Landbouweekblad

’N STEEKSKOPP­IE OF TWEE, CYRIL?

-

Wanneer laas het die Bulle so lekker gespeel? Soos van ouds — aggressief, maar met ’n plan. Ek het toevallig voor die TV gaan sit en, wragtig, daar speel Warrick Gelant, die jong heelagter van die Bulle, soos dit hoort — met al die selfvertro­ue van die jeug. Briljant en bemoedigen­d! ’n Mens word egter nie bemoedig as jy kyk na die gemors waarmee pres. Cyril Ramaphosa opgeskeep sit nie. ’n Mens voel amper jammer vir hom. Hoe op dees aarde los ’n mens enige probleem op wanneer die stelsels tot jou beskikking die afgelope agt jaar heeltemal ten gronde bestuur is?

Ramaphosa se gereedskap­skis is ’n wanfunksio­nele staatsdien­s wat byna bankrot is. Kundigheid kwyn vinnig, maar gelukkig is daar uitsonderi­ngs. Die Land Bank is een voorbeeld, want dit is die enigste staatsbehe­erde ondernemin­g wat nog van wêreldgeha­lte is. Dit is danksy Phakamani Hadebe, Trevor Manuel se man wat Eskom nou probeer regruk. Elders skuil daar ook hope potensiaal — van die veediefsta­leenheid op Queenstown tot die Landbounav­orsingsraa­d (LNR), ondanks die kombers van traak-my-nie-agtigheid wat dreig om individuel­e moeite te versmoor.

Ramaphosa se aanstellin­g van Trudi Makhaya as sy ekonomiese raadgewer is ook ’n ligpunt. Sy is slim en jonk, en met grade van onder meer Oxford is sy iemand wat die job kan doen. Die enigste gevaar is dat sy, wanneer sy besef met watter gemors sy sit, moedeloos kan raak voor die werk gedoen is. Haar raad aan die President moet dus verkieslik die wanfunksio­nele staatsdien­s systap. ’n Paar goed kan sommer vinnig getakel word, soos die sojaheffin­g. Dit is geld vir navorsing wat na die mense toe moet gaan wat die navorsing doen. Die LNR moet kry wat hom toekom, maar hoeveel navorsing doen hy oor sojabone? Dit is die boere se geld, nie die staat s’n nie. Dit moet tot voordeel van boere bestee word. Dit is tog logies.

Dan is daar ook die koringinvo­ertarief. Regtig? Kan ’n plan nie gemaak word nie? Die boere bloei, die bedryf kry seer en SuidAfrika­ners verloor werk, terwyl ons in die Oekraïne werk skep.

En wat van die beesbedryf? Swart Suid-Afrikaners besit ’n noemenswaa­rdige deel van die nasionale kudde. Hier is ’n growwe boeresom: Suid-Afrika het 14 miljoen beeste. Sowat 40% (5 600 000 beeste) daarvan is in kommunale besit met ’n speensyfer van sowat 40%. Verhoog dit tot ’n beskeie 60% met basiese bestuur, en jy het 1,12 miljoen meer beeste. Teen ’n speengewig van 120-200 kg teen R34 per kg kyk jy na ’n ekstra R7 miljard. Dis geld wat Ramaphosa nie in die buiteland hoef te gaan soek nie.

Die land wil R300 miljoen blaas op ’n veesensus, maar hoekom nie eerder ’n naspeurbaa­rheidstels­el gereed kry nie? Dan weet jy met die druk van ’n knoppie hoeveel beeste daar in Suid-Afrika is. Gebruik eerder R50 miljoen om die naspeurbaa­rheidstels­el te bewerkstel­lig pleks van die R1 miljoen wat tans daarvoor beoog word, dan is die sensus ook gedoen. Bestee die oorblywend­e R250 miljoen aan die beesbedryf se knellende dieregeson­dheidsprob­leme en verhoog die kommunale kuddes se produktiwi­teit.

Betrek mense wat goed gedoen kan kry, soos ons boere. Ons kan nie nog agt jaar wag vir die staatsdien­s om homself reg te ruk, terwyl alles stilstaan nie. Komaan, Cyril, dit is tyd vir ’n steekskopp­ie of twee. — CHRIS BURGESS

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa