MOEILIKHEID WAG OP BOERE MET ‘OU’ WATERREGTE
BOERE wat hulle nie steur aan die Regering se proses om bestaande watergebruiktoekennings te verifieer nie, loop gevaar om hierdie regte te verloor.
Die Departement van Water en Sanitasie het dié proses ’n paar jaar terug van stapel gestuur. Die doel daarvan is om die wettige watergebruik soos dit was in die tydperk van 1996 tot 1998, te verifieer en te wettig. Dit raak dus alle waterlisensies wat ingevolge die Waterwet (Wet 54 van 1956) toegestaan is, afgesien van permitte wat toegestaan is ingevolge die 1956-wet.
Mnr. Adriaan Groenewald, ’n prokureur en waterspesialis, bestempel die huidige stand van sake as ’n “tydbom”. “Ek het in verskeie gesprekke met amptenare landwyd met ’n skok besef dat letterlik honderde watergebruikers hulle óf nie gesteur het aan die versoeke tot verifikasie nie óf nie kennisgewings gekry het nie.
“Baie watergebruikers besef nie die belangrikheid van hierdie proses nie. Ná die suksesvolle verifikasie van ’n gebruiker se watergebruik word ’n sertifikaat aan hom of haar oorhandig wat in feitlik alle opsigte net soveel regskrag as ’n waterlisensie het.”
Groenewald sê wanneer dié verifikasieproses in ’n gebied van stapel gestuur word, moet die watergebruiker voor die gespesifiseerde keerdatum aansoek doen om die verifikasie van die bestaande wettige watergebruik waarop hy reken hy ’n aanspraak het.
GEBRUIK ONWETTIG
“Die Nasionale Waterwet bepaal dat ’n persoon nie mag voortgaan met die uitoefening van die bestaande wettige watergebruik indien hy nie betyds aansoek gedoen het nie. Die departement kan egter op grond van goeie redes wat deur die watergebruiker aangevoer word, ’n laat aansoek oorsien,” sê hy.
Die watergebruiker kry ingevolge die wet die geleentheid om insette te lewer voor ’n finale beslissing gemaak word.
“Die uiteinde is dat die departement bepaal wat die watergebruiker se bestaande wettige watergebruik is. Die bepaling van die bestaande wettige gebruik nadat die voorgeskrewe verifikasieproses in die wet gevolg is, sal as finaal beskou word.”
PROSES VOL SLAGGATE
Hy waarsku dat watergebruikers wat nie op die kennisgewing vir verifikasie reageer nie, ná ’n sekere tydperk as ’n “nie-reageerder” bestempel word.
“Dit is waar die tydbom lê. Artikel 35 van die Waterwet bepaal dat geeneen van wie vereis is om aansoek te doen ten opsigte van ’n bestaande wettige gebruik, sodanige watergebruik mag uitoefen ná die sperdatum wat in die kennisgewing gespesifiseer is nie.
“Dit beteken daar is waarskynlik nou reeds duisende gebruikers wat dink hul historiese gebruik (met ander woorde, hul watergebruik van 1996 tot 1998) is wettig, maar in werklikheid gebruik hulle onwettig water.”
Die enigste manier om só ’n situasie te beredder, is om aansoek te doen om kondonasie, oftewel toestemming om die nodige dokumente laat in te dien. Andersins sal die gebruiker van voor af moet aansoek doen om die historiese, maar nou onwettige, watergebruik te wettig. Groenewald beskou dié proses as “vol slaggate”.
GEEN REKORD
Hy het ook al etlike gevalle teëgekom waar intensiewe besproeiingsboerderye nie eens op die Departement van Water en Sanitasie se databasis is nie. “Dit beteken dat die besproeiing nie net ongeverifieerd is nie, maar dat die eenhede volgens die departement nie bestaan nie!”
Hy maan enigeen wat onseker is oor hul status om dadelik hul naaste verifikasie-eenheid van die departement te nader om vas te stel of hul grond op die databasis is. In gevalle waar hulle nie op die databasis verskyn nie, is daar ’n voorgeskrewe vorm wat ingevul moet word om dit reg te stel.
Die departement se kantoor sal boere ook kan inlig oor hul huidige watergebruikstatus en of hulle om kondonasie sal moet aansoek te doen of van voor af om ’n lisensie sal moet aansoek doen.
Hy sê dit is nie tans duidelik wanneer ’n boer as ’n “nie-reageerder” beskou word nie.
Die departement het teen druktyd nie op navrae van Landbouweekblad gereageer nie.
—