Landbouweekblad

VINNIGE VORDERING

-

Me. Mina Baron van die plaas Caledonia naby Hopefield en haar seun Carlo (26) is aktiewe boere wat, afgesien van graan, ook met meer as 600 Dohne-Merino’s op die plaas van 1 617 ha boer. Hul groot trots is egter hul rasegte Bonsmaraku­dde.

“Bulle is duur, en die bulprojek is die antwoord om ons kudde vinniger te verbeter. Ons is baie dankbaar om deel van die projek te wees,” sê Mina.

Haar liefde vir boerdery het reeds as plaasdogte­r by Citrusdal beslag gekry en is daarna versterk ná haar huwelik met wyle mnr. Jacob Baron van Clanwillia­m.

Jacob het lank vir mnr. John Bergh gewerk. Ses jaar gelede het die Barons hul eie plaas gekry. Ná Jacob se dood het Mina en Carlo voortgeboe­r. Sy het nog ’n seun, Emile (24), want aan die Landboukol­lege Elsenburg studeer.

Haar kudde bestaan uit 64 rasegte Bonsmarako­eie. Almal is gedek deur die twee bulle wat as deel van die projek aan haar beskikbaar gestel is. “Die kalwers, wat in Mei verwag word, sal die eerste kalwers wees wat net van die twee bulle gebore word. Ons is baie opgewonde.”

Dieselfde twee bulle sal tot Augustus aanstaande jaar op die plaas bly. As hulle gesond en siektevry is, sal hulle na ander lede van die projek geroteer word.

Mina volg in normale klimaatsto­estande ’n rotasiewei­dingstelse­l wat vier kampe behels. “Die beeste wei drie weke in ’n kamp, maar met die droogte loop hulle in al vier kampe gelyk.”

Altesaam 40 ha op die plaas is in die wintermaan­de onder die peulgewas seradella, terwyl jaarliks ook 33 ha koring geplant word. Sy het waterregte vir 70 ha op die plaas en het ses spilpunte.

Carlo sê hul volgende doelwit is om al die jong kalwers se horings te verwyder, want dit is makliker om met dié diere te werk en hulle kry nie so maklik seer nie.

Behalwe een permanente werker, mnr. Willem Manewil, gee Mina sporadies werk aan gemiddeld ses stukwerker­s.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa