Grondkwessie: ‘Onteiening sonder vergoeding gaan nie grondwettoets slaag’
DIE ANC wil met veranderinge aan die wetsontwerp op onteiening duidelikheid skep oor watter grond in watter omstandighede sonder vergoeding onteien moet word.
Hierdie veranderinge is voorgestel op die ANC se werksessie oor grondhervorming wat verlede naweek in Johannesburg gehou is. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) moet nou die voorstel vir goedkeuring oorweeg.
Die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee ondersoek tans of die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Die komitee moet ook presies voorstel hoe só ’n wysiging, indien wenslik, moet lyk.
Die Regering dui egter aan dat hy, terwyl dié proses onderweg is, bestaande wetgewing wil gebruik om onteiening sonder vergoeding toe te pas. Grondwetkenners meen onteiening sonder vergoeding kan reeds binne die bestaande grondwetlike raamwerk toegepas word, maar die Regering maak nie daarvan gebruik nie.
Sedert 2008 is die wetsontwerp op onteiening herhaaldelik na die Parlement teruggestuur om opnuut verwerk te word.
“Uit ons perspektief is die Grondwet nie ’n ‘uitverkoopdokument’ nie. Dit het transformerende noodsaaklikhede wat dit duidelik stel watter wetgewing ingestel moet word om transformasie te verbeter.”
NUWE KLEM
Ná dié sessie is daar vir die eerste keer ook ’n aanduiding dat die Regering erns wil maak met ’n oplossing vir die grondkwessie in stedelike gebiede.
Mnr. Ronald Lamola, lid van die ANC se NUK, sê die voorstel is vir ’n wet spesifiek oor die herverdeling van grond om die talle kwessies oor grondgebruik aan te pak.
Dit sluit kwessies in, soos spesifieke behoeftes aan stedelike grond, die hergebruik van ongebruikte geboue, grond van die staat en die moontlike instel van grondplafonne by grootskaalse kommersiële landbougrond.
Ander oogmerke is om uitstaande grondrestitusie-eise af te handel sodat daar na die herverdeling van grond beweeg kan word. “Dit sal baie meer impak hê, want ons sal dan nie net staatmaak op eisers wat bewyse vir hul eise moet hê nie.”
Daar is ook ’n voorstel om wetgewing te wysig sodat stedelike grond in staatsentiteite se besit, vir behuising beskikbaar gestel kan word.
Nog ’n dringende voorstel is om grond waarop nagenoeg 22 000 huurarbeiders woon, sonder vergoeding te onteien. Hulle wag al langer as 15 jaar om uitsluitsel te kry oor hul eise ten opsigte van die grond waarop hulle woon (Lees meer daaroor by
Eiendomsekerheid vir bewoners van kommunale grond is ook hoog op die agenda.
–
‘Sedert 2008 is die wetsontwerp op onteiening herhaaldelik na die Parlement teruggestuur om opnuut verwerk te word.’