As katoen eers in jou bloed is . . .
Mnr. Leonard Venter boer al so lank met katoen, hy laat dit maklik klink. Dit is sy liefde vir die gewas wat hom deur die moeilike jare vir katoen aan die einde van die vorige dekade gedra het en sy passie vir die bedryf wat hom aanspoor om in die beste b
Droëlandproduksie is die basis van Suid-Afrika se katoenbedryf, en die grootste deel daarvan vind op die Springbokvlakte in Limpopo plaas. “Hier het ons in die verlede tot 72 000 ha katoen geplant,” vertel mnr. Leonard Venter, ’n katoenboer van die omgewing en voorsitter van Katoen Suid-Afrika.
Leonard plant al 25 jaar lank katoen, maar, soos alle katoenboere, het hy teen 2009 bitter min katoen verbou en eerder op ander gewasse gekonsentreer. “Ek het nog so ’n klein stukkie geplant, want ’n mens raak lief vir katoen en jy kan hom nie sommer heeltemal ophou plant nie.”
Die Suid-Afrikaanse katoenbedryf het weens swak pryse, droogte en ’n ongunstige wisselkoers van 2004 tot 2010 ’n erge insinking beleef. Vir boere was dit eenvoudig nie meer lonend om kantoen te plant nie.
Die son het egter weer opgekom vir katoen in Suid-Afrika. Vanjaar het Leonard 4 000 ha katoen op droëland en 70 ha onder besproeiing geplant. Dit is byna die helfte van vanjaar se droëland-aanplantings van 9 650 ha op die Springbokvlakte. Die reën het egter laat gekom en Leonard is bekommerd dat sy opbrengs per hektaar nie so goed gaan wees as verlede jaar toe hy dieselfde hoeveelheid grond beplant het nie.
Hy troos hom daaraan dat katoen eintlik ’n woestynplant is en dat ’n mens selfs in droogtetoestande steeds ’n oes kan afhaal, al is dit nie so goed soos in ’n goeie reënjaar nie. “As ek mielies geplant het, sou ek baie slegter daaraan toe gewees het. Mielies het heelwat meer water as katoen nodig, en vanjaar het ons te min reën gekry vir mielies.”
Met 450 mm reën, die Springbokvlakte se gemiddelde jaarlikse reënval, kan jy ’n goeie katoenoes afhaal, maar dan het jy goeie verspreiding van daardie reën nodig. Die ideaal is dat die eerste reën al in Oktober val en jy kan plant.
Vroeër jare was dit die norm op die Springbokvlakte, maar deesdae, sê Leonard, kom
die reën eers in November. Ná planttyd is verspreide reënbuie oor die groeityd tot middel Maart nodig om grondvog vir die plante beskikbaar te hou.
Winterreën kan egter probleme veroorsaak, want as ’n katoenplant water kry nadat dit ontblaar is, begin hierdie meerjarige plant weer groei. Dit kan ’n boer se hele program omverwerp, want jy moet dan eers weer ontblaar en wag tot die plant droog is voor jy die katoenstropers kan instuur, veral die nuwe stropers wat die katoen baal. Groen plantmateriaal in die bale begin sommer daar groei as daar genoeg vog is.
DIS ALLES IN DIE GENE
Dit is egter hierdie kanniedood-karakter van die katoenplant wat dit so geskik maak vir die Springbokvlakte se turfgrond en lae reënval. Boonop maak die nuwe stapelgeenkultivars dit vandag vir katoenboere baie makliker as in die verlede.
Leonard sê droëlandboere het vroeër jare breed geglimlag as hulle ’n oes van 800 kg per ha van die lande gehaal het, maar deesdae is die gemiddelde droëlandoes by hom sowat 2 ton per ha. Onder besproeiing kry hy gemiddeld 5 ton per ha. Daar is egter nuwe kultivars beskikbaar en sommige boere oes 7-10 ton per ha onder besproeiing.
Hy sê die Bt/Roundup Ready-stapelgeenkultivars wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is, maak dit reeds aansienlik makliker om katoen te verbou en goeie opbrengste te kry. “Dit verg soveel minder bestuur, en onkruidbestryding is baie goedkoper as in die verlede.”
Leonard vertel dat hy in die verlede tot sewe keer in ’n produksiejaar teen bolwurms moes bespuit en dat ’n groot deel van sy wins deur uitgawes aan chemikalieë opgevreet is. Nou spuit hy wanneer dit nodig – dalk een keer per jaar – teen suigende insekte, soos vlekbesies en bladspringers.
GEENBEWERKING MET MIN MOEITE
Leonard pas geenbewerking met sy katoenverbouing toe. Hy spuit glifosaatonkruiddoder voordat hy in November begin plant teen omtrent 90 000 sade per ha. “Dit gee my uiteindelik ’n plantestand van sowat 65 000 plante per ha,” sê hy en verduidelik dat die verskil is weens saad wat nie ontkiem nie en insekskade.
Leonard sê hy spuit nog omtrent twee maal in die produksiejaar onkruiddoder en dan ontblaar hy sy katoen in Maart. Vir eersgenoemde bespuitings gebruik hy ’n trekker met ’n spuitkar, maar vir die ontblaring kry hy ’n kontrakteur met ’n hoogloopspuit om te kom help, want dan is die plante te groot om met ’n trekker en spuitkar oor hulle te ry.
Elke jaar plant Leonard ’n grasgewas, soos koring of sorghum, op ’n derde van sy
katoenlande. Dit is nodig om ’n deklaag vir die grond daar te stel vir die volgende twee jaar se katoenaanplantings. Hy verduidelik dat dit nodig is om geenbewerkingsbeginsels suksesvol toe te pas, want die hele katoenplant moet ná die oes verwyder word. Daar is dus nie plantreste om die grond te bedek nie.
So nou en dan plant Leonard droëbone, maar nie gereeld nie. Die boontjies is, soos katoen, ’n breëblaargewas en sy wortels word deur dieselfde parasiete as katoen aangeval.
TEGNOLOGIE IS DIE GEHEIM
Alles op die plaas, van die planter tot die trekker wat die spuitkar trek, is met die jongste presisieboerderytegnologie toegerus, want elke vierkante meter wat optimaal bewerk en bestuur word, help om die boerdery winsgewend te hou. Die groot kanonne in Leonard se meganiese arsenaal is egter sy twee John Deere-katoenstropers (strippers). Danksy hierdie masjiene kan hy meer katoen per hektaar verbou en dit vinniger en skoner afhaal as ooit tevore.
Leonard sê hy kort eintlik nog een stroper, want om 4 000 ha met net twee te oes, beteken hulle moet in die oestyd tot elfuur in die nag werk om die katoen van die lande te kry.
“Voorheen, toe ons nog met ’n tweeryplukker gewerk het, moes ons afwisselende rye
(skip rows) van 1 m x 3 m plant, maar met die nuwe strippers plant ons oral in rye wat 760 mm uit mekaar is.”
Die stropers werk blitsvinnig – hulle kan byna 30 ha katoen op ’n dag stroop en is boonop kostedoeltreffend, sê Leonard. Die katoenstroper baal die katoen daar op die land en ken aan elke baal sy eie strepieskode toe. Die GPS-posisie word ook in hierdie kode vasgelê. Dit maak die katoen naspeurbaar tot in die plantry.
Dit is hierdie naspeurbaarheid wat tot Suid-Afrikaanse boere se mededingendheid op die internasionale mark bydra. Plaaslike katoenboere is deel van die internasionale Better Cotton Initiative (BCI) wat daarna streef om balans te bring tussen die ekonomiese, omgewings- en maatskaplike aspekte van katoenboerdery.
“Ons moet dus met die beste tegnologie ter wêreld werk,” sê Leonard.
“Met die naasbeste sal ons nie met lande soos Australië kan meeding nie.”
EIESOORTIGE MARKMEGANISME
Die ander troefkaart in die plaaslike katoenbedryf se hand is natuurlik die South African Cotton and Apparel Cluster (Sastac). Dit is ’n platform wat die hele katoenwaardeketting integreer en dit vir boere moontlik maak om teen planttyd reeds ’n prys vir hul lint met kleinhandelaars, soos Mr Price, Woolworths, Edgars en Ackermans, vas te maak. (Sien ook die artikel “Geïntegreerde waardekettings red SA katoenbedryf”, LBW, 27 April 2018.)
“Elke kleinhandelaar kan self besluit hoeveel hy wil betaal, maar Sastac skep die platform vir boere om te sê hoeveel hulle per kilogram betaal moet word om katoenproduksie lewensvatbaar te maak.”
Die hoë voedingswaarde van katoensaad maak dit ’n gesogte veevoer onder melkboere, en boere verdien gewoonlik genoeg uit hul katoensaad om vir die pluiskoste by die pluismeulens te vergoed.
Leonard sê pluismeulens verhaal tans sowat 36% lint uit die totale hoeveelheid materiaal wat boere lewer. Nuwe pluismeul- tegnologie, soos dié wat mnr. Joseph Kempen van Loskop Cotton tans by sy nuwe meule by Marble Hall aanbring, sal 2% meer lint uit die oes haal. “Ons is besig om met die Regering te praat om toestemming te kry om kultivars met kleiner pitte van Australië af in te voer,” sê Leonard.
Dit sal die persentasie bemarkbare lint wat uit die pluismeule kom, tot 42% verhoog.
Hy sê die nuwe Australiese kultivars is ook meer hittebestand. Dit word al hoe belangriker in die stryd om volhoubaar te bly boer in ’n era van aardverwarming.