DIE ANDER SÊ
EEN ding waaraan die krisis in Noordwes ons herinner het, is die dwaasheid daarvan om in die eerste plek soveel mag aan provinsies te gee. Heelwat federale stelsels is oorweeg. Kanada en Duitsland het die deurslaggewende modelle geword, en dit was ’n fatale fout, skryf Peter Bruce. Hy meen die model van Spanje sou beter gewees het.
Die Spanjaarde het ook vir 40 jaar onder fascisme deurgeloop. Hulle het ook ’n grondwetlike konferensie gehou om ’n pad vorentoe te beredeneer. En hoewel hulle op 17 outonome streke besluit het, sou nie almal dieselfde magte hê nie. As ’n streek byvoorbeeld sy eie onderwysstelsel wou bedryf, sou hy ’n vermoëndheidstoets moet slaag om te bewys hy kan dit bedryf en volhou. Andersins sou dit van die nasionale hoofstad, Madrid, bedryf word.
Kataloniese separatisme is miskien nie altyd die beste manier om so ’n stelsel te bemark nie, maar separatisme was nog altyd teenwoordig in Katalonië en die Baskiese lande.
Spanje het as geheel egter geweldig baat gevind by outonome streke. As ’n arm gebied, soos Extremadura, nie ’n vermoë vir enigiets het nie, steun hy eenvoudig op Madrid.
Daar is nie ’n manier hoe sekere provinsies, soos die Oos-Kaap, skole en hospitale behoort te bedryf nie. Diep in die Transkei is ’n pad wat die provinsiale regering reeds vir langer as 12 jaar probeer teer.
Pleks van die Grondwet vir gekhede, soos onteiening sonder vergoeding, te wysig, wat van ’n beter bestel sonder onbevoegde en korrupte provinsies?