Landbouweekblad

Ontploffin­g verwag in avo-bedryf

- — LUCILLE BOTHA

DIE nuwe Wêreldavok­ado-organisasi­e (WAO) maak solank seker daar is ’n maklike pad mark toe vir die groot volumes avokado’s wat binne die volgende paar jaar die rakke gaan tref.

Mnr. Zac Bard, besturende direkteur van Westfalia en ondervoors­itter van die WAO, het op Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes gesê die organisasi­e wil die bemarking van avokado’s oor die hele wêreld, maar veral in Europa, tot nuwe hoogtes voer. Die promosiema­atskappy MSL het namens die WAO ’n kenteken en die slagspreuk “Avocado – fruit of life” geskep. Dit pryk nou oral in die strate, winkels en in koerante en tydskrifte in Brittanje, Frankryk en Duitsland.

“Avokado’s moet ’n internasio­nale handelsmer­k raak, byna soos Coke of Nike. Ons probeer die mark gereed maak vir die groot volumes avokado’s wat op pad is.”

Twee jaar gelede is sowat 5,2 miljard kg avokado’s wêreldwyd gelewer. Die verbruik van avokado’s groei met sowat 4,6% per jaar.

Bard sê avokado’s word al 75 jaar lank in Suid-Afrika verbou. In die 1980’s het Suid-Afrikaanse uitvoer begin toeneem en die volume het die mark laat ineenstort. Kort daarna het Peru ook avokado’s begin uitvoer, wat ’n krisis vir avokadoboe­re meegebring het. Sedertdien het dinge verander, onder meer danksy generiese bemarking en ’n groter bewusmakin­g oor die gesondheid­svoordele wat avokado’s bied.

Wêreldwyd het avokodo-aanplantin­gs met rasse skrede uitgebrei. Dié boorde sal oor die volgende paar jaar in drag kom, wat die volume avokado’s op die mark aansienlik sal verhoog.

“Namate die volumes meer raak, het die prys ook toegeneem. So iets gebeur nie aldag in die landbou nie,” het Bard gesê.

‘VOEL ASOF GROEI ONTPLOF’

Amerika en Europa is tans die markte wat die vinnigste groei. Luidens die WAO se webwerf het Europeërs in 2016 meer as 410 miljoen kg avokado’s geëet. Die verbruik sal dalk vanjaar met 20% styg tot 480 miljoen kg.

“Europa is op een na die grootste verbruiker van avokado’s. Dit voel vir ons asof die groei ontplof, maar dis selfs beter in Amerika, waar daar groter voorraad uit Mexiko beskikbaar is en meer geld aan gesondheid­snavorsing oor avokado’s bestee word.”

Volgens Bard was hul begroting nie voldoende om vanjaar in China, Hongkong en Japan bewusmakin­g te skep nie, maar dit word vir die toekoms beoog.

“Vyf jaar gelede het Asië nie avokado’s geken nie en nou is die verbruik al by duisende ton. Asië het wakker geskrik ten opsigte van avokado’s.”

BEMARKINGS­VELDTOG

Navorsing toon verbruiker­s is min gepla oor waar hul avokado’s vandaan kom. Daarom het die WAO besluit om hom op generiese bemarking toe te spits om verbruik aan te wakker. Busse en taxi’s in Londen en trems in Amsterdam is groen geverf en met avokadobem­arkingsmat­eriaal bedek, plakkate is by busstasies aangebring en ’n e-resepteboe­k in drie tale is ontwikkel.

Daar was ook ’n groot klem op sosiale media en kleinhande­lprogramme. Die Franse kleinhande­laar Carrefour se webwerf het ’n tyd lank ’n nuwe avokado-gedrewe voorkoms gehad en in sy TVen radio-afdeling is inligting oor avokado’s uitgesaai.

Die veldtog is gefinansie­r deur heffings (€0,20 per kg) wat die WAO se lede betaal. Só is ongeveer €2,5 miljoen ingesamel om avokado’s vooraan in verbruiker­s se gedagtes te plaas.

“Binne ’n kort tydjie en met betreklik min geld het ons ’n groot invloed op avokadover­bruik gehad. As ons nuwe verbruiker­s kan lok of mense wat reeds avokado’s eet sover kan kry om meer te eet, is ons suksesvol.”

Die WAO is in 2016 gestig en verteenwoo­rdig sowat 120 van die wêreld se grootste avokadopro­dusente, -uitvoerder­s en -invoerders, onder meer uit Mexiko, Peru, Suid-Afrika en Amerika.

 ?? FOTO: WWW.THEDRUM.COM ?? Een van die busse in Londen wat groen geverf en met avokadobem­arkingsmat­eriaal versier is.
FOTO: WWW.THEDRUM.COM Een van die busse in Londen wat groen geverf en met avokadobem­arkingsmat­eriaal versier is.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa