38 000 ton aartappels per jaar! Derde geslag se mega-sukses
Toe CT van der Merwe sy pa, Carl, se suksesvolle boerdery wou oorneem, was dit ’n noukeurige brief wat hy geskryf het wat die deurslag gegee het. Vandag staan die AL 3 Boerdery aan die voorpunt van biologiese aartappel- en groenteverbouing.
Toe CT van der Merwe in 2003 as groentjie by die Landboukollege Potchefstroom opgedaag het, is hy gevra waar hy vandaan kom en waarmee hulle boer. Toe hy antwoord AL 3 Boerdery, wou niemand hom glo nie. “Vir iemand wat sê hy kom van AL 3 af, het hy maar armoedig gelyk,” sê mnr. Ernest Rossouw, AL 3 se akkerboubestuurder. “Hy het nie eens ’n voertuig gehad nie. Ons het gedink hy praat sommer groot.” CT kon maar net saam lag, want vir hom is die maat van sukses iets heeltemal anders.
Ernest was destyds een van CT se seniors. CT het eers in sy tweede jaar ’n bakkie gekry. ’n Ou, dog goed opgepaste 1984 Toyota Hilux wat sy oupa, mnr. Lukas Venter, vir hom gegee het. Dieselfde ou bakkie staan vandag nog in CT se motorhuis en dieselfde gees van verantwoordelike gebruik met die oog op die lang termyn is steeds die bakermat van AL 3 Boerdery se sukses.
Ernest het intussen sy ou studentemaat beter leer ken en deesdae werk hulle sy aan sy om die boerdery wat CT se pa, mnr. Carl van der Merwe, sedert die sewentigs opgebou het, vorentoe te vat. AL 3 lewer jaarliks sowat 38 000 ton aartappels vir die varsproduktemark, 7 000 ton moere vir eie gebruik en ander kommersiële boere, asook
3 700 ton botterskorsies en 20 000 ton uie.
Die begin was egter só klein dat selfs van vandag se opkomende boere dit dalk as ’n hopelose gesukkel sou afmaak. Mnr. Theuns van der Merwe, CT se oupa, het ’n klein stukkie grond op Dendron gehad, maar nie groot
genoeg om ’n bestaan uit boerdery te voer nie. Met ’n kafee op Dendron het hy die Van der Merwes se inkomste aangevul. Sy seun, Carl, het egter ’n passie vir boerdery gehad.
Toe hy ná sy pa se dood moes help om vir die familie te sorg, het hy begin boer. Hy het aartappels op plase in die omgewing geplant. Pleks van huur vir die plase te betaal, het hy vir sy eie rekening die plaaseienaars se grond ontwikkel. Só het hy die pot aan die kook gehou en gespaar vir sy eie grond. Hy het sy eerste plaas, Kwaggasbult, in 1978 gekoop.
CT was nog nie gebore nie, maar hy vertel met groot trots van sy pa se harde werk en opoffering om die boerdery waarvan hy vandag aan die stuur staan, op te bou.
“Hy moes hard werk om die familie te onderhou nadat my oupa oorlede is en het net drie tot vier uur per nag geslaap. My ma vertel hoe hulle baie aande op die bakkie geslaap het omdat my pa deur die nag kort-kort sproeiers in die aartappellande moes skuif.”
’N OPENHARTIGE BRIEF
Sy harde werk het vrugte afgewerp en dit was nie lank nie, toe kon Carl nog twee plase, Appelfontein en Loskop, bykoop. Dit is dié drie plase waar AL 3 Boerdery sy naam vandaan kry.
Hoewel CT sowat twee jaar gelede die leisels by sy pa oorgeneem het, is Carl steeds nou betrokke by die boerdery. Hy bestuur die bemarking en die buiteplase. AL 3 plant deesdae ook aartappels in die Noord-Kaap, Mpumalanga en by Waterpoort in Limpopo.
Hoewel die logiese afleiding is dat ’n seun eendag die boerdery by sy pa sal oorneem, is dit dikwels ’n haakplek in familieboerderye. Menige boerdery is al onderdeur omdat die proses nooit behoorlik deurgepraat en deurgevoer word nie.
In AL 3 Boerdery se geval het ’n brief wat CT aan sy pa geskryf het, die knoop deurgehak. Hy het besluit om dit so te doen omdat ’n brief hom sou toelaat om sy gedagtes on-
emosioneel en noukeurig te verwoord en aan sy pa oor te dra.
’n Maand lank het hy elke oggend bietjiesbietjies geskryf. Hy het alles aangedui wat na sy mening moes verander om groei en volhoubaarheid op die plase te verseker.
Hy het onder meer voorgestel die bestuurstruktuur van die maatksappy moet verander om meer strategiese vermoë vir die boerdery te skep. Hy het ook voorgestel hulle moet op nuwe maniere na reklame kyk, volledige standaardbedryfsprosedures vir alle take opstel, deeglike prestasie-evaluering doen en nuwe tegnologie benut om mense doeltreffender aan te wend.
Twee weke later het Carl ingestem dat die voorstelle in die brief gegrond is, maar hy het gesê hy sien nie self kans vir al die veranderings nie. Hy het CT die kans gegee om die oorskakelingsproses en veranderings te behartig. Vir CT was dit ’n groot oomblik – dat sy legendariese pa sy boerdery se toekoms
aan hom toevertrou het. Carl se besluit dui op die merkwaardige verhouding tussen pa en seun, en CT sou sy pa nie teleur stel nie.
’N NUWE BENADERING
CT se eerste stap was om meer in die strategiese bestuur van die boerdery te belê. Hy sê die bestuur van die maatskappy het tradisioneel op die bedryfsy van sake klem gelê en sy pa was alleen verantwoordelik vir strategiese besigheid- en boerderybesluite.
Deesdae moet meer mense verantwoordelikheid aanvaar vir die vooruitgang van die boerdery, selfs op grondvlak. Elkeen, van die werker tot die produksiebestuurder, se posisie word deur dieselfde bakens gerig. Voor elkeen is die resultaat wat hy of sy wil bereik. Dit moet binne die riglyne en dissipline van die maatskappy geskied. Elkeen moet verantwoordelikheid aanvaar en sorg dat hy die regte opleiding en toerusting het om die gewenste resultaat te bereik.
Elke individu moet selfs vir sy eie finansiële vooruitgang in die boerdery verantwoordelikheid aanvaar.
CT sê die samelewing in Suid-Afrika skep ’n slagoffermentaliteit waar mense iemand of iets anders verantwoordelik wil hou vir hul eie welvaart, of gebrek daaraan. Hy stem saam daar is unieke sosiaal-ekonomiese struikelblokke en verstaan hoekom die Regering onder druk is om ’n mate van sosialisme in sy beleid te handhaaf. “Sosialisme moet ingespan word om vir soveel moontlik mense te leer hoe kapitalisme werk en hoe hulle self daaruit baat kan vind.”
CT verduidelik: “Ons is lief om te sê ‘leer iemand visvang, dan voer hy homself vir altyd’, pleks dat jy hom net ’n vis gee en vir een dag voer. Ons moet egter oppas dat ons nie gratis visstokke uitdeel en mense daarmee leer visvang nie, want dan is hulle afhanklik van die gratis visstokke. As vandag se visstok breek, is die persoon môre terug om ’n nuwe visstok te vra.
“Wat ons mense moet leer, is die stappe wat hulle moet doen om hul eie visstok te bekom en dit dan te benut om welvaart te skep. So ’n persoon is daarna nooit weer van iemand afhanklik nie.
“Welvaart kan nie verdeel word nie; dit kan nie eens geërf word nie. Dit is ’n denkwyse. Dit is die gans wat die goue eiers lê en nie die goue eiers nie. Die kapitaal van welvaart, die goue eiers, kan verdeel en geërf word, maar welvaart kan net geskep word.
“Dit is hoekom soveel tweede en derde geslagte uitboer op plase, of hoekom meer as die helfte van Forbes se lys van die rykste mense ter wêreld mense is wat hulself opgewerk het en nie die geld geërf het nie.”
CT sê hy besef almal is nie entrepreneurs nie en dat party mense verkies om lewenslank by ’n maatskappy of boerdery te werk. Vir hom is die ideale werknemer egter iemand wat 10 tot 20 jaar by ’n plek werk en dan aanbeweeg om sy of haar eie besigheid op die been te bring.
Dus word na die plaasbestuurders by AL 3 as boere verwys en word hul plase as vennootskappe bestuur. Elkeen boer dus vir sy eie deel van die wins en dié model word sover moontlik tot op grondvlak toegepas.
BEWARINGSBOERDERY
Boere se eerste verantwoordelikheid is teenoor die grond. Om by AL 3 volhoubaar met alle produkte vir toekomstige geslagte te boer, verg fyn beplanning.
By die kommersiële aanplantings moet lande drie tot vier jaar rus voor hulle weer aartappels kan plant. Die lande vir die moere rus sewe tot agt jaar lank. Dit is om die oordrag van grondgedraagde siektes, soos
bruinskurf en antraknose, te voorkom.
Hoewel Dendron se grond nie soveel aalwurmprobleme het soos ander dele van Suid-Afrika nie, is die siektes wat deur plantluise oorgedra word ’n risiko. Ernest sê dit is belangrik om baie skoon te werk met werktuie.
Hulle doen gereeld blaarontledings en op grond daarvan word’ n eiesoortige bespuitingsen bemesting s program vir elk elande ry uitgewerk.
“Die produkte wat ons gebruik, is meestal self gemeng vir bemesting en baie is met die samewerking van Soiltech, ’n biologiese boerdery-konsultasie maatskappy. Vir bespuiting gebruik ons generiese produkte. Daar is dus geen toweroplossing nie.”
CT sê AL 3 het al tien jaar gelede begin kyk na die stelselmatige afname in oesopbrengste ten spyte van die jaarlikse konvensionele kunsmis toediening. Hulle het maniere begin soek om produktiwiteit te verbeter en dit het hulle by die Albrecht-stelsel vir grondvrugbaarheid uitgebring.
Talle van AL 3 se boere het kursusse bygewoon waar hulle meer oor die Al b re c h t bestuurstelsel geleer hete n hulle voorgeneem om meer biologiese n natuur vriendelik te begin boer.
Die Albrecht-stelsel is gebaseer op dr. William Albrecht se navorsing wat in die 1960’s al gewys het dat grondvrugbaarheid afhang van die optimale chemiese samestelling van elemente in die grond. Die chemie bepaal die fisiese struktuur en dit het weer ’n regstreekse invloed op die omgewing vir die biologiese prosesse in die grond.
Die Albrecht-stelsel behels dus ’n spesifieke reeks toetse wat die grond se mineraalinhoud vasstel en dan bepaal watter chemiese aanpassings vir ’n spesifieke grondtipe gemaak moet word.
Albrecht het bewys hoe meer die chemie, fisika en biologie in grond in die regte rigting beïnvloed word, hoe beter word die opbrengs en gehalte van gewasse wat op die grond verbou word.
AL 3 se beter uitpakpersentasie s getuig van die sukses van dié stelsel. Verlede jaar het hulle ernstig na die mikrobiologie van hul grond gekyk en net twee derdes van die gewone hoeveelheid stikstof toegedien, die helfte van die kalium en fosfaat – en ’n baie beter oes as in die verlede behaal, met 63% van die AL 3-handelsmerk se hoogste graad aartappels. Die vorige gemiddelde was 45%.
Benewens grondbewaring en -voorbereiding het hulle ook ander interessante maniere gekry om hul aanplantings vir optimale oeste te doen. Hulle het byvoorbeeld ’n skoen vir hul planter gebou wat aartappels in verspringende rye plant sodat dit nie ’n reguit lyn vorm nie. Dié plantmetode gee vir hulle meer mediumgroot aartappels, want daar is minder mededinging tussen plante. Hulle plant vier rye per bedding op beddings wat twee meter wyd is.
Diep ploegpraktykte is laat vaar om grondlae te behou. Die opbou van humus en organiese materiaal word met die byvoeg van kompos bevorder. Dekgewasse word ook gebruik om die grond te help beskerm en die afname in die koolstofinhoud te beperk. Hulle gebruik hoofsaaklik sorghum as dekgewas.
“Ons het ook begin om ons eie kompos te maak. Ons koop plaaslik kraalmis en kry houtkapsels van steenmakerye of saagmeulens af. Geen beweiding word op ruslande toegelaat nie as ’n manier om grondverdigting en verdigtingslae teen te werk.”
AL 3 Boerdery beplant eintlik ’n baie klein persentasie van sy grond elke jaar omdat dit vir hulle so belangrik is om grondwater te bewaar. Mnr. Klaas Grobler, die pla asse watervoorsiening s bestuurder, lê heeltyd klem daarop om die boerdery se waterbronne so volhoubaar moontlik te bestuur. “Ons wil oor 50 jaar steeds boer. Ons kan nie roofbou toepas nie,” sê CT.
MEER AS AARTAPPELS
AL 3 Boerdery is dalk bekend om sy aartappels, maar die boerdery spog ook met ’n kommersiële kudde van nagenoeg 2 000 Bonsmaras. AL 3 verskaf kalwers aan etlike voerkrale in Limpopo, maar oorweeg om die vermoë in die boerdery te skep om die diere self te voer wanneer dit nodig is.
Hoewel CT nog te veel potensiaal in Suid-Afrika raaksien om nou al oor die land se grense te begin loer, skakel hy nie die moontlikheid uit om later in Afrika uit te brei nie. Hy wil egter eers seker maak hul boerdery bereik sy volle potensiaal op eie bodem. Hy is byvoorbeeld besig om proewe te doen met draak vrug aanplantings in die Waterpoort-omgewing waardeur hy hoop om die boerdery teen prysskommelings op die plaaslike aartappelmark te verskans.
CT sê sy belangrikste klem is egter op die plaaslike waardeketting. Hy is selfs optimisties daaroor dat ál meer boere op uitvoermarkte begin klem lê, want, sê hy, dit bring mee dat hulle minder klem lê op die plaaslike mark. Daarin sien hy ’n kans vir ’n groter plaaslike markaandeel vir AL 3. *In episode 23 van Landbouweekliks (12 Junie) val die kollig op AL 3 Boerdery.