DIEANDERSÊ
BELEIDSTEKORTKOMINGE moet grootliks die skuld kry vir die persepsie dat vooruitgang met grondhervorming teen ’n slakkepas geskied het, sê mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom by die landbousakekamer Agbiz, en prof. Johann Kirsten, direkteur van die buro vir ekonomiese navorsing aan die Universiteit Stellenbosch.
In ’n oorsig oor die proses se verloop sê hulle lesse wat te leer was uit internasionale ondervinding, het getoon grondhervorming moet teen ’n vinnige pas geskied om te verhoed dat burokrasie, sentralisering van die proses en regsprobleme dit skipbreuk laat ly.
Die herverdeling van grond is nie al wat nodig is vir ekonomiese bemagtiging en armoedeverligting nie. Aspekte, soos infrastruktuur, markte, maatskaplike dienste en ander elemente, is deel van die ontwikkelingsprogram.
Sihlobo en Kirsten sê daar word verkeerdelik beweer die markgerigte benadering (van 1996 tot 2006) was verantwoordelik vir die stadige vordering. Met gemiddeld 13 000 plase wat elke maand op die mark was, was daar altyd genoeg gewillige verkopers. Daar is wegbeweeg van ’n proses waar individue en groepe gehelp word om grond te koop na ’n stelsel waar die staat die grond koop, eienaarskap aanvaar en die grond aan begunstigdes verhuur sonder dat daar werklik bemagtiging plaasvind.
Die staat, wat nie die grond wat hy aankoop doeltreffend herverdeel nie, is ’n sleutelfaktor wat bydra tot die siening dat die proses te stadig verloop. Dit lei tot toenemende frustrasie en ongeduld.