Inheemse beesras bied talle voordele
Die Drakensberger-beestelersgenootskap het amptelik op 7 November 1947 ontstaan, maar sy oorsprong strek terug na die tyd toe die eerste Westerlinge aan die suidpunt van Afrika met swart beeste kennis gemaak het.
Mnr. Willie Landman, visepresident van die Drakensbergertelersgenootskap, boer in vennootskap met mnr. Jean van der Merwe met die Blackhillskudde tussen Potchefstroom en Parys. Hy vertel meer oor die eienskappe van die Drakensberger wat hom die meeste beïndruk het.
“Wat my tot die Drakensberger aangetrek het, was sy eenvormige swart kleur. In die somer is die beeste sommerso blinkswart. Min dinge is mooier as ’n trop swart koeie. Ek het as ’n kommersiële boer begin en het nie grootgeword met ’n stoeteryagtergrond nie. My pa het met kommersiële kuddes geboer.”
Die Drakensberger is ’n mediumraambees met ’n gladde swart haarkleed, en ’n lang en diep lyf met ’n rustige temperament. Dit is een van enkele inheemse beesrasse in SuidAfrika. Die ras is plaaslik geteel en ontwikkel. Gevolglik geniet die Drakensberger ’n voordeel bo ander rasse wat betref aanpasbaarheid, gehardheid en natuurlike weerstand teen bosluise en bosluisoordraagbare siektes.
“Natuurlik het ek gou besef daar is ’n uniekheid in die dier wat werklik groot ekonomiese voordele inhou, méér as net dat die dier vir my mooi is,” sê Willie.
Die moderne Drakensberger is die produk van ontwikkeling waarin streng seleksie gegrond op wetenskaplike norme deurslaggewend was. Die klem is deurlopend geplaas op ekonomies belangrike aspekte, soos aanpasbaarheid, vrugbaarheid, sterk melkeienskappe, langlewendheid, groeivermoë, voeromsetting en karkasgehalte.
“Ek het in ’n stadium saam met my pa grond gehuur vir sowat 120 koeie van allerlei rasse en kruisrasse. Die huurplaas het baie weiding gehad, maar gemeet aan die prestasie en reproduksie van die kudde kon hulle nie byhou met die syfers van die Drakensbergerkudde nie. Die diere is dus nie net mooi nie, maar bied ook ekonomiese voordele.”
TEEL VIR DIE MARK
Wat dra die Drakensberger se inheemse eienskappe by tot ’n moderne beesplaas en is dit werklik ’n bate vir stoet en kommersiële boere?
“Soms is daar ’n gaping in die skakeling tussen kommersiële boere en stoeterye. Ek meen stoetboere moet diere teel wat by die kommersiële boer se kudde pas en waarde sal toevoeg. Ek probeer my stoetkudde dus in strawwer toestande aanhou en teel as wat die norm is op my kliënt, die kommersiële boer, se plaas. Só maak ek hulle gehard.”
Willie is oortuig daarvan dat die eeue wat die Drakensberger al in SuidAfrika is, bygedra het tot verskeie voordele wat die ras bied.
“Ons kan sonder twyfel die kleim afsteek dat die Drakensberger die inheemse ras is wat die beste speenkalf lewer wat
steeds vir die voerkraal aanvaarbaar is.”
Maar hoekom sal ’n mens die inheemse ras kies wat die beste speenkalf lewer, en nie bloot die beesras wat die beste speenkalf lewer nie?
“Geen ras is in alle opsigte perfek nie. Ek glo inheemse rasse bied ’n kombinasie van eienskappe vir die kommersiële én stoetboer wat dit op lang termyn winsgewender maak. Dus kan jy met ’n ander ras boer wat ’n beter speenkalf in gewig lewer, maar in rand en sent kos dit meer om daardie kalf groot te maak.”
Willie verwys na veeartseny, arbeid en voerkoste en die lae kalfvrektesyfer wat die Drakensbergers handhaaf.
“Met ’n ander ras maak ek dalk ’n paar rand ekstra by die voerkraal, maar dit kos my meer om die kalf te lewer. Inheemse rasse bring gehardheid en aanpasbaarheid, wat help om bedryfskoste laag te hou.”
‘STOFSUIERS’
Met sy kleurryke herkoms is die Drakensberger ook deel van talle beesboere se persoonlike geskiedenis. Mnr. Derick Orsmond vertel hoe hy sedert sy kinderdae deur die ras meegevoer is en watter teelwaardes hom vandag steeds oortuig dat die Drakensberger die beste keuse vir sy boerdery is.
“My eerste kennismaking met Drakensbergers kom uit my kinderdae in Standerton waar my ouers geboer het. My pa het ’n gemengde boerdery gehad en ook vars melk aan melkmaatskappye gelewer. As deel van sy beplanning was daar ’n trop Drakensbergers op die plaas wat hy as die ‘stofsuiers’ beskryf het,” vertel Derick.
Dit het beteken daardie groep beeste kon oral wei waar die melkkoeie nie meer genoeg waarde uit die weiding kon kry nie. Die Drakensbergers moes dan in daardie ongunstige toe stande reproduseer en só meer waarde tot die plaas toevoeg.
OPBRENGS
“Dié diere het jare later die grondslag van ’n kudde geword waarmee ek in die Vrystaat begin boer het. Daar het die Drakensbergers hulself weer bewys as nieselektiewe benutters van gras. Terwyl die Engelse beesrasse in die vleie gestaan het, het die Drakensbergers die rante bewei en deurlopend ’n opbrengs verdien deur hul reproduksie,” sê Derick.
Vandag vorm Infracor Stud Breeders se Drakensbergerstoetery by Carolina in Mpumalanga weer die grondslag van ’n winsgewende beesboerdery. Danksy dié inheemse ras se natuurlike weerstand teen heersende siektes en omdat die beeste enige beskikbare kos benut, is hulle ideaal vanuit ’n bestuursoogpunt.
“Beesboere kan dus hul wins maksimiseer in goeie én slegter jare,” sê Derick.