Zokwana se probleme raak meer
SENZENI Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se probleme wil klaarblyklik nie minder raak nie. Onlangs het die Valke aangedui dat beweringe ondersoek word dat ’n perlemoenhandelaar oudpres. Jacob Zuma glo omkoopgeld betaal het om Zokwana as landbouminister in sy Kabinet te behou.
Nou het Zokwana sy saak verloor in sy pogings om Mike Mlengana, direkteur-generaal, uit die departement geskop te kry. Die hooggeregshof het beveel dat Mlengana onmiddellik in sy pos herstel moet word.
’n Goeie landbouvriend van Manie vertel dat Zokwana glo Mlengana gevra het of hy nie daarin belang stel om eerder die DG by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming te word nie. Dié pos is vakant nadat Mdu Shabane geskors en later ontslaan is.
Asof dié gebeure nie reeds die hooi swaarder op sy vurk laai nie, het Bomikazi Molapo, Zokwana se woordvoerder, glo 24 uur kennis gegee dat sy bedank. Sy parlementêre amptenaar, Luthando Brukwe, het na bewering ook bedank. Die bedankings kom nadat personeel aan wie Zokwana glo onreëlmatige verhogings toegestaan het, die geld nou moet terugbetaal. Daar was verhogings aan elf amptenare en net sommige moet dit glo terugbetaal.
Manie het sommer self by die departement se deur gaan klop oor die beweringe, maar niemand wil ’n woord rep nie.
KUNDIGHEID VOOR EIENAARSKAP
Prof. Mohammad Karaan, landbou-argitek van die Nasionale Ontwikkelingsplan, het onlangs weer met ’n paar wyse woorde vorendag gekom. Hy sê die klem van ekonomiese bemagtiging is op eienaarskap en nie op kundigheid nie. As jy egter die kundigheid eers verander, sal die eienaarskap vanself volg.
Hy meen Suid-Afrika se onvermoë om kundigheid te skep, is een van die redes waarom die land nog nie sy ekonomiese struktuur kon verander het nie en waarom grondhervorming nie slaag nie.
Hy het op die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika (Gosa) se jaarlikse simposium op Mosselbaai gesê hy meen pres. Cyril Ramaphosa se poging om grondhervorming sonder vergoeding te laat geskied, sal goeie vrugte afwerp. Hy sê almal moet net deelneem aan ’n proses waar oordeelkundigheid sal seëvier. “Nie ’n proses waar ons ons goed vat en loop nie. Ons moet bly en die probleme wat ons het, oplos.”
Hy sê een van die groot struikelblokke is om in vaardighede te belê sodat die volgende geslag net so mededingend sal wees as hul eweknieë elders in die wêreld. In die praktyk beteken dit die landbousektor sal sy kant moet bring om skole reg te ruk. “Raak betrokke in jou dorp, in jou township, op jou plaas. Maak seker die skole bereik die resultate wat hulle moet bereik. Ons het al baie geld daaraan bestee, maar ons kry nie die resultate nie.”
STIG AKADEMIES
Hy daag alle sektore in die landbou uit om akademies te stig om vaardighede te bevorder om te keer dat groot hoeveelheid kinders nie ná skool op straat eindig nie.
“Ons moet keer dat hulle sit en niks doen en moeilikheid begin maak. Dit is die werklose jeug wat geen