NAMPO-SPREKERS PAK DIE GRONDKWESSIE
MNR. Moeletsi Mbeki en sy familie is nie bekommerd oor onteiening sonder vergoeding nie. Inteendeel, hulle het einde verlede jaar twee plase gekoop en is opgewonde oor die boerderye wat hulle daarop kan bedryf.
Dié politieke ontleder en sakeman het op ’n Nasie in Gesprek-sessie op die Nampo-Oesdag gesê die onteieningsdebat gaan eerder oor die ANC se struikelblokke ten opsigte van die verkiesing – nie oor grondhervorming nie.
“My raad aan die wit bevolking van Suid-Afrika is om hierdie ouens te ignoreer,” het hy gesê.
Volgens mnr. John Steenhuisen, hoofsweep van die Demokratiese Alliansie, is dit teleurstellend om te sien dat die ANC die Grondwet tans as die “swartskaap” vir die mislukking van grondhervorming wil voorhou. “Die Grondwet word voorgehou as die swartskaap vir iets wat eintlik toegeskryf moet word aan jare se wetgewende mislukkings.”
Steenhuisen het gesê die staat moet ’n betroubare grondoudit doen, titelaktes aan begunstigdes gee en ophou om die landbou as die vyand te behandel.
LOS GRONDWET SÓ
Mnr. Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het op dieselfde geleentheid (oor die impak van politieke kwessies op die landbou), gesê dit is belangrik dat alle individue in Suid-Afrika hulself as Suid-Afrikaners moet begin beskou sodat die gesprek opbouend vorentoe geneem kan word. “As ons kyk na perde, is daar wit perde en swart perde en grys perde, maar hulle bly almal perde.”
Mnr. Roelf Meyer, oudminister en Codesa-onderhandelaar, het gesê mnr. Jeremy Cronin, die Adjunkminister van Openbare Werke, het al aangedui die ANC is nie van mening dat die Grondwet verander moet word nie. “Een van die redes waarom ek glo dit moenie verander word nie, is dat as jy aan artikel 25 (deel van hoofstuk twee van die Grondwet wat met menseregte te doen het) begin torring, wat gaan jou keer om aan die res te karring?”
SLOER IS RISKANT
Mnr. Simba Makoni, ’n voormalige Zimbabwiese minister van finansies wat in 2008 in die nasionale verkiesing teen mnr. Robert Mugabe deelgeneem het, het op ’n ander sessie gewaarsku hoe langer die grond hervormingsproses duur, hoe minder suksesvol sal dit wees.
Op dié betrokke Nasie in Gesprek-sessie oor beleidskwessies en -scenario’s het Makoni Zimbabwe genoem as ’n voorbeeld van ’n proses wat liefs vermy moet word.
“Herverdeling is nie hervorming nie. In Zimbabwe was daar geen hervorming nie,” het hy gesê. Hy meen die waarde van die betrokke grond lê in waarvoor dit aangewend word.
Mnr. Chris Venter, uitvoerende hoof van Afgri, sê besluite om grond te herverdeel sonder om titelaktes aan die ontvangers te gee, sal verdere onsekerheid tot gevolg hê, wat beleggers onrustig stem en elders laat kyk vir meer stabiele beleggings.
PANIEK NIE NODIG
In die geval van Zimbabwe het die grondonteiening s proses paniek en geweld tot gevolg gehad weens, onder meer, die swak beplanning en toepassing van beleid.
Dit hoef nie die geval in Suid-Afrika te wees nie, sê mnr. Raphael Karuaihe, bestuurder van kommoditeite by die JSE. Hy het Namibië se benadering tot die proses bespreek. Anders as in Zimbabwe was die beginsel van ’n gewillige koper en gewillige verkoper wel in Namibië toegepas, maar die ontvangers van grond het ook nie titelaktes ontvang nie.
Daardie benadering is ook later laat vaar en die Namibiese regering hou tans die “first right of refusal” op enige landbougrond wat te koop is. Die meeste van die grond wat herverdeel is, is nie produktief nie en dra nie by tot die land se voedselsekerheid nie.
Volgens die entrepreneur mnr. Russell du Preez dra die weerhouding van titelaktes beduidend by tot beleggings onse- kerheid en-onttrekking, aangesien dit voedselsekerheid en die vryemarkstelsel bedreig.
Hy het die Regering aangemoedig om na ander lande se mislukkings te kyk en daaruit te leer. Kurauihe het gesê stelsels, soos SA se tradisionele leiers wat grond beheer en titelaktes weerhou, strem verdere groei.
STAMHOOFDE ‘BEWE’
Die politieke ontleder mnr. Prince Mashele het op die bekendstelling van die Nampo-gespreksreeks op Klerksdorp gesê dit is nie net wit boere wat bang is dat hulle hul grond kan verloor nie. Stamhoofde is ook bang hulle verloor hul mag.
“Stamhoofde bewe hieroor. Hulle is bang. Die stamhoofde is nié die trustees van grond namens mense nie, maar hulle misbruik hul posisie om stamgrond te verhuur en hul sakke vol te stop. Dit gaan nie oor die mense nie. Stamhoofde melk die stelsel. Politici sal hulle egter nie daaroor konfronteer nie, want landelike gemeenskappe is hul ‘stemreserwes’ tydens verkiesings. Die stamhoofde het baie invloed oor hul mense,” sê hy.
“Ons kan nie kapitaal leen teen die grond van ons voorvaders nie. Ons kan dus nie daardie grond verbeter nie. Die stelsel (in kommunale gebiede) onderdruk entrepreneurskap in landelike gebiede,” het die politieke ontleder en joernalis mnr. Mpumelelo Mkhabela bygevoeg.
Mnr. Tommie van Zyl van die boerdery onderneming ZZ2 meen die land se leiers moet nou begin aandag gee aan die oplossings en nie net die probleem nie.
“Die staat moet as ’n skeidsregter vertrou kan word, maar dit is moeilik met soveel korrupte amptenare.”
* Besoek Landbou.com vir nog beriggewing oor die Nasie in Gesprek-reeks.