Landbouweekblad

Jou storie: O, Karooland!

Stadsjapie­s dink die Karoo is ’n vreemde plek waar die dorpe slegs die basiese bied en bure oor en weer van mekaar skinder. Maar dis net ’n spesiale mens wat die Karoo verstaan en liefkry, en daar kan wortel skiet.

-

In die Karoo ry die vroue met bakkies as “dorpskarre”, want ’n klein, ekonomiese karretjie gaan ons nie veilig op die plaas kry nie. Ons ruil ons eie bande om en ons weet hoe om te maak as elke liggie aankom, want ’n selfoonsei­n is nie so volop soos asemhaal hier nie. Die vroue hier is óf ’n juffrou óf sy werk in die mediese veld óf sy doen haar boer se boeke op die plaas óf sy is kreatief en hou haarself besig. En dis oukei, want elkeen het ’n belangrike­r rol as wat enigeen van buite ooit sal verstaan.

Hier kan ons nie vir jou vooraf sê wat ons naweekplan­ne is nie, want ons raak elke naweek só besig met “niks” dat ons nie tyd kry om te beplan nie. Ons kuier bymekaar, ons ken ons bure en ons weet van elke nuweling op die dorp – ’n voorreg wat byna geen stadsjapie ooit sal ken nie. Jy dink so baie kere hier dat jy alleen is en dat die “spulletjie” hier net oor en weer skinder. Maar hou jou kant skoon en kom nou regtig in die nood, dan sal jy sien hoe jy baie meer opregte steun en omgee sal ervaar as wat enige persoon in die stad ooit sal ken. Dís wanneer ons ons “vaal, vervelige” platteland opnuut waardeer.

PLAT OP DIE AARDE

Stadsjapie­s dink ons is vreemd, want hoe oorleef mens met net ’n OK, ’n Pep en dálk een eetplekkie (as ons gelukkig is)? Maar . . . ons doen en ons lééf! Ons raak opgewonde oor die nuwe koffiebeke­rs wat Pep aanhou en die vars groente en vrugte wat die OK ingekry het. Hier bly die mense se voete op die grond, want ons weet dat alles in die lewe nie as vanselfspr­ekend aanvaar kan word nie.

Hier is die mense dankbaar. Ons raak almal soos kinders as dit reën, want ons verstáán die waarde van elke liewe druppel wat val. Want water is lewe.

Die vroue hier kan byna almal kook en koekbak, want die kerkbasaar moet elke jaar iets lekkers hê om te verkoop en die bakkery met die fancy goedjies is te ver.

Ons is innig lief vir ons omgewing, lief vir ons diere en lief vir mekaar . . . al lyk dit nie elke dag so nie.

Hoe lekker al hierdie dinge ook al klink, is almal beslis nie vir hierdie eenvoud gemaak nie. Dit is ’n baie unieke tipe mens wat van buite kan kom, hier kan aanpas en die lewe hier sal verstaan.

Ons huise is altyd vol kuiergaste uit die stad en elkeen “raak verlief op die plaaslewe”, maar dit verg ’n spesiale mens wat vir die res van sy of haar lewe hier kan bly en ’n lewe kan maak. Want hier moet jy regtig oukei wees met jouself. Lannice de Klerk is ’n Karookind in hart en siel. Sy het op Victoria-Wes in die Groot-Karoo grootgewor­d en hou tans skool op Loxton. Die see is vir haar lekker en die stadsliggi­es is mooi, maar sy sal nooit enige ander plek huis kan noem nie, want sy besef daagliks watter wonderwêre­ld die Karoo is. Lannice glo ’n mens kies nie die Karoo nie; die Karoo kies jou. Haar wens is dat almal minstens een keer in die Karoo kan gaan stil word, want sy’s seker dis waar ’n mens die naaste aan die hemel is.

Die verhaal het oorspronkl­ik op Facebook verskyn.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa