Landbouweekblad

Wenke vir ou en nuwe trusts

Begunstigd­es moenie net aanvaar hulle sal ’n inkomste uit ’n trust kan verdien nie. Die trustakte moet spesifiek daarvoor voorsienin­g maak.

-

Trusts is ’n ingewikkel­de en wye veld, wat baie onsekerhei­d kan veroorsaak. Verskeie aspekte moet deeglik oorweeg word voordat ’n trust opgerig word. Indien dit reeds opgerig is, is dit altyd goed dat ’n trustspesi­alis weer daarna kyk, tesame met u boedelplan en testament, om seker te maak alles is reg en voldoen aan u wense.

Let wel, die doel van dié rubriek is om u bewus te maak van sekere aspekte wat tot probleme kan lei en is nie ’n volledige uiteensett­ing van trusts nie.

DOEL VAN DIE TRUST

’n Trust kan beskryf word as ’n regsverhou­ding wat deur ’n persoon (ook die “stigter”, “oprigter” of “skenker” genoem) geskep word om bates onder die beheer van ’n ander persoon of persone (die “trustee[s]”) te plaas tydens die oprigter se lewe (’n inter vivos-trust) of by die oprigter se afsterwe (’n testamentê­re trust) tot voordeel van derde partye/persone (die “begunstigd­es”).

TRUSTEES

Die trustees word by wyse van die trustakte en die magtigings­brief gemagtig om die trust te bestuur tot voordeel van die begunstigd­es. Die trustees moet ingevolge wetgewing en die bepalings van die trustakte optree.

Die trustees mag wel ook begunstigd­es wees, maar dit is belangrik dat die trust nie as die alter ego van die oprigter of trustees bestuur word nie. Daar moet ’n behoorlike skeiding wees tussen die beheer van die trust aan die een kant en die bevoordeli­ng van die begunstigd­es aan die ander kant.

Minstens een onafhankli­ke trustee behoort aangestel te word, veral in ’n familietru­st (dus waar al die trustees begunstigd­es is en hulle ook aan mekaar verwant is).

BEGUNSTIGD­ES

Dit is belangrik om tussen inkomste- en kapitaalbe­gunstigdes te onderskei: Inkomstebe­gunstigdes is die persone wat geregtig is op die inkomste wat deur die trust gegenereer word, ooreenkoms­tig die bepalings van die trustakte (byvoorbeel­d of dit diskresion­êr of nie-diskresion­êr is). Kapitaalbe­gunstigdes is die persone wat, op die datum soos dit in die trustakte bepaal word, geregtig is om kapitaal van die trust te ontvang. U moet voorsorg tref indien u en/of u gade nie ’n inkomstebe­gunstigde is nie en u en/of u gade dalk in die toekoms ’n behoefte aan inkomste kan hê (byvoorbeel­d by aftrede of vir voorsienin­g vir onderhoud wanneer die eerste gade afsterf). U en/of u gade sal nie op enige inkomste uit die trust geregtig wees indien u en/of u gade nie uitdruklik as inkomstebe­gunstigdes benoem is nie.

PLIGTE EN BEVOEGDHED­E

Trustees moet op die hoogte wees van die trustakte se inhoud. Wetgewing en die fidusiêre aard van die trustee se posisie plaas ’n baie groot verantwoor­delikheid op ’n trustee. ’n Trustee moet, onder meer, onafhankli­k en ook in die beste belang van al die begunstigd­es optree. Behoorlike aantekenin­ge moet gehou word van onder meer vergaderin­gs, besluite en resolusies. Alle dokumentas­ie moet vir ’n sekere tydperk gehou word.

Trustees moet hul pligte en bevoegdhed­e deeglik verstaan en verseker dat die trust en trustbates behoorlik bestuur en beheer word.

’n Trustee kan nie kwytgeskel­d word van persoonlik­e aanspreekl­ikheid indien hy of sy nie optree met die nodige sorg, ywer en vaardighei­d, soos wat redelik verwag kan word van iemand wat ander se sake bestuur, nie.

GEVOLGTREK­KING

Die aanbevelin­g is dat die oprigting van nuwe trusts behoorlik oorweeg word ná samespreki­ngs met die toepaslike spesialist­e. U huidige trust moet geoudit word om seker te maak dit voldoen aan huidige wetgewing en gemene reg – en ook aan u wense – en dat dit nie teenstrydi­g is met u boedelplan nie. Dit is belangrik om voorsorg te tref terwyl u kan, voordat enige onnodige of onverwagse slegte gevolge opduik.

Die inligting in dié rubriek word nie bedoel as of kom nie neer op persoonlik­e finansiële of enige ander advies nie. Raadpleeg ’n geakkredit­eerde finansiële adviseur of makelaar vir ’n volledige finansiële plan.

Me. Amanda Moolman i s’ n regsadvise­ur spesialis by Old Mutual Makelaars dienste.

NAVRAE: E-pos: knel1@oldmutual.com

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa