DIE ANDER SÊ
INDIEN die Regering ’n sukses wil maak van die herverdeling van grond en transformasie in die landbousektor, sal hy eers die sistemiese probleme moet aanpak wat die sektor reeds jare lank ondermyn. Dit blyk uit die sigbare verval in verskeie KwaZulu-Natalse landboudorpies. Dié verval is nie die gevolg van wie die grond besit of wie daarop boer nie, maar van wêreldwye neigings en beleidskeuses wat die sektor oor dekades heen ondermyn het.
Die ooglopendste daarvan is ’n neiging na groter plase. Daarmee saam gaan ’n afname in die aantal boere, sowel as die aftakeling van die dorpies wat hulle eens onderhou het en die lewenstyl wat eens aanloklik was, maar nou nie meer is nie.
In een dorpie het ons gesien hoe boerderyverwante ondernemings tot niet gaan, en werkershuise wat twee jaar gelede nog bruikbaar was, staan nou leeg en is gevandaliseer.
Ons het ’n boer teëgekom wat sy plaas verkoop het aan ’n groot konglomeraat en aangebly het om die plaas te bestuur. Die nuwe eienaars het die werkers behou, maar hul salaris verminder tot die minimum loon, soos in ander sake-eenhede. Met die nuwe eienaar se kapitaal kon die boer in besproeiing en nuwe masjinerie belê om die plaas se opbrengs op lang termyn te verhoog, maar dié ontwikkelinge was duidelik nie ’n netto voordeel aan die gemeenskap nie.
Dit is duidelik dat die klem in Suid-Afrika wegskuif van kleinskaalse boerderye, ongeag die boer se ras. Grondhervorming soos dit tans in die vooruitsig gestel word, sal nie die probleme oplos nie.