Só melk Tsjeg ná grondhervorming
Vir Suid-Afrika is daar baie lesse te leer uit die manier waarop grondhervorming in die Tsjeggiese Republiek geskied het. In dié land was daar daadwerklike pogings om die ongeregtighede van die verlede reg te stel sonder om die landbou of die ekonomie in
Die einde van Kommunisme in die laat 1980’s en die daaropvolgende grondhervorming in die Tsjeggiese Republiek het daartoe gelei dat die meeste boerderye vandag deur maatskappye of koöperasies bedryf word. Die boerderye is modern en van die suksesvolste in Europa.
Nadat die Tsjegge in 1989 van die Kommunistiese bewind bevry is, is daar begin werk aan maniere om mense vir hul verliese te vergoed. Die probleem was dat die meeste mense geen verbintenis meer met die grond gehad het nie.
Voorheen benadeeldes, wie se grond in die Kommunistiese era van hulle ontneem is, het ’n paar opsies gehad: Hulle kon hul stukkies grond terugkry en self boer (net 2% het dié opsie verkies), óf hulle kon dit uitverhuur, óf aandele kry in ’n koöperatiewe boerdery óf hulle kon uitbetaal word. Baie van die koöperasies is later in maatskappye met aandeelhouers omskep.
Prof. Frantisek Kumhala, direkteur van presisieboerdery by die Tsjeggiese Universiteit vir Lewens wetenskappe, sê dit het daartoe gelei dat die landbousektor se struktuur daar heel anders lyk as in die res van Europa.
“Sowat 30% van die landbougrond word deur individuele boere bewerk en die gemiddelde plaasgroottes is 32 ha. Die ander 70% word deur maatskappy of koöperasies bewerk en die gemiddelde plaasgrootte is 580 ha, hoewel plase van ’n paar duisend hektaar nie ongewoon is nie.”
Hy sê in die Kommunistiese era het staatsondernemings boerderye op plase van 1 000 ha tot 3 000 ha bedryf, maar daarna is al die stukkies grond aan die oorspronklike eienaars of hul nasate teruggegee. Soos hy self ook met sy grond doen, ver-
huur die meeste eienaars hul lappies grond aan maatskappye wat boer.
Die boerdery-onderneming Bernartice in die Suid-Boheemse streek is een só ’n maatskappy.
Die boerdery, hoofsaaklik ’n melkplaas, word bedryf op 2 900 ha waarvan 400 ha deur die maatskappy besit en die ander 2 500 ha van individuele grondeienaars gehuur word. Die onderneming het 320 aandeelhouers en speel ’n belangrike rol in die ekonomie van die streek en die plaaslike dorpie, Bernartice, met sy 1 300 inwoners.
TIPIES TSJEGGIES
Boerderye, soos hierdie, is algemeen in die Tsjeggiese Republiek. Daar is sowat 1,2 miljoen grondeienaars wat stukkies grond van gemiddeld 3,23 ha besit en dit uitverhuur.
By Bernartice word op 1 000 ha van die grond koring geplant, op 500 ha raapsaad, op ’n verdere 500 ha gars en op nog 500 ha aangeplante weiding.
Hulle hou ook 1 700 beeste aan waarvan 600 Holstein- en Simmentaler-melkkoeie is wat jaarliks sowat 4,5 miljoen liter melk lewer. Dié moderne melkery word deur vier mense beman wat in twee skofte van twee op ’n slag werk.
Alle melk word aan ’n koöporasie gelewer, wat dit dan verder na verwerkers versprei.
Die boerdery is vier jaar gelede bekroon as die doeltreffendste boerdery in Suid-Bohemië en het ook al ’n tweede plek behaal in die landwye kompetisie vir doeltreffende boerderye.
Mnr. Pavel Novotny, wat al 31 jaar as uitvoerende hoof betrokke is, sê die boerdery word bedryf deur 46 werknemers.
“Ons strategie is om plaaslike jong mense in diens te neem. Hul produktiwiteit is hoog en ons het die afgelope vyf jaar geen verwisseling van personeel gehad nie.”
Hy sê deel van hul uitbreidingsplanne
is nuwe koeibehuising wat onlangs teen ’n koste van 19 miljoen krone (sowat R11 miljoen) opgerig is.
Van die grootste frustrasies waarmee hulle te doen het, is
administratiewe rompslomp en die onsekerheid oor landboubeleid ná 2020 omdat die Europese Unie hom al hoe meer toespits op hulp aan kleiner boere.
Hulle is ernstig gekant teen voorstelle van die Europese Kommissie om subsidies vir groot boerderye te beperk. Volgens hom is die gedagte om net subsidies vir die eerste 300 ha van ’n plaas toe te laat.
“Ons kan nie met hierdie plafonne saamstem nie. Ons het die subsidies nodig om internasionaal mededingend te kan wees.”
Soos in baie ander dele van die wêreld was melkpryse die afgelope twee jaar ’n groot knelpunt. In 2016 was die gemiddelde prys onder 30c/ℓ en verlede jaar sowat 36c/ Volgens Novotny is hul gelykspeelpunt 35c/ℓ met sudsidies in ag geneem. Sonder subsidies sal dit hoër moet wees.
Nogtans is hy optimisties oor die landboutoekoms.
“Die wêreld word ryker en die vraag na landbouprodukte groter. As ons nie van die toekomstige potensiaal seker was nie, sou ons nie soveel geld aan uitbreidings bestee het nie. Die regering ondersteun die veebedryf en ons sien steeds ’n blink toekoms.”
Nico van Burick se besoek aan die Tsjeggiese Republiek is moontlik gemaak met ’n borgskap van Santam Landbou.