Pionier hou steeds die leisels
Pieter Loubser is ’n Friesperdpionier wat as hardwerkende jong man bedags by vervoermaatskappye gewerk het en snags melklorries bestuur het. Só het hy die bynaam Dag-en-Nag gekry.
Perde is al van kindsbeen af in Pieter (Dag-en-Nag) Loubser se bloed. As klein seuntjie moes hy die melkwa, getrek deur perde, dryf. Hy het ook sy eerste swart perde gekoop nog voor die Friesperdras erken was. Hy is in 1928 op die plaas Soetendal in Wellington gebore. Dit was harde jare gewees en hy was ’n armmanskind. As elfjarige moes hy soggens al 02:00 opstaan om sy pa se melkery aan die gang te hou.
Wanneer hy praat van sy mentor, wyle Lambert Smith van die plaas Vondeling in die Agter-Paarl, haal hy sy sakdoek uit sy broeksak en vee die trane af. Lambert was soos sy tweede pa en het hom die fyner kunsies van koetsiervernuf geleer.
Pieter het jare lank Lambert se Vlaamperdhingste in aksie bewonder, asook sy ongelooflike koetsiervermoë. Ander perdemeesters na wie Pieter opgesien het, was Ben Mostert, Jan Eksteen en die Smit-broers.
SPOGPERDE
Pieter het steeds sy eie kantoor by Loubser Transport op Malmesbury, waar ek my verkyk het aan die swart-en-wit-foto’s teen die mure. Hy onthou elke perd se naam: Nugget, Ektor, Sieraad, Jublet, Welkom, LG, Riempies, Boland, Douglas, Vermaak, Leffert . . .
Hy het in 1974 sy eerste teelhings by Ben gekoop. Dié hings se naam was Riemer en hy is uit Friesland ingevoer. Riemer en sy seun KW het van 1982 tot 1988 die grootkampioenskap vir ’n paar hingste in die tuig gewen.
In ’n stadium het Pieter 60 swart perde gehad en soggens selfs van 03:00 af begin om almal te versorg. Hy het met sy Friesperde 36 jaar agtereenvolgens die SA dubbeltuig-kampioenskap op Tulbagh gewen. Deesdae is sy kleinseun Pieter jr. agter die leisels, met Pieter sr. se agterkleinkinders wat ook graag deelneem.
Pieter was die stigterslid van die SA Friesperdtelersgenootskap en het van 1984 tot 2016 ononderbroke in die raad gedien. Hy was ook 12 jaar lank die voorsitter en die langsdienende voorsitter van die genootskap.
BOBAASKOETSIER
Verlede jaar, op die Lutzville-skou, het ek onthou dat Pieter amper 90 jaar oud is. Ek het twee Vlaamperde by Boeta Smit van Lutzville gaan leen en hy het ook vinnig ’n koets vir my gereël. Daardie middag het ek in die dubbeltuig-koetsperdeklas gedrywe met Dag-en-Nag langs my. Toe ons die bult afry en die skou-arena binnegaan, het Pieter gevra: “Sussie, kan jy drywe?” “Oom, ons sal maar moet sien.” Met die eerste draai in die arena het oom Pieter se hande so bo-oor myne gevat. Sy hande het verskeie kere sommer so outomaties saam met my die leisels gehou. Dit was instink en adrenalien – hoe dan nou anders ná soveel jare se dryf? Ons het die klas gewen en ek het besef dat ’n groot baanbreker en leermeester op die gebied van swart perde daar langs my op die koets gesit het.