Saamwoon of trou?
Die spreekwoord lui dat trou nie perdekoop is nie, maar om saam te woon is ook nie so eenvoudig nie. In albei gevalle is daar wetlike gevolge indien die verhouding beëindig word of een van die partye sterf.
Om te trou het ernstige wetlike gevolge. Trou is ’n kontrak en moet aan die voorgeskrewe formaliteite van die wet voldoen, byvoorbeeld:
■ Die huweliksbevestiger moet wettige huwelike mag bevestig;
■ Die partye is nie reeds getroud nie;
■ Hulle is oud genoeg om te trou;
■ Hulle is nie binne die verbode grade van verwantskap nie;
■ Daar is geen beletsel teen die voorgenome huwelik nie; en
■ Daar moet minstens twee bevoegde getuies teenwoordig wees. Die gevolge van die huwelik behels dat gades die reg het op intestate erfopvolging; hul buite-egtelike kinders raak gewettig, ’n minderjarig party raak mondig tydens die huwelik en ten volle handelingbevoeg (emansipasie vind plaas); daar is ’n wedersydse onderhoudsplig tussen die gades; hulle is gelyke vennote en kan aan mekaar geskenke gee (vry van skenkingsbelasting). Dié dinge kan nie by saamwoonpare gebeur nie.
Saamwoon (cohabitation) word egter deur die reg ook as ’n kontrak tussen partye (mondelings of skriftelik) beskou. Saamwoon kan gebeur bloot om die koste te deel of om saam te bly soos huweliksmaats, maar dit is altyd beter om ’n skriftelike kontrak op te stel ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse, Wet 17 van 2006 (Civil Union Act).
Getroude mense het regte ingevolge verskeie wette, wat saamwoonpare nie het nie. Kyk byvoorbeeld na dié wette:
■ Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81
van 1987): As ’n getroude persoon sonder ’n testament sterf, erf die langslewende ’n kindsdeel van die oorledene se bates. Saamwoonpare erf slegs in terme van ’n testament.
■ Wet op Onderhoud van Langslewende
Gades (Wet 27 van 1990): Saamwoonpartye is nie gades nie en kan nie ná die dood van die eersterwende vir versorging eis nie. Hoewel die hof artikel 2(1) van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades ongrondwetlik verklaar het, is dit onbekend of die Grondwethof dit bekragtig het. Artikel 2(1) bepaal dat slegs eggenote van mekaar onderhoud mag eis.
■ Wet op Pensioenfondse (Wet 24 van
1956): Die langslewende word nie sonder meer as ’n gade en afhanklike van die oorlede lid van die fonds gesien nie. Ingevolge Artikel 37 (c) van die wet bepaal die trustees van die fonds wie die afhanklikes is, al het die lid die volle doodsvoordeel op die begunstigingsvorm aan die langslewende van die saamblyers toegeken.
■ Wet op Langtermynversekering (Wet 52
van 1998): Die opbrengs van lewensversekering van die oorledene word slegs betaal aan die begunstigde op die polis. By groepsdekking, wat deel is van die werknemersvoordele van ’n werknemer, word ’n saamblymaat nie sonder meer as ’n afhanklike gesien nie. Saamwoonpare kan egter wél ’n voordeel kry uit die volgende statute.
■ Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955):
Die definisie vir gade sluit in getroude eggenote, gewoontereg-eggenote, ’n lewensmaat in terme van ’n siviele of burgerlike ooreenkoms ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006), ’n lewensmaat ingevolge die Moslemgeloof, gevalle waar albei lewensmaats van dieselfde geslag is, of heteroseksuele lewensmaats wat deur die kommissaris goedgekeur is. Die bates wat ’n gade erf, is nie onderhewig aan boedelbelasting nie.
■ Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962):
Skenkings tussen gades het geen skenkingsbelasting nie. As gades aan mekaar skenkings maak of bates aan mekaar vererf, is geen kapitaalwinsbelasting betaalbaar nie. Die oorrolbeginsel word wél in die Inkomstebelastingwet vermeld. Dit beteken die gade gaan, as die gade later sterf, wél die kapitaalwinsbelasting betaal op daardie spesifieke bates wat geërf is. Die voordeel van ’n ooreenkoms ingevolge Wet 17 van 2006 is dat ’n mens in dieselfde kontrak bepalings kan maak wat al die bogenoemde wetgewing se voordele, asook die voordele in die huweliksvoorwaardekontrak en die beste beginsels uit die huweliksbedelings kan ondervang.