VEEARTSE KEN EKONOMIE VAN BOERDERY
VEEARTSE wat met produksiediere werk, is deeglik bewus van die ekonomie van boerdery. Hul dienste behoort geld in die boer se sak te bring of sy verliese te beperk, sê dr. Neil Fourie, voormalige private veearts van Middelburg, Mpumalanga.
Sy boodskap is in die lig van Wêreldveeartsdag op 28 April, met die tema: Die rol van die veeartsbedryf in volhoubare ontwikkeling om lewenstoestande, voedselsekerheid en voedselveiligheid te verbeter.
Die boodskap is deel van dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA), se verslag oor gevalle van veesiektes wat in Maart deur veeartse by hom aangemeld is. Dit word in die bygaande TABEL opgesom.
Fourie sê ’n plaaslike veearts ken die probleme van die omgewing omdat hy wye blootstelling oor ’n groot gebied het. Nadoodse ondersoeke van diere wys watter siektes in ’n streek voorkom. Dan kan hy saam met die boer ’n voorkomende immunisasieprogram vir die spesifieke toestande uitwerk om siektes en vrektes te verminder.
Hy kan ook vir die boer ’n bestuursprogram gee waarmee hy meer geld kan maak deur sy kudde se vrugbaarheid te verhoog, wat hom in staat stel om meer vleis, wol, bokhaar of melk per hektaar te produseer.
Bulle en ramme word voor die dektyd getoets vir vrugbaarheid en siektes wat met dektyd verband hou; anders kan die boer ekonomiese verliese ly. Vroulike diere word vir dragtigheid getoets, wat die belangrikste ondersoek van die seisoen is. Die veearts is toegerus om enige afwykings te ondersoek. Dit gaan dus nie net daaroor of diere dragtig of nie dragtig is nie, maar oor wat verkeerd kon gegaan het.
Die veearts is ook daar vir noodgevalle, soos probleme met kalf- of lamtyd, siektes en vergiftiging.
Hy kan verder vir die boer nuttige riglyne oor parasietbestryding gee. Miseiertellings van diere van verskillende ouderdomsgroepe word gereeld gedoen, parasietweerstand (veral vir haarwurm en bloubosluise) word gemonitor en aanpassings in die aktiewe bestanddele van die middels wat vir parasietbekamping gebruik word, word gedoen.
Fourie sê die meeste plaaslike veeartse kry minstens 20 oproepe per dag van klante wat net raad oor ’n situasie op die plaas wil hê. Dié diens word gratis verskaf. Die veearts behoort ook dieregesondheidsprodukte te verskaf, want hy beskik oor baie tegniese inligting.
“Die belangrikste rede om jou plaaslike veearts te ondersteun is omdat hy net so kwesbaar soos die boer is. Saam het ons geen beskerming teen huidige wetgewing, produksiekoste en onwettige handel nie. Soos elke boer op sy eie moet oorleef, moet die plattelandse veearts dieselfde doen,” sê hy.