Landbouweekblad

Rekordprys gee Karooboer nuwe moed

- FREDALETTE UYS

“EK het nou nuwe krag om vorentoe te gaan. Hierdie goeie pryse is ’n hupstoot vir ons moraal. Die afgelope jaar was daar groot struikelbl­okke op die plaas.”

Só sê mnr. Neil Outram van die plaas Leeuwfonte­in naby Klipplaat in die Oos-Kaap nadat een van sy bale van ’n lot BH-wol van 16 mikron teen ’n Suid-Afrikaanse rekordprys van R218,10/kg (vetwol) verkoop is. Die koper was Standard Wool Suid-Afrika en die wol is deur CMW/ OVK aangebied.

Klipplaat is een van die streke in die Oos-Kaap wat die ergste deur die droogte getref is. Hoewel die streek al reën gekry het, is die droogte nog nie gebreek nie.

Outram sê hy teel eintlik vir mediumwol, maar het die afgelope jare vir fyner wol begin teel. Die droogte het daartoe gelei dat sy skeersel se veseldikte met gemiddeld 1,5 mikron gedaal het.

“Hierdie goeie pryse maak ’n dramatiese verskil. My skeersel se gewig is ongeveer 30% laer, dus vergoed die goeie prys vir die verlies aan opbrengs.”

Hy sê ondanks die droogte was sy wol verbasend gesond. “Hoewel die wol fyner was, was die treksterkt­e steeds goed en het die kombinasie (fyn wol en goeie treksterkt­e) tot die goeie prys gelei.”

Outram is ’n kuddeboer. Hy sê die goeie prys wys hom dat hy op die regte pad is. Hy boer ook met Angoras en sê hy ervaar die bokhaarske­ersel is ook vanjaar baie fyner. Sy opbrengs is ongeveer 30% tot 40% laer.

UITSTEKEND­E PRYSE

Dit is die derde keer dié seisoen wat die Suid-Afrikaanse prys vir fynwol verpletter is. Die gemiddelde wolprys het ook sy stormlopie voortgesit. Die Suid-Afrikaanse Cape Wools-wolaanwyse­r het verlede week met 5,6% gestyg en is ongeveer 24% hoër as in die ooreenstem­mende tyd verlede jaar. Die gemiddelde prys van R201,36/kg (vetwol) is die hoogste prys tot dusver die seisoen. Dit volg nadat die Australies­e wolaanwyse­r met 4,8% gestyg het.

Volgens die Cape Woolsmarkv­erslag word die rekordvlak­ke “deur ’n skynbaar onversadig­bare vraag na lang en fyn wol van goeie gehalte” bevorder en het die swakker rand nie veel tot die goeie pryse bygedra nie.

Volgens die verslag is vanjaar se wollewerin­g aansienlik laer as in die ooreenstem­mende tydperk verlede jaar.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa