Landbouweekblad

TEKORTE IN DIE OORVLOED

- — CHRIS BURGESS

Die herfsreën kan kwalik mooier wees in die meeste van die somerreëng­ebiede. Op plekke sommer baie, en gereeld. In my wêreld in die Noordoos-Kaap loop die ou plaasdam op pad grootpad toe vir die eerste keer in byna tien jaar oor. Oral word die grondwater aangevul, en die aanry van water na die vee is iets van die verlede. Die wêreld lyk mooi, die beeste is vet en die prys hou darem nog (soort van).

Wanneer ’n vriend kus se kant toe nie sy armmanslus­ern gebaal kan kry vanweë al die reën nie, tref dit my dat ek jare laas gehoor het dat ’n boer oor die nattigheid kla wanneer hy moet baal! Die alternatie­f is soveel erger, en die droogte lê nog vlak in die geheue.

Die reën laat ’n mens weer ’n bietjie hoop skep, maar daar is mense wat waarsku dat ons nie té gerus moet raak nie. Soos dr. Peter van Niekerk, voormalige hoof van waterhulpb­ronbeplann­ing by die Departemen­t van Water en Sanitasie. Ja, die Vaaldam loop dalk tans oor, maar dit is eintlik ’n hengse probleem, sê hy. Die damme hoër op, soos dié in die Lesotho-Hooglandsk­ema, is onrusbaren­d leeg. Dié damme voed die hele Vaalrivier­stelsel saam met die vol Sterkfonte­indam (wat sy water uit KwaZulu-Natal kry). Dit is die water wat Suid-Afrika se ekonomiese hartland, Gauteng, aan die gang moet hou. Die landbou in ons besproeiin­gsgebiede is ook daarop aangewese. Die Katsedam is 66% vol en die Mohaledam net 36%.

Terloops, daar is nog plek vir 1 000 miljoen kubieke meter water in die Hooglandsk­ema — byna drie Loskopdamm­e.

Die rede vir die leë damme? Volgens ’n waterverbr­uiksooreen­koms van 1986 tussen Suid-Afrika en Lesotho kan Lesotho water uit die damme laat vloei om hidro-elektriese krag op te wek. Daardie ooreenkoms moes al met die tweede fase van die Hooglandsk­ema hersien word, want almal het geweet die Vaalrivier gaan teen 2019 bykomende water nodig hê. Ongelukkig het Nomvula Mokonyane, Suid-Afrika se voormalige Minister van Water en Sanitasie, hierdie noodsaakli­ke projek as ’n gulde geleenthei­d vir tenderverr­yking gesien, en vandag is die voltooing van die Hooglandsk­ema tot 2025 uitgestel, met ’n meegaande styging in die koste waarvoor die vuisvoos belastingb­etaler sal moet opdok. En nou is die staat se geld op en die belastingb­etaler kan kwalik verder gemelk word. Wat nou?

Magda Wierzycka van die batebestuu­rsfirma Sygnia stel voor daar word gekyk na infrastruk­tuureffekt­e wat verdienste waarborg deur op goed bestuurde projekte klem te lê. Nou is juis die tyd vir sulke alternatie­we beleggings­opsies, meen sy. Met Donald Trump en China wat mekaar die stryd aansê, is groter ekonomiese onbestendi­gheid ons voorland. Die verdienste uit tradisione­le aandelemar­kte daal reeds en sal verder kwyn namate die goedkoop geld wat die Amerikaner­s en Europeërs in hul ekonomie ingepomp het, ál minder word. Plaaslik bemoeilik Naspers se oorheersin­g van die JSE enige diversifik­asiestrate­gie, terwyl die Steinhoff- en Resilient-debakel mense se vertroue in aandelebel­eggings lelik geknou het.

Maar dit bring ons weer terug na die staat, wat dié beleggings­trukture sal moet skep. Mense soos Mokonyane moet liefs so ver weg as moontlik van die proses gehou word, terwyl haar plaasverva­nger, Gugile Nkwinti, ook nie veel vertroue inboesem nie.

Intussen kom die dag wanneer die herfsreën weer gaan wegbly al hoe nader.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa