
Die wolbedryf het dus via die eertydse Suid-Afrikaanse Landbou-unie ’n versoek tot die Departement van Landbou gerig om ’n witwolras te ontwikkel wat ramme vir terminale kruising met Merino-ooie in die land se ekstensiewe skaapproduksie-gebiede kan voorsien.
Benewens gehardheid en skoon wol was bykomende vereistes dat hulle op ’n jong ouderdom goeie slaglammers moes lewer, asook goeie reproduksievermoë.
Die teelprojek het in 1969 op die Carnarvon-proefplaas begin. Agt verskillende kruisings tussen Merino-ooie en verskeie skaaprasse met wit wol of haar is aanvanklik beproef. Die wetenskaplikes wou ’n witwolskaap teel waarin die wolgehalte van die Merino met die reproduksie- en vleisproduksie-prestasie van die vleisskaaprasse gekombineer word.
Teen 1976 was dit duidelik dat die kruising met 25% Merino, 25% Ronderib-Afrikaner en 50% SA Vleismerino die geskikste vir die ontwikkeling van hierdie nuwe ras was. Sedertdien is die kudde vermeerder en veredel tot wat vandag die Afrino is. Die telergenootskap is in Februarie 1980 gestig, en rasstandaarde is neergelê.
VIER DEKADES VAN TEEL VIR VLEIS EN WOL
Die Klerefontein-staatskudde word nog altyd as ’n geslote stoetery bedryf. In die vroeë fases van die eksperiment was seleksie grootliks geskoei op die lammers se groeitempo, ooie se reproduktiewe prestasie, en die afwesigheid van steekhaar en gekleurde vesel.
Alle diere met ’n swak bouvorm en uitermatige steekhaar of kleurvesel is op 18 maande uitgeskot, en ramme is toe op grond van na-speense groeitempo geselekteer. Ooie is aanvanklik nie vir hul groeiprestasie geselekteer nie sodat die teelkudde vinniger vergroot kon word.
Teen 1981 is die ooikudde die eerste keer op grond van die amptelike rasstandaarde geklas. Alle ooie waarvan die liggaamsgewig meer as 10% onder die gemiddelde was, is uitgeskot.
Sedert 1987 is net ramme met bogemiddelde indekse vir voor- en na-speense groeieienskappe, asook ondergemiddelde veseldikte in die kudde gebruik.
Groot klem is ook op wolgehalte en die eenvormigheid van die skeersel geplaas, terwyl die hoeveelheid wol min aandag gekry het. Sedert 1991 is alle seleksie in die kudde volgens BLUP-waardes gedoen, met voorkeur vir hierdie eienskappe.
In dieselfde jaar is die volgende seleksiestrategie vir ooie begin: Ooie met té hoë veseldikte (bo 23 mikron) is uitgeskot.
Drie jaar oue ooie is met hul tweede lamkans ook op grond van reproduktiewe prestasie geëvalueer, en dié met ondergemiddelde totale gewig van hul speenlammers is grootliks uitgeskot.
Tot 2000 was seleksiemikpunte dus om reproduktiewe prestasie en liggaamsgewig te verhoog, veseldikte te verlaag en wolgehalte te verbeter. Om ’n afname in vag-skoongewig en
“creeping belly” (die opkruip van penswol teen die kante van die dier in die vag
op) te voorkom, is besluit om voortaan groter klem op wolgewig te plaas, veral in die seleksie van jong ooie. Die heersende seleksiedoelwitte is dus die verbetering van reproduktiewe prestasie, die handhawing van liggaamsgewig, wolgewig en veseldikte, en die verbetering van wolgehalte.
Die enigste jare dat die Klerefontein-kudde sedert sy ontstaan nog byvoeding op die veld gekry het, was van 1982 tot 1984 vir die ooie en jong diere, en in 1992 vir dragtige en lakterende ooie toe reënval ondergemiddeld was ná ’n paar jaar van gemiddelde reënval.
Oor tien jaar het die Klerefontein-kudde 137% lammers gespeen van die ooie wat gepaar is. Die ras is bekend vir sy goeie slaglammers met goeie vetverspreiding. Hulle hoef dus nie op ’n vroeë ouderdom, wanneer hulle nog ’n ligte karkas sal lewer, bemark te word om goeie graderings te behaal nie. Lammers kan op vier maande met ’n tipiese gewig van 32 kg tot 35 kg regstreeks van die veld af bemark word.
VAN VOERKRALE TOT EKSTENSIEWE GEBIEDE
Omdat hulle nie vroeg vet aansit nie, is die lammers en Afrino-kruislammers in voerkrale gewild. Boonop lewer die Afrino sowat 3 kg wol per ooi wat ’n lam grootgemaak het. Die wol wissel van 18-22 mikron, en is vry van steekhaar. Die ideale lengte is van B tot A (60-80 mm) vir 12 maande se groei. In die genootskap se jongste veldramprojek was die ramme se gemiddelde woldikte 18,6 mikron. Produksienorme is as volg: Ouderdom met eerste lam: 17 maande; Gemiddelde bemarkingsouderdom: 7 tot 9 maande op 42 kg in ekstensiewe toestande; Uitslagpersentasie: 46; Karkasgewig: 19,3 kg. Danksy die invloed van die Ronderib-Afrikaner is die Afrino besonder gehard en gedy dié grootraamskape met min sorg in die ekstensiewe gebiede van die Suid- Vrystaat, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Karoo en Namakwaland, sê Gretha. Nie-selektiewe weigewoontes lewer ’n groot bydrae, en hul goeie loopvermoë maak hulle geskik vir bergagtiger gebiede.
“As daar weiding is, lê Afrino’s nie by die water nie,” sê Bertus.
GEHARDHEID
Telers skryf die voortgesette gehardheid van Afrino’s daaraan toe dat sowel teelooie as -ramme in presies dieselfde toestande geselekteer word as waarin hul nageslag moet presteer.
In die veldramprojek én staatskudde word diere nooit gepamperlang nie.
Mnr. Martiens le Roux van die plaas Môreson by Bethulie, wat al 18 jaar die projek se data-insameling behartig, sê die lammers vir die heel eerste veldramtoets was 1998-boorlinge. Sedertdien word van 80 tot 100 veldramme jaarliks getoets.
Lammers word ingeneem wanneer hulle tussen 3 en 5 maande oud is. Hul innamegewig wissel van 28 kg tot 48 kg. Daarvolgens word hulle ter wille van akkurate vergelyking in ’n ligte en ’n swaar groep verdeel, om ligter lammers uit laer reënvalstreke en tweelinge ook ’n regverdige kans te gee.
Die gewig van diere binne ’n groep mag nie met meer as 10 kg verskil nie.
Die toets duur ses tot sewe maande en geskied uitsluitlik op die omgewing se gras-en-bossieveld sonder byvoeding. Die ramme word elke maand geweeg.
Vagdata is vanaf inname, wanneer hulle die eerste keer geskeer word, en dan nog ’n skeersessie sewe maande later. Van elkeen word volledige wolontledings gedoen, waarvan die belangrikste vir mikron, skoonopbrengs en lengte is.
Binne twee weke nadat die toets afgehandel is, word die diere se gemiddelde daaglikse gewigstoename uit die data bereken en ’n seleksie-indeks saamgestel. Die eerste keuring vind in die eerste twee weke van September plaas, waarná hulle die tweede keer geskeer word. Dan volg die laaste keuring in die laaste twee weke van Januarie.
Alle ramme met ’n seleksie-indeks onder 85 word voor die voet geslag, asook ramme met ’n skoonvag-indeks onder 70.
Een van die belangrikste aspekte van die toets is vir Martiens die kondisiepunt-evaluering. Al die toetsramme se vetbedekking oor die lende en ribbes word geëvalueer. Met elke evaluasie word elke ram twee keer daarvoor gevoel en ’n punt van 1 (vir brandmaer) tot 7 (oorvet) toegeken. Op grond van hul kondisiepunte word die ramme dan in ’n ligte, medium- en swaar groep verdeel.
Die redenasie is dat die swaarder ramme nader aan wasdom behoort te wees, wanneer hul spiere en skelet nie meer soveel groei nie en hulle eerder vet begin neerlê, sê Martiens.