WILDBEDRYF SOOS SA S’N ‘KAN OOS-AFRIKA SE WILD RED’
WILDGETALLE daal só kwaai in dele van Oos-Afrika dat dit neusie verby gaan wees indien lande in dié streek nie vinnig ’n wildekonomie op die been kry nie.
Dr. Francis Vorhies, uitvoerende hoof van die Switserse bewaringsorganisasie Earth Mind, was ’n spreker op Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se onlangse kongres in Polokwane. Hy het gesê lande in Oos-Afrika, soos Kenia en Tanzanië, se wildgetalle is nou aan die daal. Bewaringsinstansies moet verleë erken dat die toerisme-gebaseerde bewaringsmodel misluk het. “’n Mens kan nie olifante red deur net na hulle te kyk nie,” sê Vorhies.
Deur sy organisasie se natuurlewe-ekonomieprogram probeer hyensyspankundigesAfrikalande help om hul natuurerfenis volhoubaar te bewaar en te benut.
Die vertrekpunt vir oplossings is die Verenigde Nasies se agenda vir volhoubare ontwikkeling vir 2030 en die volhoubare benuttingsdoelwitte wat in daardie dokument vervat is.
Die doelwitte verg definitiewe, volhoubare ekonomiese groei, volhoubare produksie en die volhoubare benutting van grondgebaseerde ekostelsels. “Dit gaan dus nie oor volhoubare (wild-) besigtiging nie, dit gaan oor die volhoubare benutting van na- tuurlike hulpbronne,” sê Vorhies.
VOLHOUBAAR BENUT
Hy sê ander Afrikalande is wel nie bereid om by Suid-Afrika te leer nie, al is dié land se benuttingsmodel van sy wild ’n goeie voorbeeld. “Ons vind ons moet die benuttingspraktyke wat ons hier sien, eerder in ’n wêreldkonteks plaas en dan wys hoe Suid-Afrika dié internasionale beginsels suksesvol toepas.”
In dele van Oos-Afrika is die afname in wildgetalle só kwaai dat dit die einde van wilde diere kan beteken mits van dié lande spoedig wildekonomieë gevestig kry. “Hulle moet dringend leer hoe om te jag, om wildsvleis vir die kommersiële markte te verwerk en daaruit geld te verdien – of hulle gaan hul wild heeltemal verloor,” het Vorhies gesê.
Mnr. Michael ’t Sas-Rolfes, ’n bewaringsekonoom verbonde aan die internasionale sentrum vir handel en volhoubare ontwikkeling, sê ’n goeie grondslag van navorsingsdata oor die volhoubare ontwikkeling en benutting van wild is nodig.
“Ons moet kan bepaal wat wild se bydrae tot ekonomiese ontwikkeling is, wat die bydrae daarvan tot die sosiaal-ekonomiese transformasie-agenda tans is, wat die bydrae tot bewaring is, wat die bedryf se etiek is, wat die onontginde potensiaal is en wat moet ons doen om dit te ontgin.”
Hy sê hoe meer van hierdie vrae beantwoord word, hoe makliker gaan dit raak om volhoubare benutting te bevorder by die verskillende regerings, asook by nieregeringsorganisasies.
’t Sas-Rolfes én Vorhies is dit eens dat Suid-Afrika aan die voorpunt van die volhoubare benutting van wild is.
‘Ons moet die benuttingspraktyke wat ons hier sien, eerder in ’n wêreldkonteks plaas.’