Ná die fiasko met die wit emmertjie is daar nooit weer op hierdie plaas afval geskrop óf geëet nie.
loppie . . .!” Dis nou ek — jare gelede. “Moos slag ’n bielie van ’n volbek-Merino-gusooi. Sê vir Nôghaka sy moet die afval spierwit skoon krap.
“Ek het vir Dik-Drik ene belowe. Ons kan dit sommer môre saamneem as ons Aliwal toe gaan,” beveel Dun-Koot, dis nou my man.
Nou verstaan ek die skaapvangery in die stowwerige kraal . . . terwyl ek net eergister ’n slagding vir die huis moes bewerk.
Nôghaka sit gehurk langs die stomende driepootpot omring deur Minora-blades, kalk, ’n skuurklip en bolle Merinowol. In my gebrekkige derde taal gaan beduie ek die belangrikheid van die operasie.
Ek dra ook koffie, pruimtwak en ys aan as sy die klein byltjie woes swaai. Ek kyk hoe sy die harsings behendig in die kleinpensie toeknoop.
Die spierwit afval word in ’n ewe wit verfemmertjie met ’n skeut sout toegedeksel en in die sifkas in die melkrondawel gesit.
Dit was gister. Die volgende Saterdag is dit interskool-atletiek en ons vyftal wikkel vroeg. “Fraan, gaan haal gou die emmertjie by oom Bakkies. Ek het ’n spesmaas daar is ’n vet biltong in — hy slag mos vroeg bees. Toe roer jou!”
“Dis vol,” rapporteer Seun toe hy die biltonghouer op my skoot neerplak.
“Ons eet die biltong as ons vanmiddag teruggaan plaas toe. Ma kan bestuur, ek sal kerf,” laat Pa alle vroeë verwagtinge in die niet verdwyn.
Emmertjie word in die kattebak toegesluit waar ons naby die bane parkeer. Dit roer en roei op die veld en pawiljoen en die kinders verdwyn. Pa gaan soek tussen die voertuie na Dik-Drik; na sy koffie-royal as jy mý vra. Floppie bly natuurlik soos Kiepie in die warm motor sit.
Die dag stap aan, my atlete kom soebat vir ’n soutdingetjie. Ek stuur hulle weg met ys en koelies. En net daar pak die lus vir ’n soutigheidjie my mos met mening. Ewe nonchalant drentel ek agtertoe en kry die dekseltjie beet, maar emmertjie hou binne wat binne hoort.
“Haai Floppie, wat maak jy?” My boerman se baldadige stem laat my in my volgende stormloop stuit. ”Ek . . . soek sommer my een breinaald . . . dit moes hier uitgeval het.” En hy sluk swaar my lamlendige verduideliking. my duim buig agteroor teen die paneelbord. “Wat is dit?” brul Pa. “Biltong . . . ” teem hulle. Kamma teësinnig gaan haal Pa die emmertjie uit, kom plak dit op my skoot neer en laat waai weer op die teerpad. “Maak oop, Floppie, ek is haastig.” Ek probeer nie eens nie, en stoot emmertjie oor na hom toe. My duim, beduie ek.
“Hou dan tog net die ding vas.” En hy knak vir dekseltjie met sy gebreide plaasvingers oop.
Met die oopknak, ontplof daar ’n mini-Hirosjima. Walms van swawel, vrot aartappels, verworde vleis en stinkvoete tref ons in ’n vloedgolf.
Almal gryp na mond en neus, terwyl Pa in vreemde tale praat.
Ek sit begogeld en staar na die grieselrige stel tande wat van onder af deur die spleet uitrys. Toe die bleekslym-skaaplip vir my gryns, breek my verstarring en ’n gil spoel oor my lippe.
“Gooi die blêrrie ding by die venster uit, vroumens,” gil die skaapboer in volle volume, maar vroumens skop styf met die gekweste duimpie in die lug.
Dis dan Pa wat met ’n verwensing emmertjie kom gryp en met ’n wilde swaai wegslinger. Maar toe breek die stingeltjie en hy gooi ’n verbysukkelende fietsryer bo van sy fiets af.
“Rrryy . . . Paa!!” gorrel ons vier deur stram keelspiere, voordat Pa nog sy voet op die petrol kan kry.
Om hom net meters verder weer tot stilstand te dwing en brullend buite op die knieë van al die lekkerte van die dag ontslae te raak. Pa waai en blaas en trek vuurhoutjies om die stank te verdun.
En ek staan in my onderrok in die opelug en huil.
’n Bleek-naar Fraan moes woordeliks die twee boodskappe wat hy moes oordra, herhaal.
“Die *^%!# het dan nooit die emmertjie vir Dik-Drik gegee nie en toe . . . toe staan die afval daar vir ’n week en VROT!!”
Maar oor een ding is eenstemmigheid bereik: Op hierdie plaas word nooit weer afval gekrap of geëet nie. Nie vark nie, nie skaap of bees s’n nie. Sybil Venter woon in Trompsburg se tehuis vir bejaardes.