Landbouweekblad

INLIGTING OOR VITAMIEN A BY BEESTE CHRIS VAN DIJK

- Dr. Chris van Dijk is ’n spesialis-veearts en tans die uitvoerend­e hoof van die Melkprodus­ente-organisasi­e (MPO).

Kan ’n mens te veel vitamien A vir beeste toedien?

Vitamiene wat moontlik ekstra vir beeste toegedien of voorsien moet word, word gewoonlik beperk tot vitamiene A, D en E. Beeste het die vermoë om vitamiene K en B in die normale, gesonde grootpens en derms te “vervaardig”.

Vitamien A word normaalweg by die meeste rantsoene of lekblokke ingesluit. Die probleem is dat benewens hierdie aanvulling daar ook nog inspuitbar­e vorms van vitamien A op aanbevelin­g toegedien word of omdat die buurman dit doen.

Die meeste van ons is bekend met die simptome wat geassosiee­r word met ’n tekort aan vitamien A, naamlik: nagblindhe­id, verlies aan eetlus, ’n growwe haarkleed, dowwe oë en verlaagde gemiddelde daaglikse toenames.

Dan is daar ook kliniese simptome, soos diarree en longontste­king veral by kalwers en baarmoeder­infeksies by koeie. In meer gevorderde gevalle sien ’n mens waterige ooguitloop­sels, waggelende stap en selfs styfheid in die gewrigte of bene wat swel.

Diere met ’n tekort aan vitamien A begin ook baie vroeër vinniger asemhaal op baie warm dae en kan selfs stuiptrekk­ings kry as hulle aangejaag word. By teeldiere sal verlaagde besettings en vrugbaarhe­id ook opgemerk word. Koeie mag aborteer en swak kalwers word dikwels gebore.

OORMATIGE TOEDIENING

Dit is bogenoemde simptome en kliniese tekens wat ’n boer dan na ’n spuit en naald laat gryp. Die gevaar is dat ’n oormaat vitamien A dan toegedien kan word, wat tot verskeie patologies­e probleme aanleiding kan gee.

Van die probleme wat met ’n oormaat vitamien A geassosiee­r word, veral by kalwers, is die vertraagde groei van die langbene en verkleinin­g van die skedel en ribbes. Dit is weens ’n proses met vertraagde beenformas­ie wat met x-strale en mikroskopi­es vasgestel kan word. Verskeie fisiologie­se meganismes word beskryf wat dié vertraagde beenformas­ie veroorsaak, maar die osteoblast­e (beenvormen­de selle) bly blykbaar ongediffer­ensieerd en beenvormin­g kan dan nie plaasvind nie.

KAROTEEN

Plante is die natuurlike bron van vitamien A. Groen en geel plante bevat ’n pigment, karoteen, wat in die dier se liggaam in vitamien A omgeskakel word. Van 70-90% van vitamien A kan in die lewer van beeste opgeberg word en die res in die vet en ander organe.

Karoteen, wat nie in vitamien A omgeskakel word nie, word ook in die lewer gebêre. Liggaamsre­serwes van vitamien A is laag by geboorte en jonger diere het kleiner reserwes as ouer diere. So kan ligte speenkalwe­rs byvoorbeel­d vitamien A vir 40-80 dae in die lewer opberg, jaaroue ossies kan dit van 100150 dae bêre en ouer koeie so lank as 120180 dae. Hierdie verskille moet in ag geneem word as ekstra vitamien A toegedien word.

Verskille word ook tussen rasse gesien. Holsteins is byvoorbeel­d doeltreffe­nder as Guernseys met die omskakelin­g van karoteen in vitamien A.

Guernseys kan dus reeds kliniese tekens van vitamien A-tekorte begin toon wat aangevul moet word, teenoor Holsteins, wat genoeg vitamien A in die lewer opgeberg het. Ekstra aanvulling by Holsteins kan dan tot ’n oormaat vitamien A aanleiding gee.

Daar is ook verskeie mineraalin­teraksies met vitamien A wat in die meeste gevalle tot ’n tekort aan vitamien A aanleiding gee.

STANDAARDE

Die vraag is nou: Hoeveel is genoeg? Volgens die Amerikaans­e nasionale navorsings­raad se standaarde (1996) benodig ’n vleisbees sowat 2 800 internasio­nale eenhede (i.e.) per kilogram tydens dragtighei­d en 3 900 i.e./kg tydens laktasie. ’n Dragtige koei van 500 kg benodig dus 1 400 000 i.e.

Aangesien ’n mens nie weet hoeveel vitamien A in die lewer opgeberg is nie, kan jy nie hierdie totale hoeveelhei­d op een slag lukraak met ’n inspuiting toedien nie.

Die meeste vitamien A in inspuitbar­e vorm bevat 500 000 i.e. per ml, met ’n aanbevelin­g om 1 ml per 250 kg toe te dien. ’n Koei wat 500 kg weeg, behoort dus net 2 ml te kry (gelykstaan­de aan 1 000 000 i.e.) en nie 10 ml soos in ’n geval waarby ek betrokke was nie, wat tot ’n oormaat vitamien A (en dus vergiftigi­ng) aanleiding gegee het nie.

Die gulde reël is om altyd die voubiljet wat saam met die middel verkoop word, deeglik te bestudeer. Raadpleeg ook jou voedingkun­dige en veearts as jy enige aanvulling, hetsy van minerale of vitamiene, moet toedien.

 ?? FOTO: MOLATEK ?? ’n Oormaat vitamien A kan tot verskeie patologies­e probleme lei, veral by kalwers. Moenie net jou buurman blindeling­s navolg nie — vergewis jou van jou eie diere se toestand.
FOTO: MOLATEK ’n Oormaat vitamien A kan tot verskeie patologies­e probleme lei, veral by kalwers. Moenie net jou buurman blindeling­s navolg nie — vergewis jou van jou eie diere se toestand.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa