BEESBOERE MÓÉT OP DIE HOOGTE BLY
Die artikel “Beesteelt: Volg Afrika se natuurlike model” (LBW, 16 Maart 2018) deur Johann Zietsman het betrekking.
Vir baie jare kom en gaan Zietsman en sy dissipels se golf wat vashaak by die oeroue Matopos- en Omatjenne-proewe (ook moontlik vanweë Landbouweekblad wat hom ’n platform bied). Die miskenning van sekere wetenskaplike waarhede word, soos gewoonlik, gerieflikheidshalwe eenkant toe geskuif. Ek het self in ’n stadium aan die Omatjenne-data help ontleed en was betrokke by ’n nagraadse studie oor die Matopos-proewe.
Die volgende redenasies duik elke keer op en bevestig die miskenning van feite: Genetiese variasie is ’n werklikheid, ook binne plaaslike rasse en rastipes. Die grootskaalse vermenging van ’n meetinstrument met ’n
teeldoelwit kom algemeen in dié tipe skrywes voor. ■ Die skrywer en sy volgelinge dink steeds dat fenotipe 100% gelyk is aan genotipe (genetiese meriete). In die artikel word spesifiek na ’n meetinstrument, naamlik EPD’s (en die insluiting van genomiese inligting in die berekening daarvan), verwys asof dit, gegrond op enkeleienskappe, ’n seleksiedoelwit illustreer. Mnr. Zietsman moet die moeite begin doen om te lees en te luister en minder bloot te hoor voor hy sy eie idees formuleer.
Nêrens in sy artikel verwys hy na die fenomenale vordering wat gemaak word op die gebied van seleksie-indekse nie. Die wetenskaplike ontwikkeling neem álle eienskappe in ag wat diere in ’n rangorde plaas van genetiese verskille vir wins per hektaar.
Ons het reeds in die 1980’s en 1990’s enkeleienskapseleksie vaarwel geroep en kyk lankal reeds na die insluiting van vers- en koeivrugbaarheid, onderhoudsbehoefte, kuddelewe (langlewendheid) en melk (en die energie wat dit van die vleisbeeskoei tap) saam met groei-eienskappe (ook natuurlik die doeltreffendheid van groei) om biologiese doeltreffendheid in teelprogramme te takel. Argumente soos “vrugbaarheid word beskou as swak oorerflik (10%)” en dat dit “net op bestuur en voeding reageer”, dui op ’n fundamentele gebrek aan kennis of insig ten opsigte van hoe genetiese meriete bepaal word. Dit misken ook die genetiese variasie tussen diere, ook tussen plaaslike Afrikarasse.
Mnr. Zietsman kort weer ’n basiese opskerping oor wat regtig in die wêreld van teling aan die gebeur is. Aan die een kant verfyn ons die meetinstrumente, maar aan die ander kant is daar ’n revolusie wat teeldoelwitte betref. Die tydperk van nie meet nie, is verby. Telers en kommersiële veeboere wil weet wat aangaan en in watter mate teeldiere ’n verskil kan maak aan hul winsgewendheid. Om te dink ’n mens kan bloot met fenotipiese waarneming werk om so ’n winssyfer te bepaal, is wensdenkery.
Meet die faktore wat wins bepaal (uitsette en insette), verkry hul genetiese parameters (oorerfbaarheid en genetiese korrelasies), bepaal hul genetiese meriete daarvoor en kombineer die eienskappe in ’n sinvolle waarde (wat hierdie faktore sowel as die relatiewe ekonomiese waarde van elkeen in ag neem). Dit sal deur seleksie sorg dat nageslag winsgewender sal wees. Die maatstaf van wins word bepaal deur die mark en die verwagte seleksierespons van elk van die eienskappe.
Vooruitstrewende Suid-Afrikaanse vleisbees- (en ander) telers weet waaroor dit gaan en watter diere winsgewender as ander is. Hulle gebruik teelwaardes op die regte manier en weet dat enkeleienskapseleksie gevaarlik is.
Die tyd is verby om wollerige argumente te gebruik wat opgediep word uit die indrukke van die verlede. As die pas te vinnig is, moet jy maar terugstaan.
Ek skryf dié reaksie in my persoonlike hoedanigheid as geregistreerde veekundige (diereteelt en genetika).