Landbouweekblad

PRAKTIESE STAPPE VIR BETER KOEIDOELTR­EFFENDHEID

-

Die regte praktiese stappe om koeidoeltr­effendheid te verhoog, sluit onder meer goeie beweiding en rantsoene, asook die bekamping van in- en uitwendige parasiete in. Dr. Klaas-Jan Leeuw is ’n navorser oor herkouervo­eding (beeste) van die Landbounav­orsingsraa­d se Instituut vir Dierevoedi­ng en -produksie (DVPI) by Irene. Met ’n spits-dektyd wat van Desember tot Maart duur, stel hy die volgende praktiese stappe voor:

Kry die plaas se weiding optimaal deur wisselbewe­iding toe te pas, met genoeg kampe wat volgens die plaas se drakrag en totale grootvee-eenhede bepaal is. Wei die gras af tot op ’n hoogte van 15 cm en verskuif die beeste dan na ’n volgende kamp vir 4-5 weke. Die eerste kamp rus vir 4-5 weke en kan van week 6 af weer bewei word. In ’n droë tydperk moet daar 7-8 kampe met staande hooi wees om bewei te kan word.

Doseer die kudde (veral verse) teen inwendige parasiete. Bekamp bosluise (veral blouboslui­se) wat koeie bloedarmoe­dig maak. Dit benadeel hul prestasie.

Gebruik ’n seisoengeb­onde lek om produksie te optimalise­er. Verskeie lekke is kommersiee­l beskikbaar, maar lekke wat deur kundiges saamgestel is, kan self op die plaas gemeng word. Sout word bygevoeg om lekinname te beperk sodat die beeste nie te veel lek vreet en maagwerkin­gs kry nie. Met min sout in die lek kan dit gebeur dat die beeste net die lek wil vreet en nie wei nie, wat die boer baie geld sal kos. Té veel sout maak die lek weer onsmaaklik en dan sal die beeste té min lek vreet. ’n Voorbeeld van ’n lek wat die boer self kan meng, is die bekende Dundeelek. Vir die winter bestaan dit uit 32 sakke (50 kg) sout, 8 x 50 kg ureum, 4 x 50 kg Kimtrafos, 2 x 50 kg Dikalsium en 4 x 50 kg geel mieliemeel. Die somerlek se samestelli­ng is: 30 x 50 kg sout, 4 x 50 kg ureum, 8 x 50 kg Kimtrafos, 2 x 50 kg Dikalsium en 2 x 50 kg geel mieliemeel.

Gee byvoeding saam met die rantsoen deur ’n lek of inspuitbar­e middels. Veral proteïene, yster, sink, molibdeen, koper en seleen is onontbeerl­ik en maak ovulasie by koeie moontlik. Gee die koeie ook ’n inspuiting met vitamien A, D en E, veral van Julie tot September as die vlak van betakarote­en (’n voorloper van vitamien A) in die diere se lewers laer raak. Gesels met ’n veearts daaroor.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa