SA KUNSMISPRYSE RY WIPPLANK
INTERNASIONALE misstofpryse het bestendig geraak, maar plaaslike faktore kan die afwaartse druk op pryse teenwerk.
Mnr. Adriaan de Lange, uittredende voorsitter van die Misstofvereniging van Suider-Afrika (Fertasa), het op Fertasa se jaarkongres in Kempton Park gesê misstofpryse het internasionaal gestabiliseer omdat produksievermoëns die aanbod laat styg, terwyl die vraag bestendig bly.
“Dié twee faktore behoort plaaslike misstofpryse te laat daal. ’n Groot deel van die gelewerde koste van misstof word egter plaaslik bepaal,” het hy gesê.
Suid-Afrikaanse probleme behels inflasie, stygende belastings en heffings, die gebrek aan behoorlike infrastruktuur en basiese dienste (soos doeltreffende DIE spoorwegbedrywighede), duur elektrisiteit en duur en onproduktiewe arbeid.
Die styging in dié uitgawes lei volgens hom daartoe dat plaaslike koste nie altyd in ooreenstemming is met die internasionale indeks vir grootmaatkunsmis nie.
GROTER INVOER
De Lange het gesê invoer het verlede jaar baie gestyg – vanaf 1,9 miljoen ton in 2016 tot 2,2 miljoen ton.
Uitvoer het ook gestyg – vanaf 0,75 miljoen ton in 2016 tot 0,83 miljoen ton, maar Suid-Afrika bly ’n netto invoerder. Dit was volgens hom hoofsaaklik weens ’n styging van 14% in die netto invoer van ureum en ’n styging van 39% in die netto invoer van mono-ammoniumfosfaat (MAP). In 2016-’17 is sowat 2,2 miljoen ton misstof verbruik, maar De Lange sê verbruik in die huidige produksiejaar sal na verwagting laer wees. Vroeg in die produksiejaar was klimaatstoestande ongunstig vir someraanplantings. Dit het tot laat aanplantings van die meeste somergewasse gelei.
Die oesskatting vir die meeste somergewasse is ook kleiner as verlede jaar se oes.
De Lange verwag wel dat die verkope van kalk kan styg in gebiede waar ondergrondse versuring voorkom. Volgens hom is dit ’n ernstige probleem wat wydverspreid voorkom, veral in die Vrystaat. Versuring kan voedselproduksie en plaaswinsgewendheid op lang termyn ernstig benadeel as dit nie mettertyd Landbouweekblad reggestel word nie.
“Boere moet verkieslik met professionele mense praat om hul bemestingsprogramme en -praktyke te hersien en op ’n volhoubare grondslag aan die probleem aandag te gee.”
Fertasa het op 1 April 70 lede gehad, vergeleke met 52 ’n jaar gelede. –