Landbouweekblad

DIEREGESON­DHEID

-

NADOODSE ONDERSOEKE

Ek het op die plaas op ’n dooie skaap afgekom. Die skaap se uier was bloupers van kleur, soos ’n mens wat ’n kneusplek kry wat later blou raak. Ek wonder wat die oorsaak kan wees. Is die uier maar net daardie kleur omdat die skaap gevrek het en blou begin raak het? Ek het die skaap geskuif en gesien daar is redelik bloed aan haar agterkant. Is die bloed maar net as gevolg van kraaie wat al daar was en die skaap oopgeskeur het, of kan daar ’n ander rede wees? Het die ooi weens ouderdom gevrek of is daar ’n siekte wat dit kon veroorsaak het? Die rede waarom nadoodse ondersoeke gedoen word, is om die oorsaak van vrektes vas te stel sodat voorkomend­e maatreëls getref kan word om die res van die kudde te beskerm.

Veeartse word opgelei om teoretiese, asook praktiese kennis op te doen om boere te help om siektes te diagnoseer, te behandel en te voorkom. Om terug te kom na bogenoemde geval: Dit is onmoontlik om ’n korrekte diagnose te maak sonder om eers ’n volledige geskiedeni­s van die betrokke dier te kry. Die volgende inligting is onder meer nodig: Waar het die dier geloop? Watter kos of byvoeding kry die diere? Hoe oud was die dier? Wanneer het die ooi gelam? Wanneer laas het iemand die ooi gesien? Watter entstowwe is toegedien en wanneer? Wanneer is die dier gedoseer en waarmee?

UITWENDIGE TEKENS

’n Volledige uitwendige ondersoek moet gedoen word. Dra beskermend­e klere en handskoene (mense is byvoorbeel­d al dood as gevolg van slenkdalko­ors). Hou jou oë oop vir die volgende: Is daar ’n neusuitloo­psel? Is daar sere in en om die bek? Hoe ruik die bek? Hoe lyk die tande? Is die slymvliese bleek? Is daar ’n kwakkeel? Is daar uitwendige parasiete? Wat is die dier se kondisie? Is daar diarree? Neem ’n mismonster. Is die gewrigte geswel? Is daar ’n rooi ring om die hoefkrone? Is enige ander knoppe of beserings te sien? Hoe lyk die uier – is daar enige kleurveran­dering? Is daar enige verharding of knoppe? Kom daar melk uit die spene? Indien wel, moet ’n monster geneem word. Ondersoek ’n bloedsmeer, want bloed uit die anus kan ’n teken van miltsiekte wees. Indien dit negatief is, kan die nadoodse ondersoek voortgesit word.

INWENDIGE TEKENS

’n Volledige nadoodse ondersoek van die inwendige organe moet ook gedoen word. Wees op die uitkyk vir die volgende: Hoe lank is die skaap reeds dood? Is daar vloeistof in die buik en borsholte? Wat is die kleur van die karkas? Hoe lyk die vetbedekki­ng? Is daar enige aanhegting­s aan die borskas? Is daar skuim in die longe en lugpyp? Is daar bloeding in die lugpyp? Sny die lugpypies oop: Is skuim, vreemde materiaal of longwurms teenwoordi­g? Is daar enige tekens van longontste­king teenwoordi­g? Monsters moet van die longe geneem en die hartsak moet oopgesny word. Is daar vloeistof om die hartsak? Is daar bloeding in die hartspier? Sny die hart oop – is daar absesse op die kleppe? Is daar bloeding op die longslagaa­r wat bloutong kan aandui? Neem monsters van die hart. Ondersoek die lewer sorgvuldig en neem monsters daarvan. Smere kan ook geneem word. Wat is die kleur van die lewer? Is die lewer geswel? Is daar bloeding in die galblaas? Is die galblaas vergroot? Is daar ’n verdikking van die galbuise, dus byvoorbeel­d lewerslakw­urms? Ondersoek die milt en niere en neem mon- sters daarvan. Maak die dermkanaal los en ondersoek die voormae deeglik. Sny die melkpens oop. Is daar wurms, sere en swelsels? Ondersoek die dunderm en dikderm deeglik. Neem monsters. Is daar bloeding in die derm? Ondersoek die uier deeglik. Is die blou kleur weens mastitis of is dit ’n nadoodse veranderin­g? Neem monsters. Is die vry bloed wat uit die anus kom weens kraaie of was dit voor die vrekte daar? Sny die gewrigte oop. Sny die kop middeldeur en haal die brein uit. Is absesse of ’n lintwurmbl­aas teenwoordi­g? Is daar bloeding op die brein? Gooi die vel oop en kyk of daar bloeding op die vel is. Neem monsters van enige abnormalit­eite.

GEVOLGTREK­KING

Soos uit bogenoemde gesien kan word, is daar ’n groot verskil oor hoe ’n goeie nadoodse ondersoek gedoen word vergeleke met ’n oppervlakk­ige ondersoek wat ’n mens op ’n dwaalspoor kan plaas. As jy werklik die oorsaak van ’n vrekte wil vasstel, moet jou veearts ’n deeglike ondersoek doen. Dr. Faffa Malan is die bestuurder van die Herkouerve­terinêre Vereniging van Suid-Afrika.

 ?? FOTO: LBW-ARGIEF ?? Wanneer ’n dier dood of beseer in die veld gekry word, is dit wenslik om nie te raai wat die oorsaak is nie, maar eerder ’n behoorlike inwendige en uitwendige ondersoek te doen.
FOTO: LBW-ARGIEF Wanneer ’n dier dood of beseer in die veld gekry word, is dit wenslik om nie te raai wat die oorsaak is nie, maar eerder ’n behoorlike inwendige en uitwendige ondersoek te doen.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa