Navorsing toon dat Wes-Kaapse boere wat geruime tyd al bewaringsboerdery toepas, dalk minder stikstof kan toedien en sodoende geld spaar en die omgewing beskerm.
Stikstofbemestingsproewe wat die afgelope twee jaar by koring in die Wes-Kaap gedoen is en vanjaar voortgaan, toon dat boere dalk minder stikstof kan toedien sonder dat graanopbrengs of proteïeninhoud benadeel word. Navorsing wat mnr. PJ Neethling in 2016 en verlede jaar vir sy meestersgraad in agronomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen het, wys dat boere wat al lank bewaringsboerdery toepas deur verminderde bewerking, ’n deklaag van oesreste op die grond te hou en gewasse af te wissel, dalk met minder stikstof kan wegkom. PJ se studieleiers is drr. Johan Labuschagne en Pieter Swanepoel. Die navorsing word met die samewerking van die Wes-Kaapse departement van landbou gedoen.
PJ het verskillende aspekte van stikstoftoediening op opbrengs ondersoek. Hy het ook gekyk wat die invloed van ’n stikstofblaartoediening laat in die produksiejaar op die proteïeninhoud van graan is.
Hy het sy eksperimente op proef- en private plase by Riversdal, Tygerhoek, Caledon, Langgewens, Porterville en Darling gedoen. Alle proewe in die Suid-Kaap, behalwe die kontrolebehandeling, is met ’n skyfplanter met 25 kg stikstof per hektaar geplant. Vyf kilogram is saam met die saad toegedien en 20 kg is breedwerpig uitgestrooi.
Die proewe in die Swartland is met ’n geenbewerking-tandplanter geplant. Dáár is ook 25 kg stikstof per hektaar toegedien met planttyd – 15 kg onder die saad en 10 kg breedwerpig uitgestrooi. Die kontrolebehandeling het nie stikstof met planttyd, bobemesting of blaartoediening gekry nie. KORTOM
■ Die eerste twee jare van ’n stikstofbemestingsproef wat oor vier jaar gedoen word, toon dat boere dalk minder stikstof kan toedien sonder om die opbrengs of proteïeninhoud van koring te benadeel.
Bobemestingsvlakke was 0 kg, 25 kg, 50 kg, 75 kg, 105 kg, 135 kg en 165 kg stikstof per hektaar. Blaartoediening was 10 kg/ha in 2016 en 20 kg/ha verlede jaar in die vorm van ureumammoniumnitraat (UAN) plus ’n bietjie humiensuur as buffer.
Die res van die artikel handel egter net oor die resultate wat by Riversdal en Tygerhoek behaal is by koring ná kanola en by Caledon by koring ná lusern.
MEER IS NIE BETER NIE
PJ se resultate toon dat die invloed van verhoogde vlakke van bobemesting op opbrengs nie so groot was as wat hy verwag het nie. Dit is moontlik vanweë die veranderinge aan die chemiese, fisiese en biologiese eienskappe van grond as gevolg van bewaringsboerdery.
Daarbenewens is die totale stikstofpeile waarby hy nie ’n verdere toename in opbrengs met hoër peile van stikstof aangeteken het nie, by Riversdal, Tygerhoek én Caledon laer as die peile wat vir die gebiede aanbeveel word. Dit beteken dat aanbevelings vir die toediening van stikstof dalk aangepas moet word.
In sy ondersoek na die toediening van vloeibare UAN as blaarbemesting op die vlagblaarstadium net voor aarverskyning het hy gevind dat die toediening in 2016 deurgaans die proteïeninhoud van koring by Tygerhoek en Langgewens verhoog het, maar nie by die ander proefpersele nie. Volgens hom dui dit daarop dat toediening van meer UAN nie noodwendig ’n goeie manier is om die proteïeninhoud van koring te verhoog nie.
In die deel van sy navorsing waar hy die uitwerking van verskillende stikstofbronne, naamlik UAN, UAN met ’n inhibeerder, ammoniumsulfaat, kalksteenammoniumnitraat (KAN) en KAN plus swael, op opbrengs ondersoek het, het hy gevind dat nie een van hulle ’n noemenswaardige uitwerking op die opbrengs gehad het nie.
Wat uiteindelik belangrik is, is die hoeveelheid van elke produk wat toegedien word en die prys van elkeen. “Omdat daar sulke groot verskille in die prys van die produkte is, kan dit beteken dat die optimale stikstofbron vir koringproduksie dalk die produk is wat die goedkoopste en maklikste verkrygbaar is.”
PJ, wat een van die sprekers op Overberg Agri se jaarlikse voorsaai-inligtingsdag op Rietpoel was, het gesê sy navorsing toon dat stikstofaanbevelings dalk in die toekoms aangepas sal moet word. “Die huidige aanbevole stikstofpeile by koring kan oorbemesting tot gevolg hê. Dit kan die besoedeling van die omgewing en ekonomiese verliese veroorsaak.”
KANOLA
Mnr. Etienne du Toit, ook ’n nagraadse student aan die US met dieselfde studieleiers as PJ, het soortgelyke stikstofproewe gedoen by kanola wat ná koring geplant is. Die kanolaproewe word ook oor vier jaar uitgevoer.
Etienne het gevind dat kanola-opbrengs en die vlak van stikstof in die grond nie juis op stikstofbemesting gereageer het in ’n droë jaar, soos verlede jaar, nie. Dit beteken dat boere moontlik stikstofbemesting in droë jare kan verlaag.
Hy het eweneens bevind dat daar nie ’n betekenisvolle verhoging in opbrengs was vanweë hoër toedienings van vloeibare stikstof in die stamverlengingstadium nie.
Die navorsing gaan voort en nuwe gebiedspesifieke norme en aanbevelings sal eers aan die einde daarvan gemaak kan word. johanl@elsenburg.com; pieterswanepoel@sun.ac.za