KRY DIT GEDOEN
Sekere situasies is ’n bietjie soos om teen halftyd 30-0 teen die All Blacks agter te loop. Dinge kan baie lelik raak as ’n ernstige plan nie nóú gemaak word voor jy weer moet uitdraf nie.
Dít is waar die kantoenbedryf in 2009 was (bl. 32). Op sy knieë. In Limpopo alleen het aanplantings op droëland van 55 000 ha tot 9 500 ha gekwyn en aanplantings onder besproeiiing van 1 100 ha tot 160 ha. Van 2002 tot 2005 het die prys boonop gehalveer tot R2/kg. Met die rand wat terselfdertyd van R14 teen die dollar tot R6 versterk het, het ingevoerde katoen na Suid-Afrika gestroom.
Die toekoms was droewig en die hele bedryf was in gedrang. Hy moes ’n plan maak of sy deure sluit. Toe gaan sit almal in die waardeketting — van die boere tot die kleinhandel — en bedink ’n deursigtige kosteberamings model. Die staat het finansiering gegee, en skielik het almal geweet wie kry wat.
Toe die wêreldprys weer tot onder boere se gelykspeelpunt daal, het kleinhandelaars ’n lewensvatbare prys aan boere betaal. Ironies genoeg, dit was steeds 25% goedkoper as die wêreldprys nadat al die invoerkoste in ag geneem is.
Joseph Kempen, een van die boere wat dié inisiatief bestuur het, het gesê dit laat hom aan die koringbedryf dink. Soos met katoen destyds sit die koringbedryf met ’n hengse moeilike situasie hier vlak voor planttyd. Nie net het die prys gedaal nie, maar die rand versterk ook namate die idee posvat dat pres. Cyril Ramaphosa dinge wil laat werk. Dit druk weer die invoertarief laer, wat ’n bitter ironie vir die Wes-Kaapse broodmandjie is.
Om nog sout in die wonde te vryf, is daar die droogte. Die Swartland het verlede jaar kwaai deurgeloop. Die eerste goeie reën vanjaar moet nog val, en dit is al laat in April.
Die Wes-Kaap het nie veel van ’n uitweg nie. Koring moet geplant word, al is dit minder. Van die alternatiewe opsies, soos gars, word, waar moontlik, ’n bietjie meer geplant. Want om nie te plant nie, gaan jou steeds kos (gelykstaande aan wat 1 ton koring per hektaar jou in die sak sou bring), soos Gareth de Bruyn van Wesgraan opgemerk het. Jou vaste koste voel vere vir wat jy op jou lande doen.
As dít dus nie ’n bedryf is wat smeek dat die hele waardeketting moet gaan sit en ’n plan beraam nie, dan weet ek nie wat is nie. Almal weet wat die probleme is: Die lompheid van die liggings differensiaal, die verslapping van kultivar vereistes, die gebrek aan finansiering vir die ontwikkeling van kultivars met ’n hoër opbrengs en die feit dat ’n té lae tarief eintlik net elders in die wêreld werk skep. Tussen al dié vrae is daar nog die gebrom oor prysmanipulasie.
Die klein persentasie wat boere uit die kleinhandelprys van ’n brood verdien, bewys die plaashekprys van koring is nie die sondaar wanneer ons oor die bekostigbaarheid van ’n stapelvoedsel praat nie. Ten minste is die invoertarief op die prys van die kultivar Hard Red Winter gegrond. Dink net hoe laag sou die tarief gewees het as die basisprys die laergraadse, goedkoper koring was wat invoerders so graag van die Swartseelande af invoer om met SuidAfrika se beter grade te meng.
Wie is dus die ouens wat dit nie wil laat werk nie? Wie skep die room af? En watter prys is Suid-Afrika bereid om te betaal om nie ’n koringbedryf te hê nie? — CHRIS BURGESS