Bloubessies nog lank nie geblus!
’n Omwenteling in die bloubessiebedryf is onderweg danksy ’n nuwe sakemodel ingevolge waarvan enige boer dié supergewas kan aanplant en boonop kan kies deur wie dit bemark word. En voor jy vra oor ’n borrel wat gaan bars of bodem wat wil uitval – daar is
Suid-Afrika kan “gemaklik” bloubessies op 6 000 ha verbou, meen mnr. Pieter Zietsman, bloubessiekonsultant by TopFruit, ’n maatskappy wat vrugtekultivars ontwikkel. “Tans is daar sowat 1 500 ha in Suid-Afrika gevestig. Ons skat ’n verdere sowat 400 ha word per jaar gevestig. Dit gaan dus nog ’n hele paar jaar duur voordat ons by 6 000 ha uitkom.”
As ander lande in Afrika suid van die Sahara boonop óók begin bloubessies aanplant, is daar potensiaal vir sowat 15 000 ha – sonder dat markte platval. Lande soos Namibië, Zambië en Zimbabwe toon reeds belangstelling.
Wêreldwyd groei die produksie en verbruik van bloubessies op ’n jaargrondslag teen sowat 20-25%.
Sowat 90% van Suid-Afrika se bloubessies word na Brittanje (50%) en Europa (40%) uitgevoer. Die res gaan na die Verre- en Midde-Ooste.
“Die plaaslike mark is beperk, maar daar is ruimte om meer van die produk plaaslik te verkoop. Die grootste struikelblok is egter die hoë supermarkpryse,” sê Pieter.
Wat uitvoer betref, word die bessies vir tussen R40 en R90 per kilogram verkoop, maar dit hang af van die spesieke mark waar dit aangebied word.
MEDEDINGERS KAN NIE BYHOU
Suid-Afrika se mededingers met bloubessies is hoofsaaklik Peru en Argentinië. Hoewel die Chilene ook heelwat bloubessies verbou, val hul produksie in ’n tydgleuf ná die Suid-Afrikaanse oes.
“Supermarkte en ander kopers verkies egter bloubessies uit Suid-Afrika. Een van die redes daarvoor is die gehalte van die vrugte. In Peru word bloubessies op sowat
500 ha verbou. Peru se nagte is nie so koel nie en gevolglik breek die sure nie af nie. Daarom smaak Suid-Afrikaanse bessies beter. Die Argentyne boer tans met 2 500 ha bloubessies, maar hulle kan ook nie dieselfde gehalte as plaaslike boere lewer nie en hul kostestruktuur is duurder, hoofsaaklik weens duurder arbeid.
“Boonop duur dit langer om vrugte uit Suid-Amerika na die markte in Brittanje en Europa te verskeep. Dit duur sowat 30 dae, terwyl Suid-Afrikaanse bloubessies binne 18 dae in Rotterdam kan wees. Suid-Afrika kan dus beter vrugte goedkoper lewer. Ek glo daarom Suid-Afrika kan baie gemaklik met lande in Suid-Amerika meeding.”
Pieter vertel ook dat Peru die Amerikaanse mark buite die Amerikaanse seisoen bedien – tot 70% van Peru se bessies word daar verkoop, wat beteken hy is nie prominent in die markte waarop Suid-Afrika hom toespits nie. Dis die grootste rede waarom Peru se bloubessiebedryf so vinnig gegroei het. Beleggings in immergroen kultivars met lae kouebehoeftes het ook vir Peru deure oopgemaak. Peruviaanse en Chileense bloubessies het ook toegang tot die Chinese mark – iets waaraan Suid-Afrika nog werk.
SÓ WERK SA BEDRYF
Die Suid-Afrikaanse bloubessiebedryf het die afgelope 15 jaar vlamgevat. Ongeveer 60% van die geskatte 1 500 ha wat tans in die bedryf staan, is kultivars wat uit Amerika (hoofsaaklik van die universiteite van Florida en Georgia) kom. ’n Bloubessiemaatskappy, wat as die stigter van die bloubessiebedryf in Suid-Afrika beskou kan word, het destyds die inisiatief geneem om die eksklusiewe regte vir nuwe, gelisensieerde kultivars te bekom. Die onderneming het ook ’n model ontwikkel ingevolge waarvan hy plantmateriaal en bemarkingsdienste aan boere verskaf.
Intussen het die ontwikkeling van blou4
bessie-teelmateriaal ook in Australië posgevat, veral met die klem op kultivars met lae kouebehoefte. Hierdie nuwe genetiese materiaal is in teelprogramme, soos OzBlu, Costa en Mountain Blue Orchards, en het intussen hul weg gevind na bemarkingsmaatskappye wat eksklusiewe regte daarvoor bekom het.
Die groot belanghebbendes in die Suid-Afrikaanse bloubessiebedryf kontrakteer boere om gelisensieerde plantmateriaal te vestig, maar hulle behou die eksklusiewe regte om alle vrugte wat gelewer word, te bemark. Van hierdie belanghebbendes lewer self ook op groot skaal bessies wat hulle dan bemark.
Hierdie model het gelei tot die opvatting dat die bloubessiebedryf een is wat sy kaarte styf teen die bors hou. Tot dusver was min inligting bekend oor aanplantings, uitvoer en pryse, maar diegene wat dit kon bekostig, het met mening in die bedryf ingeklim. Dit het natuurlik doemprofete uitgelok om die ergste te voorspel.
MEER DEURSIGTIGHEID
Sowat 18 maande gelede het ’n groot belanghebbende in die vrugtebedryf die plaaslike bloubessie-arena met ’n nuwe missie betree. TopFruit, wat op Simondium geleë is, het vir die eerste keer ’n stokkie gesteek voor die geslote programme wat tot dusver die neiging in Suid-Afrika was.
“Ons wou ’n ander sakemodel op die tafel te sit,” sê Pieter. “Waar die ander maatskappy betreklik geslote is wat die bemarking van vrugte betref, het ons direksie gemeen dis nie die manier waarop ons wil sake doen nie. Ons wil eerder die bedryf meer oop en deursigtig maak.
“Verskeie boere het vir ons gesê hulle wil nie by die bedryf betrokke raak nie omdat hulle nie gemaklik voel met die bestaande sakemodelle nie.”
Die kersie op die koek is dat TopFruit uitstekende kultivars van oor die hele wêreld – onder meer die Universiteit van Georgia – kon bekom. Die eerste plantmateriaal behoort teen volgende jaar beskikbaar te wees.
“Ons het die ses nuutste kommersiële kultivars en op ’n proefgrondslag toegang tot ’n verdere ses van die Universiteit van Georgia se 2016-seleksies wat nog nie beskikbaar gestel is nie. Ons het twee van die kultivars reeds geïdentifiseer vir die kommersiële waarde wat dit vir Suid-Afrikaanse toestande inhou,” sê Pieter.
Boere sal dus toegang kry tot die kultivars sonder om voorgeskryf te word hoeveel hulle moet aanplant of deur wie hulle kan bemark.
“Ons is nie bemarkers of boere nie, maar ons spits ons suiwer toe op die intellektuele eiendomsreg (van kultivars), die evaluering en die opsporing van nuwe kultivars. Omdat ons nie betrokke raak by die produksie nie, ding ons nie mee met die boere nie, maar ons gee wel tegniese ondersteuning as deel van ons pakket. Enige boer wat dus wil bloubessies aanplant, kan by die gelisensieerde kwekery kultivars kry wat ons verskaf, en dan kan hy kies deur wie hy dit gaan bemark.”
TopFruit gaan lisensies uitreik aan ’n aantal bemarkingsinstellings om die vrugte uit te voer en plaaslik te bemark. Die bemarkers sal ook kan bemark waar hulle wil; spesifieke lande of supermarkte sal nie voorgeskryf word nie. Danksy die maatskappy se sterk
teenwoordigheid in die kern- en steenvrugtesowel as tafeldruifbedryf het hy reeds goeie verhoudings met uitgesoekte bemarkers.
“Die mark sal bepaal hoeveel bloubessies aangeplant word. Die enigste beperking wat ons gaan stel, is voorwaardes oor minimum aanplantings.”
NUWE KULTIVARS
TopFruit se suidelike hoëbos-bloubessiereeks uit Amerika sluit in van kultivars met lae kouebehoeftes tot immergroen kultivars
wat in ’n diverse klimaatsomgewing aangeplant kan word. Die Georgia-kultivars stel boere in staat om van September tot middel Desember te oes. Pieter sê die Georgiakultivars sal tipies aard in die Wes- en OosKaap. Sommige sal ook geskik wees vir die noorde van die land, op plekke in Limpopo en Mpumalanga.
“Hierdie reeks is ook geskik vir ander lande suid van die Sahara. Die teelprogram is toegespits op uitstekende eetgehalte en houvermoë, vir produksie en verskeping.
“Ons kon ook by twee ander universiteite kultivars op ’n proefgrondslag kry uit die noordelike hoëbosgroep (Vaccinium corymbosum) en die suidelike hoëbosgroep (V.
darrowii).” Voorts het hulle agt kultivars uit ’n Nieu-Seelandse program verkry, wat hoofsaaklik ’n medium-kouebehoefte (450 tot 750 eenhede) het. “Ons is veral opgewonde oor die rabbit
eye-kultivars (V. virgatum), wat ’n ander groeiwyse het en ’n groter bos maak, ’n medium-kouebehoefte het en gewoonlik eers laat blom en in produksie kom.” Hierdie Nieu-Seelandse kultivars sal die oestyd rek van middel Desember tot einde Februarie.
“Die Nieu-Seelandse kultivars verkies koeler klimate. Daarom kyk ons na klimaatsareas soos Ceres en Touwsrivier, en die Hoëveld (rondom Delmas en Ermelo) met hierdie kultivars. Daar is ook redelike belangstelling uit die Vrystaat vir hierdie kultivars.” Omdat dié kultivars laat blom, is dit ideaal op die Hoëveld waar ryp dikwels in Julie en Augustus nog voorkom.
“Die boere soek ’n kultivar wat ná die ryp blom en vrugte maak. Ons wil in daardie mark betrokke raak.”
Pieter sê daar is reeds van die maatskappy se plantmateriaal in kwarantyn en daar word beoog om teen volgende jaar groot volumes op kommersiële grondslag beskikbaar te stel. TopFruit gebruik die nuutste weefselkultuur-tegnologie om plantmateriaal so vinnig moontlik te vermeerder. Hy doen nie vermeerdering met steggies nie om die oordraging van siektes te voorkom.
Sy heffingstruktuur sluit in ’n eenmalige aanplantingsheffing, planttelersheffings en ’n jaarlikse produksieheffing. Boere moet self met uitvoerders oor bemarkingstariewe ooreenkom.
Hoewel daar ou, ongelisensieerde kultivars beskikbaar is, is sowat 90% van nuwe aanplantings oor die hele wêreld gelisensieerd omdat hierdie kultivars se gehalte – eetgehalte, houvermoë en grootte – soveel beter is.
“Dis soos om ’n motor te koop. Jy wil tog nie ’n 20 jaar oue kar koop nie, want jy wil nog ’n hele paar jaar daarmee ry sonder probleme. Net so kos ’n gelisensieerde kultivar jou meer, maar jy gaan ook meer daaruit kry.”
PRODUKSIEPRAKTYKE
Bloubessies word hoofsaaklik onder beskerming, hetsy nette of plastiek, verbou. Boere kan ook besluit of hulle in grond of eerder in ’n groeimedium wil plant. Bloubessies vereis goed gedreineerde sand- of leemgrond met ’n lae pH. As jou grond nie geskik is nie, is potte met ’n goeie medium die antwoord.
“In ’n gekontroleerde omgewing kan ’n mens die plant en die produksieproses soveel beter bestuur, want dit spring die invloede van die klimaat vry. Alle bemesting en besproeiing word outomaties gedoen. Die plante groei vinniger en beter as dit onder beskerming geplant word. Boonop kan jy enige plek plant as jy potte en medium kies – selfs op ’n stuk teer. Die lewensverwagting van so ’n aanplanting is van agt tot tien jaar.”
Die suidelike hoëbos-kultivars kom binne drie jaar in volle produksie.
Hierdie voordele kom natuurlik teen ’n groot koste – teen ongeveer R1 miljoen/ha (onder nette en in grond) of R1,5 miljoen/ha (onder plastiektonnels in potte met ’n groeimedium) maak dit bloubessies tans die duurste boerderygewas om te vestig.
“Die gelykspeelpunt is op drie jaar, as jy
kapitaaluitgawes, soos voertuie en koelkamers, uitsluit. Dit is die duurste gewas, maar ook die gewas met die hoogste potensiële inkomste,” sê Pieter.